
Agri’s Got Talent 2025 – Landbou plaas hoop, trots en waardigheid in die kollig
Stellenbosch – Die finale van Agri’s Got Talent 2025 het Vrydagaand die Boland laat weergalm van trots en emosie, toe tien landbouwerkers van regoor Suid-Afrika hul talente op die verhoog gewys het.
Hierdie unieke sangkompetisie, die enigste van sy soort in die land, bied nie net ’n platform waar landbouwerkers hul musiektalent kan ten toon stel nie, maar gee ook hoop, waardigheid en trots aan landbouwerkers en elke persoon wat in die Landbou werk. Die hoogtepunt was toe Jenedine Jantjies (25) van Patensie in die Oos-Kaap as wenner aangewys is. Jantjies, wat as kinderoppasser by Endulini-sitrusplaas werk, het die beoordelaars en gehoor betower met haar rou talent en prentensielose interpretasies van die liedjies “This is me” en “One and Only”.
Jantjies wat sonder familie of vriende in die gehoor op die verhoog moes klim, het gesê sy wou graag vir die mense by die huis, iets bewys. Hoewel sy aanvanklik nie vir die kompetisie wou inskryf nie, het ’n vriendin haar “geforseer”.
“Ek is mal oor alle musiek en hou nie net van een genre nie,” het Jantjies voor die finale gesê. “My droom is om my eie musiek op te neem en om jongmense in my gemeenskap te inspireer om hul drome na te jaag.” Jantjies glo dat die Here ’n doel met alles het, ook haar lewe. “Daar is ’n rede hoekom ek deel is van hierdie kompetisie, vir die blootstelling en geleentheid om my gemeenskap te verteenwoordig. Ek is
ontsettend dankbaar.”

Clayton Mentoor (27), ’n seisoenale werker in die kernvrugbedryf by Kromco buite Grabouw, het ’n welverdiende tweede plek verower. Mentoor se musikale erfenis loop sterk deur sy are – sy ma, Claudine Fielander, was in 2016 ook deel van die Agri’s Got Talent top-tien.
Die derde plek het aan Mervin Williams (30) van DGB naby Wellington gegaan, wat die wynbedryf met trots verteenwoordig het.
Verder het Sandeline Mouers van Bo-plaas 1743, Simondium, die spesiale toekenning gewen vir die beste uitvoering in ’n inheemse taal wat deur die Afrikaanse Taalraad geborg is. Haar weergawe van “Vergeet my nie” het die gehoor op hul voete gehad.

Volgens Thea van Zyl, projekbestuurder van Agri’s Got Talent, strek die waarde van die kompetisie ver buite die verhoog: “Gedurende die opleidingsweek vertel deelnemers hul stories – dikwels vol hartseer en pyn. Maar die oomblik wanneer hulle besef dat hulle gekies is as deel van die Top-Tien, bring dit hoop. Dit wys vir hulle dat goeie dinge wel kan gebeur, en dat hulle lewens en stemme tel. Hierdie positiwiteit vat hulle weer terug na hulle families en die groter landbougemeenskap.”
Met elke noot en elke storie het die finaliste bewys dat Agri’s Got Talent meer is as ’n kompetisie – dit is ’n viering van mense, hul waardigheid en die krag van musiek in die hart van Suid-Afrikaanse Landbou, meen Van Zyl.

Agri’s Got Talent word geborg deur Hortgro, die Sitrusprodusente-vereniging, die SuidAfrikaanse Tafeldruifbedryf, SA Wine, en die Wes-Kaapse Departement van Landbou, met bykomende ondersteuning van FruitFly Africa en Culdevco.
Hooffoto: Hortgro Pome se voorsitter, Calla du Toit, oorhandig die prys aan Jenedine Jantjies, AGT 2025 se wenner.
Find press release in English here: AGT-Press-release-Jenedine-Wins-AGT-2025-22-Sept-2025-ENGLISH




