Skip to content
202308 Hortgro News Bedryfsleiers Ceres Jaco Bruwer

Jong bedryfsleier — Jaco Bruwer

Deur Anna Mouton

Jaco Bruwer se eerste ervaring van die vrugtebedryf was met skoolvakansies op sy oupa se sitrus- en druiweplaas in Montagu. Hortologie is sy voorliefde en hy het na afloop van sy studies op Elsenburg aanvanklik met wyndruiwe en steenvrugte gewerk.

Hy het by die bedryfleierskapprogram ingeskakel terwyl hy ’n produksiebestuurder by Cerasus Boerdery op Ladismith was. Cerasus het sowat 90 hektaar steenvrugte.

Vanaf Junie 2023 is hy ’n produksiebestuurder by die Karsten Groep se Hoogland Landgoed in die Bo-Swaarmoed omgewing. Hoogland beslaan ongeveer 160 hektaar appels, 20 hektaar kersies, en 4 hektaar pruime.

Q. Wat was jou ervaring van die Hortgro bedryfleierskapprogram

A. Die kandidate was die perfekte groep ten opsigte van die verskeidenheid mense – hetsy uit bemarking of logistiek of produksie. Almal kyk uit ’n ander oogpunt na ’n situasie en na probleemoplossing.

Ek is opgewonde oor ons oorsese besoek en wat ons daaruit kan leer. ’n Mens is so geïnspireerd as jy terugkom – ek wil onmiddellik begin om alles wat ek gaan sien en gaan leer te implementeer.

Wat my ook opgeval het is die moeite wat Hortgro agter die skerms doen. Dit is baie keer sulke sensitiewe besprekings dat dit konfidensieel gehou moet word. Dit was goed om die blootstelling te kry en te weet hoeveel werk ingaan om verhoudings te bou en die industrie te verteenwoordig. Goeie verhoudings is van uiterse belang – ons leer by mekaar.

Wanneer ek nou byvoorbeeld rondom ’n braaivleisvuur gaan staan waar ons begin gesels oor hierdie tipe goed, dan kan ek positiewe terugvoer oor Hortgro deurgee. Almal is nie op die oomblik noodwendig optimisties nie, so dit help om bietjie positiwiteit te bring.

Mens moet realisties wees as jy die goed wat rondom jou gebeur in ag neem maar ek dink nie vrugteprodusente is konstant negatief nie – as ons nie optimisties is en kan planne maak nie, is ons in die verkeerde bedryf

Q. Wat geniet jy omtrent landbou?

A. Ek hou daarvan om bietjie onder druk te wees. Jy leer jouself vinnig ken en jy groei uit die besluite wat jy maak. Ek dink landbou is nie vir elke persoon nie. Dit is ’n uitdagende bedryf en jy gaan getoets word, maar dit is verseker ’n lonende loopbaan.

In terme van lonend verwys ek na die hele plaas as ’n gemene kultuur. Kan jy beter na jou mense kyk? Kan jy beter geleenthede skep vir die mense in die gemeenskap? Kan jy vir hulle ’n verskil maak?

As almal kan bou op dit wat die plaas lewer, dan is daar vooruitgang. As almal saamwerk en vooruitstrewend is, dan trek almal voordeel daaruit. So dit is wat ek voel is lonend. En ek verwys hier selfs na die bemarkers en al die mense wat moeite doen van die plaas se hekke af tot by die hawens, en van die hawens af tot by die mark – daar is so baie skakels in die ketting.

Landbou is hoë risiko, maar solank mens jou deel reg doen en jy jouself 100% insit – met ’n positiewe ingesteldheid, produktiewe tydbestuur en effektiewe besluitneming – sal jy die vrugte pluk.

Back To Top