Droëvrugbedryf hou inligtingsdag om volhoubaarheid aan te spreek
Hortgro Dried Tree Fruit (DTF) het op 1 September ’n bedryfsinligtingsdag op Robertson gehou om aan produsente en verwerkers terugvoer te gee oor “waar die bedryf staan en waarheen dit gaan” in afwagting op die komende seisoen. Deur Kara van der Berg.
Dit kom nadat DTF-bestuur in Mei 2022 tydens ’n strategiese sessie die behoefte om ’n bedryfsinligtingsdag te hou, geïdentifiseer het.
“Normaalweg hou DTF en die inmaakbedryf weens gedeelde belange, saam ’n jaarlikse inligtingsdag. Vanjaar wou die bestuur egter net op DTF fokus,” het Karien Bezuidenhout, bestuurder van DTF, gesê. “As deel van die strategiese proses wil ons jonger mense betrek en daarom is almal genooi om te kom deelneem om die bedryf in ’n nuwe rigting te stuur.”
Die droëvrugbedryf is, as gevolg van die aard van droëvrugte, nie so erg deur logistieke probleme getref soos die res die sagtevrugbedryf nie. Tog, was daar ook uitdagings.
Chris Krone, DTF voorsitter, het gesê dat hulle bewus is daarvan dat droëvrugte unieke uitdagings het. “Die uitdagings waarvoor inmaak en vars vrugte te staan gekom het, het ook ’n invloed op ons bedryf gehad.”
Daar is beklemtoon dat die bedryf moet groei om winsgewend te wees. Baie vrugteboorde het weens die droogte in die Karoo in die slag gebly of hektare het minder tonne geproduseer.
“Produksie kan nie minder as 4000 ton raak nie. As dit gebeur gaan ons so klein wees dat ons nie meer ’n bestaansreg gaan het nie,” het Krone gesê. Tog glo hy dat daar is ’n toekoms vir droëvrugtebedryf in Suid-Afrika.
Nina Viljoen, Hortgro se landbou-ekonoom, het uitgewys dat Suid-Afrika nog ’n klein rolspeler in die internasionale droëvrugmark is.
Prof. Johann Kirsten, ’n landbou-ekonoom van die Universiteit van Stellenbosch, het daarop gewys dat wat ook al in die wêreldekonomie gebeur, ’n impak op plaaslike droëvrugte rolspelers het. Globale ekonomiese rigtingaanwysers help ons om die plaaslike bedryf beter te verstaan, het Kirsten gesê.
Kirsten het daarop gewys dat DTF se uitvoere tussen 2012 en 2021 feitlik verdubbel het. Tog is groei-vooruitsigte wêreldwyd besig is om af te neem en logistieke probleme gaan nie oornag verdwyn nie. “Weens Covid was daar wêreldwyd ’n tekort aan vraghouers en skepe wat direk herlei is na inkomste verliese. Dit was nie net vir plaaslike uitvoerders ’n probleem nie, maar ‘n wêreldwye tendens. Ook was dit nie net landbou wat geraak is nie maar ook ander bedrywe.”
Mariëtte Kotzé, groepsoperasionele bestuurder van Hortgro het bygevoeg dat dit nie net Suid Afrikaanse produsente wat tans swaar kry nie, maar dat landbouers wêreldwyd noustrop trek. Kotzé het voorts gesê dat transformasie van die droëvrugbedryf belemmer word deur die komplekse aard van die bedryf en hoë kapitaal insetkostes.
“Ons weet in die droëvrugbedryf is dit moeilik om nuwe mense in te bring,” het Kotzé gesê. “Wanneer ons kyk na ondersteuningsprogramme moet ons ’n verskeidenheid programme ondersoek. Ons moet kyk na opleiding en hoe ons geleenthede kan skep.”
DTF beplan om die droogte herstel en uitbreiding van die bedryf aan transformasie te koppel. Die doel is om in die volgende 10 jaar 100 hektaar by die bedryf te voeg. “Transformasie hou verband met eienaarskap, bestuur en besluitneming. Ons wil ons bedryf verdubbel teen 2050. Dit gaan nie oor hektare nie – dit gaan oor deelname,” het Kotzé gesê.
Jacques du Preez, bestuurder van handel en markte by Hortgro het gepraat oor die bemarking van droëvrugte vir die plaaslike en oorsese mark. “Ons is ’n langtermyn bedryf. Die mark en verbruikers het verander en ons moet aanpas om by te bly. Ons moet kyk na verbruikersgedrag,” het Du Preez gesê.
Droëvrugte as peuselkos kompeteer met baie ander produkte. “Die bedryf moet dus kapitaliseer op gesondheidstendense. Droëvrugte is ’n beter peuselkos as baie ander voedselsoorte. Dit is goeie waarde vir geld en het ‘n lang rakleeftyd.”
Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, het ook gepraat oor die volhoubaarheid van die bedryf. “Volume groei help ons om heffingskostes laag te hou. Derhalwe ondersoek Hortgro bedryfsvolhoubaarheid. Ons moet weet wat produksiekostes is en of produsente oor die volgende paar jaar nog in besigheid gaan wees.”
Rabe het beklemtoon dat Hortgro en DTF se doelwitte nou eenvoudig is, naamlik om as ’n bedryf winsgewend te wees. “Geen bells and whistles nie. Ons sal seker maak dat ons die basiese kwessies aanspreek en dat ons ’n omgewing skep waar julle kan geld maak.”
Onderskrif: Anton Rabe, Johann Kirsten, Karien Bezuidenhout, Jacques du Preez, Nina Viljoen, Mariette Kotzé en Chris Krone.
Presentations
Economic development in the dried fruit industry — Mariette Kotze, Hortgro
Industry statistics, local and international — Nina Viljoen, Hortgro