Skip to content
Untitled

Jong leiers in die Langkloof

Ontmoet twee van die nuwe generasie produsente wat Hortgro se bedryfsleierskapprogram voltooi het. Wilhelm Loock (links) en Kosie Zondagh

Hortgro het die bedryfsleierskapprogram in 2022 geloods om jong mense in die sagtevrugtebedryf as toekomstige bedryfsleiers te help toerus deur hulle aan bedryfstrukture en -programme bloot te stel. In hierdie artikel gesels deelnemers uit die Langkloof oor hulle ervarings in landbou.

Wilhelm Loock

Wilhelm Loock is die vierde generasie op hulle familieplaas JJ Loock Ongelegen naby Haarlem. Hulle het ongeveer 70 hektaar sagtevrugte waarvan 70% appels, 15% pere en 15% perskes is, en hulle pak self. Daarby het Ongelegen Rooi Angus-stoetbeeste en Loock beplan om verder te diversifiseer deur groente te plant.

Loock het aanvanklik na skool by Stellenbosch studeer. Hy het eers vir Maties en toe vir die Pumas rugby gespeel. Hy het in 2014 teruggekeer na die Langkloof as produksiebestuurder vir J Baldie and Sons. Sedert 2017 is hy die produksiebestuurder op JJ Loock Ongelegen.

Q. Het jy altyd geweet jy wil boer?

Ek het altyd daarvan gehou. Waar die ander kinders see of wildtuin toe gegaan het op vakansie, het ons van kleins af op die plaas gewerk.

My pa het ons laat hard werk maar ek dink dit het jou geleer om aan te hou en vas te byt. En nou weet jy waaroor dit gaan as jy vir die mense werk gee – jy weet darem hoe dit voel en wat dit verg om die daaglikse take op die plaas te verrig.

Q. Wat geniet jy omtrent landbou?

Dis lekker om te sien hoe iets groei – om ’n boord te plant en op die einde van die dag te oes. Dis bevredigend om deel van die hele proses vanaf grondvoorbereiding tot eindproduk te wees.

Ek geniet dit ook om met die mense te werk. En dat daar so baie verskillende afdelings is: besproeiing, bemesting, snoei, uitdun, oes, nette, ensovoorts. Dis nooit vervelig nie want daar is altyd iets nuuts. En elke seisoen is anders.

Dit voel vir my dat die vorige generasies die pionierswerk hier gedoen het, soos om die damme op die plaas te bou. Hulle het daai tyd al gedink om damme hoog teen die berg te bou sodat meeste van ons water onder gravitasie druk is.

Hulle het begin met vrugte en toe plant my pa meer vrugte want hy sien dis waarheen hierdie area gaan. Hy het die pakhuis en koelkamer opgesit, en nuwe kultivars geplant. En nou vat ek en my broer dit verder – ons wil dit beter los as wat ons dit gekry het.

Q. Wat is jou grootste bekommernisse?

Die onsekerheid van die markte, want jy kan die beste produk hê maar jy weet nie altyd of daar plek is vir die vrugte nie. En die probleme met die hawens. Op die plaas het jy beheer oor wat jy doen maar oor hawens en markte het jy nie beheer nie.

’n Ander uitdaging is die produksiekostes wat vreeslik opgegaan het. Mens kry meestal dieselfde prys vir jou vrugte maar jou kostes gaan net op en jy kan net soveel sny. Ons grootste kostes is lone, elektrisiteit en brandstof.

Daar is wel goed wat mens kan doen, soos om nuwe tegnologie soos sonkrag en nette te gebruik. Ons het aan die begin van 2023 sonpanele op die pakhuis en koelkamer se dak gesit. Ons het nog nie batterye nie – ekstra krag gaan terug in die lyn in en ons kry ’n krediet by Eskom.

Ons kan nie stagneer nie. Mens moet oop wees vir nuwe idees en kyk hoe jy dit in jou besigheid kan toepas. Dit is darem lekker dat daar die heeltyd navorsing gedoen word en nuwe idees vorendag kom.

Q. Hoe is Ongelegen besig om aan te pas?

Dit is nou die tweede jaar wat ons drapeernette het. Ons leer nog baie. Byvoorbeeld, die bome groei baie geil onder die nette, so ons saag nou meer takke in die winter uit. Die nette is vir hael en sonbrand, en dit help met windskade. Ons het klaar gesien dat ons met die nette 80%–90% uitpakke kry, in plaas van 60%–70%.

Nette betaal hulself vinnig af – as jy hael kry, is die net basies klaar betaal. En jy hoef nie meer oesversekering uit te neem nie.

Ons plant ook meer bome op ’n hektaar, en probeer die nuutste variëteite met gepaste onderstamme plant. En ons plant met ’n ordentlike opleistelsel om sodoende vinniger in produksie te kom. Die strukture moet ook nette kan ondersteun, veral tydens sterk wind wanneer die nette opgerol is.

Ons hersien jaarliks alle blokke en as ’n boord nie die gewenste inkomste inbring nie, moet dit vervang word. Ons kan nie meer boorde hou net om mense besig te hou nie.

Kosie Zondagh

Kosie Zondagh is die tiende generasie van die Zondagh’s naby Avontuur. Hy vertel dat die eerste Zondagh ’n soldaat in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie by die kasteel in Kaapstad was, en later grond in die Langkloof bekom het.

Zondagh het aanvanklik by Capespan in Engeland gewerk, waar hy kwaliteitskontrole gedoen het. Hy is sedert 2009 terug op die plaas en is verantwoordelik vir die pakstoor en bemarking.

Matt Zondagh Landgoed se produksie-eenhede beslaan ongeveer 90% appels en 10% pere. Hulle pak hulle eie asook ander produsente se vrugte.

Q. Hoe voel dit om die tiende generasie op julle plaas te wees?

Hierso is baie geskiedenis waarop mens trots is. En die druk is op jou om nie die laaste generasie te wees nie.

Ons is almal net rentmeesters – mens is net vir ’n tydjie hier en jy is nie onvervangbaar nie. Hier was ’n plaas voor my en ek hoop hier’s nog ’n plaas na my. Ek pas dit net op vir die volgende mense en ek is dankbaar vir wat die voriges vir my gelos het. En ek moet aanbou en die plek beter probeer los as wat ek dit gekry het.

Q. Wat is maniere waarop ons bedryf kan verbeter?

Ons het baie goeie kultivars in Suid-Afrika, maar ek dink Suid-Afrika moet sy appelkultivar hê wat gesog is. Dit hoef nie uniek te wees aan ons nie maar dit moet goed aard by ons sodat ons bekend is daarvoor.

Ek dink ons bedryf het ’n groot kopskuif gemaak – ons fokus baie meer om die beste produk daar buite te kry. Ons moenie met mekaar kompeteer in die land nie. Ons moet saamwerk want ons kompetisie is in die buiteland, so ons moet ons produk die heeltyd bevorder en verbeter.

Nadat ek van oorsee af teruggekom het, is ek baie kwaliteitgefokus. Alle produksie-eenhede het mos ’n PUC nommer. Die kopers oorsee weet nie wie jy is nie maar hulle ken jou nommer. Dis altyd lekker as iemand spesifiek jou nommer soek omdat hulle met die produk tevrede is. Ons moet as bedryf streef om ons produk op dieselfde manier meer gesog as dié van ons oorsese kompetisie te maak in die uitvoermarkte.

Ons moet meer kennis deel want kennis is maar soos geld – jy gaan dit nie saamvat hemel toe wanneer jy doodgaan nie, so jy moet dit eintlik deel. Dit help nie jy hou dit net vir jouself nie.

Q. Wat het jy uit die Hortgro Bedryfsleierskapprogram geleer?

Hortgro doen baie vir die bedryf. Hulle maak dit vir ons moontlik om net aan te gaan met ons eie besighede. Daar is soveel dinge wat hulle agter die skerms doen waarvan mens nie eers weet nie. Byvoorbeeld, Hortgro doen baie werk om markte vir ons oop te maak en oop te hou.

Dit was vir my ook inspirerend gewees om saam met Oom Anton [Rabe], Prof. Wiehann [Steyn] en Stephen [Rabe] te sit. Hulle praat en jy luister want hulle het baie kennis om te deel. Maar as jy praat dan luister hulle ook.

As jy jonk is voel dit partykeer jy word nie gehoor nie, so dit was lekker gewees dat hulle vir ons vra hoe dink ons oor goed en hoe dink ons dinge kan werk.

Q. Sou jy jong mense aanraai om ’n loopbaan in landbou te volg?

Dis ’n moeilike loopbaan maar dis nog steeds lekker. Ek is ’n mens mens en daar’s lekker mense in ons bedryf.

Daar’s altyd iets om te doen. Dis nooit oninteressant op die plaas nie. Behalwe as jy nou al vier weke Grannies pak – dan raak dit bietjie eentonig en jy wil net hê dit moet klaarmaak!

Elke dag is anders. Elke seisoen is anders. Dieselfde resep werk nie altyd nie so jy moenie op jou gemak raak nie. Behalwe vir die groot uitdagings daarbuite is daar nog baie ander klein uitdagings elke dag.

Partykeer kan jy alles reg doen maar die eindresultaat is nie altyd in jou hande nie. Jy kan jou nerf afwerk en net so, in een middag, verloor jy alles. So jy moet ’n taamlike sterk geesteslewe hê sodat jy positief kan bly.

As dit sleg gaan, moet jy net lank genoeg kan uithou tot die volgende goeie ding gebeur. Jy moet geloof hê, maar jy moet ook jou kant bring. Jy moenie dink iemand anders gaan dit doen nie.

Back To Top