Skip to content
Boomsensus Span2

Boomsensus: die ruggraat van die sagtevrugtebedryf

This content is Copyright protected. Please see Hortgro’s Information Disclaimer.

Elke jaar, wanneer produsente ‘n versoek van Hortgro ontvang om hul inligting vir die boomsensus te deel, is daar dié wat mor. Min besef egter hoe krities hierdie inligting werklik vir die ekonomiese voortbestaan van die bedryf is. Elise-Marie Steenkamp het gaan ondersoek instel.

Mariette Kotzé, algemene bestuurder van bedryfsondersteunende dienste by Hortgro, vertel dat inligtingsopnames reeds sedert 2000 bestaan — lank voor die eerste statutêre maatreëls in 2002 in werking getree het. “Die bedryf en produsente het destyds reeds besef dat ‘n bedryf nie in ‘n gedereguleerde omgewing kan funksioneer sonder ‘n behoorlike inligtingstelsel nie.”

Pieter-Steyn de Wet, wat vandag die boomsensus en die bedryf se jaarlikse statistiekopname bestuur, verduidelik waarom elke blok en elke produsent se inligting saak maak.

Die boomsensus vorm die basis van feitlik alles wat Hortgro doen — van vooruitskattings oor produksie en uitvoervolumes, tot navorsingsprojekte, risikobestuur, strategiese beplanning en kommunikasie, sê De Wet.

“’n Bedryf kan net doeltreffend beplan as dit weet hoe sy produksieprofiel gaan lyk. Die sensus gee ‘n duidelike prentjie van watter vrugsoorte en kultivars aangeplant word, waar en wanneer nuwe boorde gevestig word, watter boorde uitgehaal word, en hoe die ouderdomsverspreiding van boorde verander — ‘n goeie aanduiding van hoe gesond die bedryf werklik is.”

Hierdie inligting stel Hortgro en ander rolspelers in staat om toekomstige produksie te voorspel en betyds strategieë vir uitvoermarkte, logistiek, navorsing en markontwikkeling te ontwikkel. As die sensus byvoorbeeld toon dat groot oppervlaktes nuwe appel- of pruimkultivars aangeplant word, kan die bedryf reeds vandag begin beplan vir die groter volumes wat oor vyf tot tien jaar bemark sal moet word — sodat daar vooruit beplan word, eerder as om eers te reageer wanneer dit te laat is.

Hortgro Statistiekboekie 2025 Jpeg2

Markintelligensie

Volgens De Wet begin markintelligensie by ‘n goeie beeld van toekomstige aanbod. “Deur die boomsensus kan die bedryf redelik akkuraat voorspel hoeveel vrugte in toekomstige jare beskikbaar sal wees, watter kultivars sal toeneem of afneem, en wanneer nuwe produksie op die mark gaan kom.”

Dit help onder meer om toekomstige uitvoervolumes te voorspel, markvensters beter te benut, nuwe uitvoermarkte betyds te ontwikkel, risiko’s van oor- of onderaanbod te identifiseer, en bemarkingsveldtogte beter te beplan. Uitvoerders, bemarkers, pakhuise, produsente en die res van die ketting — insetverskaffers, kwekerye en verpakkingsmateriaalverskaffers ingesluit — kan sodoende besluite op betroubare data neem eerder as op aannames. “Dit versterk die hele bedryf se vermoë om internasionaal mededingend te bly,” sê De Wet.

Navorsing

Navorsing is een van die grootste beleggings wat die bedryf tans maak, en juis omdat dit duur is, moet geld op die regte prioriteite bestee word. Die boomsensus verskaf belangrike inligting oor watter kultivars die vinnigste toe- of afneem, watter onderstamme die meeste gebruik word, waar spesifieke kultivars aangeplant word, hoe produksie na nuwe gebiede verskuif, waar klimaatsuitdagings groter word, en hoe tegnologie soos nette in sekere gebiede of by sekere kultivars toeneem. De Wet wys daarop dat dit ook bydra tot area-wye risikobestuurstelsels vir bio-sekuriteit.

“Hierdie data help om navorsingsprioriteite te bepaal, nuwe kultivars te evalueer en onderstamme te vergelyk. As die sensus byvoorbeeld toon dat ‘n spesifieke onderstam vinnig in gewildheid toeneem, kan navorsing daarop fokus om die langtermynprestasie, siekteweerstand of watergebruik daarvan beter te verstaan.”

Beter data lei tot beter navorsing; beter navorsing lei tot beter besluitneming, en dít dra weer by tot beter opbrengste, kwaliteit en, op die ou end, opbrengs op produsente se heffings.

‘n Sterker stem vir die bedryf

Wanneer Hortgro namens die bedryf met die regering, die Nasionale Landboubemarkingsraad, departemente van Landbou, handelsvennote, uitvoerowerhede of finansiële instellings onderhandel, is geloofwaardige data van kardinale belang.

Volgens De Wet stel betroubare boomsensusdata die bedryf in staat om met vertroue te wys hoe groot dit werklik is, hoeveel mense in diens geneem word, hoe groot die ekonomiese bydrae is, en waar toekomstige groei en beleggings verwag word.

“Hoe akkurater die data, hoe sterker staan die bedryf se saak wanneer daar aan marktoegang, infrastruktuurontwikkeling, navorsingsbefondsing, fitosanitêre maatreëls of beleidsveranderinge gewerk word. Soos die Engelsman sê: “garbage in, garbage out.” Die bedryf is net so geloofwaardig soos die akkuraatheid van sy data — daarom is dit noodsaaklik dat produsente hul boomsensusse korrek voltooi.”

Waardeketting beplanning

Boomsensusdata is nie net waardevol vir produsente nie — dit help die hele waardeketting om vooruit te beplan. Wanneer nuwe aanplantings vandag gedoen word, beteken dit dat groter volumes oor enkele jare geoes, verpak, verkoel, vervoer en uitgevoer sal moet word.

Hierdie inligting ondersteun beplanning by pakhuise wat kapasiteit wil uitbrei, koelkamers wat toekomstige bergingsbehoeftes moet voorsien, uitvoerders wat nuwe markte wil betree, logistieke maatskappye wat vervoervolumes moet beplan, kwekerye wat plantmateriaal moet voorsien, verpakkingsverskaffers wat produksiekapasiteit moet uitbrei — en, nie te vergete nie, die Kaapse hawe, wat uitvoervolumes moet akkommodeer. Wanneer elke skakel in die ketting betyds kan beplan, verminder bottelnekke en funksioneer die bedryf meer doeltreffend, meen De Wet.

Elke blok tel

“Geen produsent is te klein om ‘n verskil te maak nie. Elke nuwe aanplanting, elke blok wat uitgehaal word, en elke kultivar wat verander, dra by tot die groter prentjie van die bedryf,” vertel De Wet.

“Wanneer produsente besluit om nie hul boomsensus te voltooi nie — of dit eenvoudig uitstel — ontstaan daar gapings in die data. Dit kan lei tot verkeerde gevolgtrekkings en minder akkurate beplanning, veral by uitvoervolume-skattings wat vir die bedryf van kardinale belang is. Die waarde van die boomsensus lê juis daarin dat dit die hele bedryf weerspieël: hoe vollediger die deelname, hoe betroubaarder die data, en hoe beter die besluite wat daarop gebaseer word.

Dit is ook belangrik om te beklemtoon dat individuele produsente se data streng vertroulik hanteer word. Resultate word slegs in saamgevoegde formaat gerapporteer, sodat geen individuele produsent of plaas geïdentifiseer kan word nie.”

Mededingende voorsprong

Beide Kotzé en De Wet wys daarop dat die vrugtebedryf toenemend data-gedrewe word, en dat dit vir Hortgro ‘n prioriteit is, om die leisels te neem en die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf aan die voorpunt van hierdie data-revolusie te hou.

Vanaf Oktober, wanneer die nuwe boomsensusseisoen oopgaan, word GIS-kartering van boorde op die sensus beplan. Dit stel die bedryf in staat om peste en plae beter te beheer, temperatuurveranderinge en reënval by boorde in te sluit, waterverbruik te optimaliseer en meer akkurate sensusdata te verskaf. “Met klimaatsverandering as een van die bedryf se grootste uitdagings, gaan akkurate data die bedryf in staat stel om hierdie risiko’s beter te bestuur,” sê De Wet.

Die boomsensus is nie bloot administratiewe rompslomp nie — dit is die feitelike ruggraat waarop die hele sagtevrugtebedryf se toekoms gebou word. Elke produsent wat sy inligting deel, dra by tot ‘n sterker, meer geloofwaardige en beter voorbereide bedryf.

 

Back To Top
error: Content is protected !!