Christi van den Heever: Vrugte, pype en respek
Christi Van den Heever (38) is vas oortuig dat Suid-Afrikaanse landbou ’n blink toekoms het. Anna Mouton het 2023 se Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar ontmoet.
Van den Heever het in Namakwaland grootgeword maar reeds op ouderdom sewe sy eerste treë as boer gegee. Hy vertel hoe hy elke dag na skool in sy groentetuin geskoffel het. “Dit het my gefassineer dat jy kraalmis in die grond kon inwerk en groot loofblare kry en groot bete oes. Ek was lief vir tuinmaak en daar het als maar net begin.”
Na skool het hy Landboubestuur by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie studeer voordat hy in 2006 by Graaff Fruit se Romansrivier-plaas in Wolseley begin werk het. Hy is sedert 2018 die produksiebestuurder van Graaff Fruit se Rietfontein-plaas in die Koue Bokkeveld.
Rietfontein het tans 220 hektaar appels, pere, nektariens, en kersies, en ’n addisionele 180 hektaar word beplan. Hulle het ook wingerd, lusern, en beeste, en produseer ongeveer 4 000 bale strooi wat as deklaag in hulle boorde gebruik word.
Mens sou dink dat die dag-tot-dag bestuur van Rietfontein genoeg boerdery vir enigiemand sou wees maar Van den Heever se passie spoel na sy stokperdjies oor. Hy het nog steeds ’n groentetuin en sy huidige projek is die kweek van ’n reusagtige pampoen.
“Hierdie is die eerste jaar wat ek dit probeer. Volgende jaar gaan ek nou rêrig groot gaan,” sê hy. Deel daarvan is dat hy sy pampoen vir die nasionale kompetisie wil inskryf maar dit gaan ook oor ’n gebore landbouer se dryf om plante en produksietegnieke te verstaan.
Lesse uit sy eerste boord
Van den Heever het op ouderdom 22 sy eerste boord op Romansrivier geplant – Alaska Red nektariens op swaar klipgronde. Die besproeiingspype moes in ’n sandlaag gelê word sodat die klippe nie die pype stukkend steek nie. Van den Heever onthou hoe hy gesukkel het met konneksies wat losgekom het en pype weer met die hand moes uitgrawe totdat sy vingers gebloei het.
“Ek het uit Namakwaland gekom en nooit blootstelling gehad om te leer besproei nie,” sê hy. “Al pyp wat ek geken het, was die pyp wat my oupa gerook het.”
Van den Heever se eerste boord is nog steeds op Romansrivier. Hy reken dat een van die belonings van landbou is om te kan terugkyk en sien wat mens gedoen het. “Dis vir my so ongelooflik om ’n boord te plant en dit netjies te doen, want jy kry net eenkeer die kans om alles mooi reg te doen.”
Deesdae vestig Van den Heever nie meer self boorde nie maar bly steeds 100% betrokke by die beplanning en ontwerp, sowel as die keuse van onderstam en kultivar.
Sy bestuurders beoefen steeds sy benadering tot netheid. “Vandag kan ons nie meer bekostig om hond en haar te boer nie,” sê Van den Heever. “’n Boerdery is ’n besigheid en hoe netjieser jou besigheid is – hoe meer dissipline en orde daar is – hoe meer suksesvol kan jy wees.”
Behandel almal met respek
Goeie menseverhoudings is volgens Van den Heever die sleutel tot sukses in landbou. “Ons oes oor die 13 500 ton appels op Rietfontein. Jy het jou mense nodig om dit te pluk,” sê hy. “En as jou mense agter jou is, dan kry jy appels sonder kneusings en beserings.”
Hy het aanvanklik op Romansrivier stelsels in plek begin sit om verliese weens vrugte op die boordvloer te verminder deur plukkers te motiveer om versigtiger te werk. Een komponent was om vir hulle die waarde van elke verlore vrug te verduidelik. Daarby het plukkers bonusse gekry as hulle kwaliteitsdoelwitte behaal het.
By Rietfontein word plukkers die minimumloon betaal indien hulle ’n sekere aantal kratte op ’n minimumstandaard pluk. Maar hulle kan aansienlik meer per krat verdien as die vrugte aan hoër kwaliteitstandaarde voldoen. En hulle verdien ook ekstra vir ekstra kratte gepluk.
“Ek het vir ses jaar hierdie stelsel by die appels en dit werk uitstekend,” berig Van den Heever. “Dit maak my ongelooflik trots om elke dag die kwaliteit te sien. Die ouens werk hard om daar te kom want dis ’n geleentheid om meer geld te verdien.”
Geld is egter geensins alles nie. Van den Heever glo daarin om alle mense met respek te behandel. “Hanteer mense menswaardig soos wat jy hanteer wil wees. Vat mense se hande. Wees sag op mense maar hard op jou standaarde. Dan kom jy bo uit want mense maak jou suksesvol.”
Een van sy reëls is dat hy almal dieselfde hanteer en almal groet wie hy raakloop – al beteken dit soms dat hy iemand drie of vier keer op ’n dag groet!
Belê in môre se leiers
As Jongboer van die Jaar word Van den Heever dikwels gevra of hy dink dat landbou ’n goeie loopbaankeuse vir jong mense is. “Die vraag is eintlik, wil jy eet?” reageer hy. “Jy moet drie keer ’n dag eet en iemand moet die kos produseer, so ons gaan altyd landbouers nodig hê.”
Hy wys daarop dat Suid-Afrika slegs ongeveer 42 000 landbouers het wat ons bevolking van meer as 60 miljoen moet voed. Daarmee saam verlaat baie mense die platteland en trek stede toe.
“As ons almal wil eet, moet ons landbouers kweek,” sê hy. “Ons moet mense kry wat in ons spore kan volg – ons moet mense opbou.”
Van den Heever kry jaarliks studente in wat hulle prakties by Rietfontein doen en het ’n woonstel gebou om hulle te huisves. Hy moedig ander produsente sterk aan om ook hulle hand uit te steek om jong mense blootstelling aan landbou te gee. “As ons nie vir jong mense geleenthede gaan gee nie, waarheen gaan ons met landbou?” vra hy.
Hy is ook by die plaaslike Skurweberg Sekondêre Skool betrokke en neem die ouer leerlinge op uitstappies na verskillende plase sodat hulle sien hoe byvoorbeeld groente en vrugte geoes en nette opgerig word.
“Ek self het nie van ’n plaas af gekom nie,” sê Van den Heever. “Ek het by boere geleenthede gekry om vakansietye op plase te werk en vandag kan ek sê ek is ’n suksesvolle boer, so ek ploeg terug in mense.”
Plek vir almal in Suid-Afrika
Landbou in Suid-Afrika is vandag uitdagend, en soos baie produsente is Van den Heever bekommerd oor stygende kostes en stagnerende pryse. Maar hy is oortuig dat landbou die fondasie van enige land is, en dat landbouers se bydra onmisbaar is.
“Ek dink die afgelope paar jaar het mense begin om landbouers te waardeer,” sê hy. “In Covid-tyd het hulle gevoel hoe voel winkelrakke wat nie brood en melk op het nie. Hulle kon sien hoe dit sou wees as ons nie landbouers het nie.”
Alhoewel Van den Heever ook soms moedeloos raak oor die toestand van ons infrastruktuur, is hy nietemin baie positief oor Suid-Afrika. “Ek dink hier’s ongelooflike geleenthede in Suid-Afrika,” sê hy. “Ons kan alles produseer omdat ons ’n koue stroom aan die een kant en ’n warm stroom aan die ander kant het, en ons kan van seevlak tot 2 000 meter bo seespieël produseer.”
Hy reken dat Suid-Afrika genoeg natuurlike hulpbronne het as dit net reg bestuur word. “Daar’s plek vir ons almal – hierdie land kan almal huisves. Ons moet die verlede wat ons aftrek agter ons sit en die land vorentoe vat.
“Suid-Afrika is ’n unieke land. Ons moet benut wat ons het en hierdie land in ’n ander liga kry.”