Skip to content
Wenners

Agri’s got Talent is sy wortelstelsel

Teks: Elise-Marie Steenkamp

4
Jason Baartman by vanjaarse Woordfees.

Verlede jaar, hierdie tyd, het Jason Baartman nog gewik en geweeg of hy moet inskryf vir die grootste sangkompetisie in landbou. Met ondersteuning van sy familie het hy die bul by die horings gepak, sy eie rymkletskomposisie geskryf en die WhatsApp-knoppie gedruk.

In Augustus 2017, by die Agri’s got Talent (AGT) Gala-aand het hy met die tweede plek weggestap, maar sedertdien het sy lewe ingrypend verander.

“AGT het ’n geweldige positiewe impak op my werk en my lewe gehad, en hou steeds aan om positiewe dinge te laat gebeur,” sê Jason. “Op ’n persoonlike vlak het dit vir my selfvertroue en blootstelling gegee om my liefde vir musiek uit te leef. Ek kan myself met ‘n gesonde vrugteboom vergelyk wat alles kry wat hy moet hê om aan te hou groei.”

AGT is die fondasie, die “wortelstelsel” van sy musiekloopbaan, meen hy. “Nadat ek aan die kompetisie deelgeneem het, het ek onlangs my eerste groot geleentheid gekry toe ek by die Woordfees op Stellenbosch opgetree het. Ek was saam groot name soos HemelBesem, Churchill Naudé en Frieda van den Heever op die verhoog. “Ek moet veral vir Frieda uitsonder en vir haar baie dankie sê vir die geleentheid en dat sy in my geglo het,” sê Jason.

Vir Jason het dié optrede hom opnuut in homself laat glo en het hy sy werk weer met nuwe passie aangegryp. Jason wat vroeër ’n algemene landbouwerker was, is nou junior-assistent produksiebestuurder by ‘n kwekery waar hy appelbome op die plaas Laastedrif buite Ceres, kweek. “Ek is mal oor my werk,” sê hy.

“’n Mens besef dit nie altyd nie, maar alles begin by jou werk en hoe jy oor jou werk voel. Die kompetisie het my geleer om leiding te neem in alles wat ek aanpak en dat ek nie hoef terug te staan vir enigiets nie. Dit is die tipe saad wat mens in jouself geplant wil hê. Vandag kan ek alles wat ek by AGT geleer het in my werksplek toepas.”

Volgens Jason is sy familie baie ondersteunend. “Hulle het nog altyd geweet dat ek ver gaan kom en dat AGT nog maar net die begin was. Hulle was so trots toe ek tweede plek behaal het en moedig my elke dag aan om nie moed op te gee nie. Ook my kollegas by die werk het my as ‘n heel ander mens ontvang. Van hulle het nooit geweet van die talent wat in my steek nie. Hulle spot my daagliks oor hoekom ek nog nie oorsee of op die TV is nie, maar my antwoord is: ‘Wanneer die tyd reg is, sal dinge gebeur’.”

Jason se groot musiekdroom is om eendag ‘n suiwer Afrikaanse rymkletsalbum vry te stel waar hy moontlik saam met groot name soos HemelBesem, Churchill Naudé, en selfs David Kramer en Boeta Gammie kan werk. “My doelwitte hierdie jaar is om meer op te tree, met die jeug te werk en hulle te inspireer.”

 

Back To Top