Skip to content
Frikkie Jacobs

Belê in mense…pluk dan vrugte

Dit was so ampertjies of Frikkie Jacobs was vir landbou verlore. ‘n Loopbaan in die polisie het gewink, totdat die plaaseienaar by wie sy ouers op Leeufontein in die Warm-Bokkeveld gewerk het, voorgestel het dat Frikkie Elsenburg-Landboukollege oorweeg.

Teks: Elise-Marie Steenkamp

“As plaaswerkers se kind was daar nie baie opsies nie, maar hulle het vir my die geleentheid geskep en ek het nie twee maal gedink nie.”

Vandag is Frikkie ‘n vrugteboer in murg en been met twee dekades in die bedryf agter sy blad. Tans bestuur hy die plaas Queen Anne van die Bo-Radyn-Groep op Villiersdorp.

Frikkie was ook in 2015 die vrugtebedryf se Plaasbestuurder van die Jaar en het al by verskeie groot ondernemings gewerk. Hy het vir homself al in die bedryf naam gemaak om “sukkelende boorde om te draai”. Frikkie het in 2013 by Queen Anne ingeval en binne ‘n kort tydjie die produksie-uitsette op indrukwekkende wyse met 60% gelig.

In 2015 het hy byvoorbeeld 18 000 kratte (6570 ton) uitvoervrugte op 102 hektaar gelewer en in 2017 op dieselfde aantal hektare 20 000 kratte (7300 ton) gelewer. Vra jy hom oor sy wenresep sê hy filosofies: “Dit is eenvoudig. ’n Gelukkige werker is ‘n produktiewe werker”.

“Ek glo as jy werklik in mense belê en op alle vlakke na hulle behoeftes omsien, gaan jy die vrugte daarvan pluk. Ons bedryf is ‘n mens-bedryf net soveel as wat dit oor vrugte en produksie gaan. Sonder die landbouwerker sal ons bedryf nie oorleef nie.”

En daarom sê Frikkie neem hy sy werk baie ernstig op en luister na alle voorstelle wat sy werkers maak. “As bestuurder is ek finansiële adviseur, dominee, huweliksberader, onderwyser…noem maar op. Ek is 24/7 beskikbaar om te help.”

Wat produksie betref glo hy moet mens die basiese goed reg doen. “Daar is nie short-cuts nie. Jy moet sorg dat jou grond gesond en reg gevoed is. Dien die regte hoeveelheid kunsmis toe, besproei op die regte tyd en met die regte hoeveelheid water, volg ’n geïntegreerde plaagbestrydingsprogram, volg optimale snoei- en uitdunpraktyke.”

Frikkie se kantoor kyk uit oor die laaste water in die Theewaterskloofdam, en oor die droogte sê hy dat almal in dieselfde bootjie is, maar dat mens tog met die regte strategie kan “deurkom”.

“Ons strategie was eenvoudig,” sê hy. “Ons het op grootskaal in deklaag belê. Dit maak die grond aansienlik koeler, sorg dat die vog in die grond bly en help om die algemene welstand en veerkragtigheid van die bome te verseker.”

Onderskrif: Goeie deklaag is onontbeerlik in droogtetye.

Volgens Frikkie het hulle hul eie deklaag gemaak uit ou vrugte- en dennebome en ook nog aangekoop. Daarbenewens gebruik hulle ‘n gerekenariseerde besproeiingsisteem met datastorende vogmeters in die boord. “So weet ons presies hoeveel water ons waar en wanneer moet gee. Ons waterverbruik het feitlik met ‘n derde afgeneem. Ons het ook heeltemal wegbeweeg van uurbesproeiing en gebruik nou net kubieke besproeiing en hou streng by hoeveel water ons weekliks kan gebruik. Spuite op die bankie is ook verstel na kort radiuspunte sodat water net op die bankie val. Ons het heeltemal weggedoen van medium-radius spuite. Só kan mens uiters akkuraat besproei en presies moniteer.”

Frikkie-hulle het ook nog boorgate gesink en sy span sorg dat daar weekliks inspeksies van watermeters en pompe is, sodat toerusting in ‘n uitstekende toestand is.

“Kyk, ons gaan vanjaar minder kratte hê, maar onder die omstandighede het ons aangepas en doen ons alles wat ons kan om met min water oor die weg te kom.”

Frikkie se raad aan jongmense wat die landbou as loopbaan oorweeg is soos volg: “Landbou is ‘n fantastiese loopbaan met soveel verskillende fasette. Jy kan spesialiseer in grondkunde, produksie, besproeiing…dit is werklik ‘n wye beroepsveld. Daarby is mens in die buitelug en werk met jou hande in die grond. Wat meer wil mens hê?”

 

 

Back To Top