Die Langkloofinligtingsdag
Produsente, landbouers en belanghebbendes het vanjaar die ou klipskuur van die Kontrei Kombuis, net buite Joubertina, toegepak vir die jaarlikse HORTGRO Science Langkloofinligtingsdag en boordstap. Altesaam 77 mense het vanjaar se funksie bygewoon. Vanjaar het die praatjies op die visie van die “Boord van die Toekoms” gefokus:
- Hoe nuwe appelboorde beplan word om meer effektief en winsgewend te wees,
- die nuutste inligting oor die prestasie van appelonderstamme in verskeie evaluasiepersele,
- produktiewe en hoë gehalte Forelle verbouiing op kweperonderstamme,
- en die oplei van jong bome.
Prof. Wiehann Steyn het die dag se praatjies afgeskop met ’n agtergrond oor die huidige toestand waarin produsente hulself bevind en hoe Suid-Afrikaanse boorde na die “Boord van die Toekoms” sal móét kyk om sukses in die mark te haal.
“Suid-Afrika is tans ’n relatief oneffektiewe produsent van appels. Ons stuur ’n groot persentasie appels vir sap en ons plantsisteme is nie bevorderlik vir arbeider- en plaasproduktiwiteit nie.
Die gunstige wisselkoers, hoë produksies en die opkoms van die Afrika-mark buffer ons teen kompetisie en verminder die noodsaak om meer effektiewe produsente te word.”
Maar volgens Steyn sal produsente nie meer vir lank deur dié buffer beskerm word nie.
“Vanweë verwagte hoër kompetisie in die toekoms, sal die “Boord van die Toekoms” groter beheer oor vrugkwaliteit en verhoogde produksie effektiwiteit benodig.
Dít behels die vestiging van eenvoudiger plantstelsels, meer produktiewe onderstamme en klimaatsbestuur.”
Steyn het afgesluit deur daarop te wys dat HORTGRO Science se navorsing daarop gemik is om die “Boord van die Toekoms” te fasiliteer en om die hoof langtermynrisiko’s (d.w.s. beperkte besproeiingswater en ongunstiger klimaatstoestande) die hoof te bied.
Dr. Xolani Siboza, HORTGRO Science se toegepaste navorser, het meer vertel van sy navorsing op appelonderstamme. Na-oes interne verbruining was vanjaar ’n bedryfswye probleem.
“Die “Boord van die Toekoms” benodig die gebruik van meer produktiewe, opbrengsdoeltreffende en bestuursvriendelike onderstamme.”
Die Paardekloof onderstam-proef wat in 2010 in die Witzenbergvallei geplant is, het in 2015 sy derde oes gelewer. En volgens Siboza het dit getoon dat daar ’n inverse korrelasie tussen boomgrootte en opbrengsdoeltreffendheid is – groter bome gee minder vrugte.
Verdere punte waarop Siboza gelet het, is dat G778 wat tans in die proef is ’n uitsondering tot die reël is siende dat die onderstam lewenskragtig en ook baie produktief is.
Oor die algemeen is G778, RN29 en M9 binnestam op MM109 tans die mees opbrengsdoeltreffende onderstamme.
Bedryfstandaard M793 en MM109 is tans van die onderstamme met die laagste opbrengsdoeltreffendheid in dié proef, terwyl M7 intermediêr is.
Dr. Elke Crouch van die Universiteit van Stellenbosch, het die dag se praatjies afgesluit deur produsente en pakstoorbestuurders van haar navorsing (in samewerking met ExperiCo) op die verbruining van Cripps Pink vertel.
Volgens Crouch is diffusie verbruining, radiale verbruining, kombinasie verbruining (diffusie en kombinasie in een vrug), CO2 besering en knopverbruining die tipes verbruining wat in Suid-Afrika voorkom. Uit hierdie verskillende tipes is, kom diffusie verbruining die meeste voor.
Die faktore wat verbruining beïnvloed sluit oesrypheid, pakstoor temperatuur en duur, 1-MCP, afkoeltempo, boom ouderdom, grondtipe en voor-oes temperature in.
“Diffusie verbruining word teen 2°C uitgeskakel, maar nie teen 1°C nie. So my voorstel is dat die Cripps Pink teen hoër temperature met 1-MCP in langtermyn opberging in beheerde atmosfeer gehou word om vetterigheid en vergeling te voorkom.
“Na afleiding van die navorsing, blyk diffusie verbruining koueskade te wees. Oesrypheid is ook een van die belangrikste faktore wat dit beïnvloed. Vrugte >30% SB moet ook nie op langtermyn in beheerde atmosfeer gestoor word nie, want dit verhoog die kans op diffusie verbruining.”
Crouch het verder gesê dat boom ouderdom ook ’n rol speel siende dat jonger bome se vrugte vroeër ryp word en dit diffusie verbruining kan laat toeneem. Sanderig grond het volgens die navorsing in sekere seisoene ook diffusie verbruining laat toeneem, maar hierdie vrugte was reeds meer ryp en die verbruining kan dus aan rypheid toegeskryf word.
Diffusie verbruining kan baie goed skadeloos sorteer word met infrarooi en daar was ook ’n duidelike korrelasie met hoë TSS moontlik weens rypheid.
Radiale verbruining is baie seisoenaal en kom voor in seisoene met laer maksimum temperature, veral tydens die vroeë sel-uitbreidingsfase, het Crouch laat weet.
“In ons proewe was dit nie deur grondtipe, boom ouderdom of pakstoortemperature en verkoelingskoers beïnvloed nie.
“Faktore wat diffusie en radiale verbruining beïnvloed, speel ook ’n rol in kombinasie verbruining siende dat beide in dieselfde vrug teenwoordig is. Wanneer jy ’n seisoen sonder radiale verbruining het, het jy ook ’n seisoen sonder kombinasie verbruining.
“CO2 besering kan vermy word deur CO2 vlakke so laag as moontlik, optimaal teen 0,5%, te hou. O2 vlakke lê optimaal teen 1,5%.
“Knopverbruining vind plaas wanneer misvormde vrugte aan die misvormde kant verbruin na langtermyn CA opberging teen -0,5°C en eerder voor of tydens verpakking sorteer word.”