Skip to content
Sewis Van Der Horst (2)

SEWIS VAN DER HORST AANGEWYS AS NUWE CULDEVCO DIREKTEUR

Deur Elise-Marie Steenkamp

Bekroonde kernvrugboer van Villiersdorp, Sewis van der Horst, is aangestel as nuwe direkteur op die Culdevco-direksie. Van der Horst, wat in 2019 die Toyota Nuwe Toetreder kompetisie vir jong boere gewen het,  dien ook op die raad van  SAPO Trust en die produsenteraad van Hortgro Pome.

Dr. Leon von Mollendorff, Culdevco bestuurder, het gesê dit is ‘n groot eer om Van der Horst op die raad te verwelkom aangesien hy kundigheid en perspektief bring, wat hoog aangeslaan word.

“Culdevco behoort aan die sagtevrugte produsente van Suid-Afrika en ons streef daarna dat  produsente besluite neem, veral wanneer dit oor die volhoubaarheid en winsgewendheid van nuwe en belowende sagtevrugtekultivars gaan.   Daarom is ‘n leierprodusent soos Van der Horst se insette ontsettend waardevol,” het Von Mollendorff gesê.

Volgens Van der Horst is dit vir hom ‘n groot eer om in bedryfstrukture te dien. “Ek het ’n passie vir landbou. Ontwikkeling binne landbou lê my na aan die hart. Ek is bevoorreg om oor die jare heen by kommersiële boerdery betrokke te kon wees en ek dra graag my landbou kennis en vaardighede aan andere oor.”

“Die agterstand van nuwe toetreders moet deur innoverende bestuurstelsels en produksiepraktyke uitgewis word. Tegnologie-oordrag, die oordrag van kennis en vaardighede, asook die kennis om die regte variëteite in die regte produksiestreke te plant, kan sukses vir almal in die bedryf verseker. Die vrugtebedryf benodig objektiewe denkers wat sinvolle bydraes kan lewer. Ek sien myself as deel van die groter bedryf en daarom neem ek deel aan bedryfstrukture en gesprekke wat sukses in landbou kweek.”

Van der Horst word as vrugteboer dikwels uitgesonder vir die vinnige opgang wat hy in ’n uitdagende en mededingende bedryf gemaak het. Tans verbou hy sowat 30 hektaar appels en ongeveer 12 hektaar pere op sy plaas Loufontein net buite Villiersdorp, maar beplan om vanjaar nog ses hektaar pruime aan te plant. “Die area is uiters geskik vir steenvrugte en hoewel die plaas in ‘n hervestigingsfase is, is die doel om ’n verdere 65 hektaar binne die volgende sewe tot tien jaar in produksie te hê.”

Volgens Von Mollendorff sal Van der Horst Hortgro Pome binne die Culdevco-direksie verteenwoordig, “hoewel hy ook kundige insette op ander vrugsoorte sal kan lewer”.

“Culdevco sien daarna  uit om hom amptelik, einde Februarie 2021, by die raad te verwelkom,” het hy gesê.

 

  • Culdevco (Ltd) Beperk bestaan uit vyf aandeelhouers naamlik, Hortgro Stone, Hortgro Pome, Inmaakprodusentevereniging, S.A. Tafeldruifbedryf en Raisins S.A.
Back To Top