Skip to content
Newsletter 3

Boer korporatief

Om ’n suksesvolle landbouer te wees, moet produsente eienaarskap van bates en die bestuur daarvan, skei. Dit was die boodskap van bekende ekonoom Dawie Roodt verlede week tydens die Inmaakprodusentevereniging se inligtingsdag.

Roodt het gepraat oor ekonomiese geleenthede tydens politieke turbulensie en het gesê dat landbou en mynbou voorheen as primêre bedrywe van ekonomie beskou is. “Landbou is egter besig om snel te verander weens tegnologiese ontwikkeling en beweeg nou na die tersiêre sektor. Kunsmatige intelligensie, presisie-landbou en ander tegnologie help dat meer met minder insette geproduseer word en hierdie tendens gaan aanhou groei.”

Volgens Roodt is die hele aard van Landbou besig om te verander en die dae van ’n eenmansaak is verby. “Boere moet plase soos maatskappye bedryf en Landbou korporatiseer. Produsente moet die kopskuif maak. Die familie kan steeds die bates behou, maar sorg dat jou besigheid die beste bestuurder het wat jy kan bekostig. Kry eksperts om te help en diversifiseer portefeuljes en beleggings.”

Roodt meen dat die landbousektor internasionaal rooskleurig lyk en net gaan aanhou groei omdat daar miljoene mense is wat kos nodig het. “Vir enige land om ’n suksesvolle ekonomie te hê, is drie geheime bestanddele nodig, naamlik die grondwetlike beskerming van privaateiendomsreg, ondersteuning van vrye handel en lae inflasie. Die drie bestanddele het wedersyds impak op mekaar om ’n gesonde ekonomie te handhaaf en mens kan ’n regering se sukses hierop beoordeel.”

Volgens Roodt is daar ’n gesegde onder ekonome wat lui, “there is no such thing as a free lunch” – maar indien vrye handel vir beide partye tot voordeel strek, is dit dieselfde as ’n free lunch. Aspekte wat volgens Roodt die Suid-Afrikaanse ekonomie ernstig kniehalter is korrupsie, belasting, handelsbeperkinge op in- en uitvoere en die minimum loon.

“Boere moet ook bewus wees van internasionale konflik en die wedersydse impak wat dit op handelsbande het. Die wêreld is op ’n mespunt met verskeie groot oorloë en dreigende oorloë, in Europa, Midde-Ooste en die Verre Ooste. Die oorlog in Oekraïne en die dreigende konflik tussen China en Taiwan is goeie voorbeelde.”

Landbouers in Suid-Afrika is hoopvol oor uitvoere na China en volgens Roodt vaar die Chinese ekonomie nog goed, maar dat hulle heelwat dreigende uitdagings het, soos hoë skuldvlakke en ’n dreigende eiendomsborrel wat gaan bars. Hierteenoor is Indië met sy grootste bevolking op aarde, die nuwe ekonomiese wonderwerk, met ’n sterk ekonomie wat net aanhou groei.

Amerika bly egter die wêreld se superekonomie ten spyte van hoë staatsskuld, ’n dreigende resessie en dat die laer ekonomiese inkomste groep se koopkrag afneem. Hy glo Trump gaan die pyp in die naderende verkiesing rook en dat die dollar nog vir ’n lang tyd die dominante internasionale geldeenheid sal bly.

Wat BRICS betref, is dit belangrik dat Suid-Afrika deel bly van die vennootskap want dit bied handelsgeleenthede met groot ekonomieë soos China, Indië en Brasilië. Binne BRICS sit die grootste twee ekonomieë naamlik China en Indië nie om dieselfde tafel nie en is soms selfs vyandig teenoor mekaar. Iets waarvan Suid-Afrikaners wat daar handel dryf, bewus moet wees, waarsku Roodt.

Ander wêreld tendense waarvan kennis geneem moet word, is dat demografieë besig is om dramaties te verander veral in die Noordelike Halfrond en die belangrikste dryfveer hier is vroue wat werk en minder kinders kry.  Dit, teenoor sub-Sahara Afrika met sy versnelde bevolkingsgroei. “Afrika is ’n groot potensiële mark en dit is goeie nuus vir Suid-Afrikaanse produsente,” het Roodt gesê.

Onderskrif: Anthony Dicey (IVP Voorsitter) Dawie Roodt, Nina Viljoen (Hortgro) en Jacques Jordaan (HUB IVP). (Foto: Lindy Sigonyela).

Back To Top