Skip to content
167a9880

O.S.H. REINECKE BEDRYFSLEIERTOEKENNING 2025 | Marius van der Westhuizen

Marius van der Westhuizen se naam is sinoniem met leierskap, volgehoue diens en onwrikbare toewyding aan die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf. Met ’n loopbaan wat oor drie dekades strek, het hy hom onderskei as boer, bestuurder, bedryfsverteenwoordiger, gemeenskapsleier en vriend. Dit is dan ook met groot waardering dat hy vanjaar die ontvanger van die O.S.H. Reinecke Bedryfsleiertoekenning is.

Marius beskik oor ’n sterk akademiese en professionele agtergrond. Hy het ondermeer ‘n BA in Besigheidsadministrasie aan die Universiteit Stellenbosch, gevolg deur ’n BA Hons in Menslike Hulpbronbestuur aan UNISA. Sy vroeë werkservaring as mannekragkonsultant in die Langkloof gee vir hom goeie begrip van die kompleksiteit van die landbousektor en landbouers.

Sy ervaring as algemene bestuurder by Kritzinger & Seun berei hom voor vir sy volgende uitdaging as uitvoerende hoof van Southern Fruit Farms wat hy in 2005 begin en ’n rol wat hy vandag nog met onderskeiding vervul.

Marius het homself ook intensief in bedryfsorganisasies beywer. Hy dien vanaf 2003 tot 2005 as SASPA-raadslid en van 2013 tot 2018 as SAAPPA-raadslid, en vanaf 2018 tot 2025 as Hortgro Pome-raadslid. Hierdie volgehoue betrokkenheid onderstreep sy verbintenis tot die groter bedryfsbelang.

Die Langkloof, waar Marius se boerdery gesetel is, is bekend vir sy uitnemende appel- en peerproduksie, maar ook vir sy uitdagende klimaatstoestande. Droogtes, vloede, hael en waterpolitieke spanning rondom die Kouga-dam het produsente se voortbestaan die afgelope dekade herhaaldelik bedreig. In hierdie tye het Marius as ’n kalm, kundige en taktvolle leier opgetree. Hy het sy streek en die bedryf met insig verteenwoordig, en  oplossings gebied wat beide plaaslike produsente en die breër bedryf in ag geneem het.

Met die verwoestende haelstorm van 2021, wat sowat 1,000 hektaar boorde in die Langkloof verwoes het, het Marius weereens as leier navore getree. Hy het praktiese oplossings bevorder en die stem van produsente laat hoor.

Hy was ook een van die stigters van die Langkloof Vrugte Vereniging (LVV), wat vandag ’n deurslaggewende rol speel in die streek se ekonomiese ontwikkeling en bedryfsprioriteite. Onder sy leiding het dié vereniging produsente ’n sterker stem gegee, deursigtige kommunikasie verseker en ’n kultuur van samewerking gevestig.

Hy het ook transformasie- en sosiaal-maatskaplike uitdagings in die streek ernstig opgeneem en deur sy betrokkenheid brugbou bevorder tussen produsente, werkers en die breër gemeenskap. Hierdie bydrae is onmeetbaar in die konteks van ’n volhoubare, inklusiewe bedryf.

Sy kollegas beskryf hom as ’n eerbare, volgehoue en geloofwaardige stem wat die bedryf se koers positief beïnvloed het. Dit is dan ook betekenisvol dat hy die eerste ontvanger van die O.S.H. Reinecke Leierskaptoekenning vanuit die Langkloof is – ’n mylpaal wat toekomstige generasies produsente sal inspireer.

Marius van der Westhuizen is veel meer as net ’n suksesvolle produsent; hy verteenwoordig die waardes van diensbaarheid, volharding en vooruitdenkende leierskap wat die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf nodig het om in ’n onsekere wêreld te floreer. Marius is ‘n waardige ontvanger van die O.S.H. Reinecke Bedryfsleier-toekenning.

Back To Top