Skip to content
Diane Helentjaris Dlhcehzhoe4 Unsplash

Kernvrug seisoen oorsig | Weereens die weer

Te veel vroegseisoen koue het sommige kernvrugkultivars se set benadeel terwyl te min laatseisoen koue ander se rooi kleurontwikkeling gekelder het.

Die 2022–23 seisoen is deur erge haelskade in verskeie kernvrugproduksieareas gekenmerk. Produsente was egter optimisties oor die vooruitsigte vir 2023–24 gegewe uitstekende winterkoue en genoegsame reëns – ’n produsent se beste jaar is mos altyd volgende jaar.

Alhoewel dit gelukkig die afgelope seisoen in selfs die Langkloof min gehael het, het die weer nietemin soos gewoonlik vir etlike produsente hoofbrekens besorg.

“As jy terugdink aan die vloede in September 2023 is dit verbasend dat ons hoegenaamd ’n oes gepluk het,” sê Keith Bradley, algemene bestuurder van AgriDienste by Fruitways. “Soos heelwat mense al gevra het, wat is normale weer? Daar is nie meer so iets nie.”

Koue vang vroeë kultivars

In meeste areas het goeie koue-eenhede bygedra tot vroeë bot in die 2023 lente. Dit het egter party vroeë kultivars aan ongunstige lentetoestande blootgestel.

Tegniese raadgewer Piet Nieuwoudt van Fruit Tree Services het gesien hoe veral vroeë peerkultivars 7–10 dae vroeër as normaalweg in die Koue Bokkeveld geblom het. “Die koue-eenhede van die 2023 winter was ’n rapsie minder as die vorige seisoen maar nog steeds baie goed,” sê hy. “Toe het ons in Augustusmaand bietjie warmer dae wat die pere laat blom het.”

Hierdie bloeisels is aan ysige winde uit die Ceres-Karoo blootgestel. Nieuwoudt het erge skade in veral oosliggende boorde in die Koue Bokkeveld en Witzenbergvallei opgemerk. Die skade dui daarop dat pseudomonasbakterieë eerder as net normale ryp die oorsaak van die vrugverliese was.

Geaffekteerde boorde het 70%–80% of meer van hul verwagte oes verloor. “Abate Fetel blokke wat gewoonlik 60 ton sou dra was op 8–9 ton per hektaar,” sê Nieuwoudt. “So na ons opgewonde was oor die klomp koue-eenhede het die seisoen in Ceres en die Koue Bokkeveld eintlik nie so wonderlike begin nie.”

Die Langkloof het ook ’n 10–14 dae vroeër seisoen met ligter oeste van vroeë kultivars beleef. “Ons vermoed dat die koue gedurende blomtyd weliswaar ’n groot rol gespeel het,” sê Johan Kotze, hoofbestuurder van Dutoit Agri: Oos-Kaap.

Dit is nie dat die lente kouer as normaal was nie maar wel dat bloeisels tydens ’n kouer tyd oopgegaan het, verduidelik Kotze. Die bot was ook meer gekonsentreer. Hy spekuleer dat die aanvanklike vrugtellings die set oorskat het omdat die bome daarna self heelwat vruggies afgespeen het.

Te min en te veel hitte

“Ons het in die 14 dae na volblom op party kultivars nie goeie hitte-eenhede gehad nie,” sê Nieuwoudt. “Ons het gesukkel om goeie vruggrootte in die Koue Bokkeveld op die vroeë pere en Forelle te kry. In die Warm Bokkeveld was vruggrootte op Forelle en Abate Fetel goed.”

Die Wolseley-Tulbagh-area is nie deur die nat Septemberweer geraak nie, berig Christo Strydom, algemene bestuurder van spesialis peerverpakker Wolfpack. “Wolseley kry nie reën uit die Suidoos uit nie – as ons 30 millimeter reën uit die Suidoos kry, dan kan jy weet iemand spoel iewers weg.”

Daardie iemand was die EGVV, waar sommige plase meer as 300 millimeter reën gedurende die Packham’s Triumph blomtyd gehad het, vertel Bradley. Forelle en Panorama Goldens het ook in ongure weer geblom.

“Sommige produsente kon glad nie in hulle boorde kom om te spuit nie,” onthou Bradley. “Dit was óf te nat óf die paaie het weggespoel. Mense moes innoverend wees en hulle het helikopters en hommeltuie ingebring.”

Die koue, nat lente het egter in meeste areas omgeswaai na ’n snikhete somer wat rooi kleurontwikkeling gekniehalter het. “Vrugkleur was vir ons ’n groot uitdaging as gevolg van die hitte,” sê Kotze. “Ons het seker die meeste warm dae nog in Januarie en Februarie gehad – selfs in Maart ook.”

Kotze reken hulle het seker meer as ’n derde minder Royal Beaut as gewoonlik uitgepak en heelwat Fuji het nie die Fuji Red standaard gehaal nie. Goeie reëns en gepaardgaande koue in Aprilmaand het darem rooi kleurontwikkeling in Cripps Pink en Cripps Red aangehelp.

Die EGVV en Koue Bokkeveld het soortgelyke warm somerweer en swak rooi kleurontwikkeling ervaar. In sommige gevalle is vrugte by post-optimum ryphede gepluk terwyl produsente vir rooi kleur gewag het.

Beide Kotze en Bradley voel dat die afgelope seisoen nogmaals die waarde van nuwe seleksies wat beter rooi kleur ontwikkel bewys het.

Sonbrand en windskaaf

Wolseley het die erge hitte en swak rooikleurontwikkeling op pere vrygespring maar onder ander onweer deurgeloop. “Die Suidooswind het onophoudelik van September tot Desember stormsterk gewaai,” sê Strydom. “Dit het verseker ’n effek op die skilafwerking van die vrugte gehad.”

Daarby was sonbrand ook ’n probleem in sommige kultivars. Strydom skat dat daar dalk ’n addisionele 10% van meestal groen peerkultivars in die boord as gevolg van windmerke en sonbrand uitgeskot is.

Sonbrand het ook in die Koue Bokkeveld en Witzenbergvallei voorgekom. Produsente was in die onbenydenswaardige situasie waar goeie lighuishouding nie die effek van hoë temperature op rooi kleurontwikkeling kon oorkom nie maar terselfdertyd vrugte aan meer sonbrand blootgestel het.

“In die boordsituasie was daar Cripps Pink-blokke waar die tweede pluk as gevolg van sonbrand of ongekleurde vrugte netso vir sap gegaan het,” sê Nieuwoudt.

Ten spyte van die weer wat weereens nie wou saamspeel nie, was produksies oor die algemeen bevredigend, behalwe vir teleurstellende peervolumes in Wolseley.

“Wat appelproduksies in tonne aan betref sou ek sê die Koue Bokkeveld het ’n wonderlike jaar gehad,” sê Nieuwoudt. Oeste van Royal Gala, Early Red One en Golden Delicious was veral goed.

Alhoewel opbrengste in die Langkloof effens ondergemiddeld was, het daar meer vrugte pakstoor toe gegaan omdat daar nie noemenswaardige haelskade was nie.

“Ons is dankbaar ons kon vrugte in die pakstoor inbring,” sê Kotze. “Die son maak dat jy minder kleur kry maar die hael slaan jou oes weg – jy kan ’n mindergekleurde skoon vrug nog steeds in ’n karton sit.”

Bradley se gevolgtrekking is dat perfekte weer nie bestaan nie. “Elke jaar het sy eie uitdagings,” sê hy. “Maar jy weet hoe taai Suid-Afrikaners is. Hulle pas aan en kom bo uit.”

Back To Top