Skip to content
Nic And Ilse2

Oom Koos Lötter se boek postuum bekend gestel

Die legendariese hortoloog  Koos Lötter se boek: Die beginsels van wondgenesing en oorwerk van vrugtebome is Dinsdagaand tydens die Hortgro Toekennings 2023 bekend gestel.

“Oom Koos” soos hy algemeen bekend was, is op 29 Oktober 2019 op die ouderdom van 92 jaar oorlede, etlike maande nadat hy die eerste ontvanger van die Hortgro 1662 Bedryfstoekenning was.

Dr. Ilse Trautmann, adjunk-direkteur-generaal van Landbou-Navorsing en Regulatoriese Dienste by die Wes-Kaapse Departement Landbou, het tydens die bekendstelling Dinsdagaand op Stellenbosch vertel hoe Oom Koos die oorspronklike boek, wat hy self gedruk en gebind het, vir haar gegee het tydens die geleentheid in 2019 met die woorde: “Maak daarmee soos jy goed dink.”

Trautmann het die bedryf genader en daar is besluit om die boek op te dateer en modern uit te lê met befondsing van die Departement. “Die skrywer Anna Mouton en bladuitlegkunstenaar Megan Merifield het uitstekende werk gedoen,” het Trautmann gesê. “Die resultaat is ’n modern handleiding in Engels en in Afrikaans wat van groot waarde vir die bedryf gaan wees.”

Produsente wat belangstel in die boek kan info@hortgro.co.za nader. Dit is gratis beskikbaar.

Die Engelse weergawe is beskikbaar met die titel: Principles of wound healing and top-working in fruit trees.

Onderskrif: Dr. Ilse Trautmann oorhandig die boek aan Nicholas Dicey, die Hortgro Voorsitter, wat dit namens die bedryf ontvang.

Back To Top