
Landbouwerkers bemagtig deur lesse oor geld
Deur Elise-Marie Steenkamp
Die bestuur van geldsake, gee die meeste mense hoofbrekens. Lees mens die finansiële blaaie van koerante is dit duidelik dat daar verskeie geldelike slaggate is. Dit is vir enigeen maklik om op betaaldag effe oorboord te gaan en dan die volgende 29 dae aan “die laaste Salticrax te knibbel” soos die advertensie lui.
In ‘n poging om landbouwerkers te bemagtig het die Vrugtewerkersontwikkelingstrust (VWOT/Fruit Workers Development Trust (FWDT)) ‘n opleidingsprogram geloods wat die finansiële welstand van hul lede aanspreek. PROCARE, die werkswinkel diensverskaffer, sê dat finansiële beplanning vir veral landbouwerkers uitdagend is.
Vervoer en toegang tot winkels is dikwels problematies. Talle werkers se inkomste wissel weens seisoenale werk wat beteken dat dit in ag geneem moet word om fondse effektief te bestuur; veral in tye waar geen inkomste verdien word nie. Ander aspekte soos skuld, spaar en beleggings, pensioenfondse, verbruikersregte en finansiële doelstellings, word ook in die kursus aangespreek.
Die doel van die werkswinkels is om landbouwerkers te bemagtig en te leer hoe om met geld te werk sodat hulle finansieel selfstandig raak. Sterk klem word geplaas op die belangrikheid van ‘n begroting. Dit is verder belangrik dat werkers rentekoerse verstaan asook moontlike slaggate met die aangaan van lenings/koop op skuld. Iemand wat in beheer van finansies is, se stres is minder en dit het ‘n positiewe impak op hul algemene gesondheid. Volgens PROCARE kan finansiële welstand ook moraal verhoog en produksie op die plaas verbeter. C.J. Langenhoven het dit mooi opgesom met die volgende: “Die kontant betaling is baas van sy eie sak.”
Die finansiële bemagtigingswerkswinkel is reeds op verskeie plase aangebied en word goed deur landbouwerkers ontvang. Sommige het dit selfs as ‘n lewensveranderende ervaring beskryf.
Elouise van Zyl van Hortgro wat ‘n werkswinkel meegemaak het, sê die inhoud van die kursus is van toepassing op hedendaagse finansiële uitdagings. “Die kursus word in eenvoudige (verstaanbare) terme aangebied sodat almal presies verstaan wat verduidelik word,” sê van Zyl. “Die kursusgangers het aktief deelgeneem aan die gesprekke en aan die einde van die kursus was daar baie positiewe kommentaar.”
- Vir meer inligting oor die VWOT, kontak Karien Bezuidenhout – karien@hortgro.co.za
- Vir meer inligting oor PROCARE, kontak Sunette le Roux – sunette@procare.co.za
Blitsfeite oor die VWOT:
Die Vrugtewerkersontwikkelingstrust (VWOT) is ’n breë basis eienaarskap skema soos gedefinieer in die BEE – kodes van Beste Praktyke. Dit is opgerig deur die Sagtevrugte Produsente Trust (SPT) (nou bekend as Hortgro) wat as sambreelliggaam die sagtevrugtebedryf verteenwoordig.
Die doelwit van die Trust is om winsgewende beleggings te maak en die winste aan die begunstigdes te skenk. Die begunstigdes word gedefinieer as swart persone wat permanent in diens is van ’n vrugteprodusent, wat oor ’n wettige produsente eenheidskode (PUC) beskik en lid is van die VWOT.
Die huidige Trustees is Dora Ndaba, Anton Rabe, Wimpie Paulse en Konanani Liphadzi. ’n Onafhanklike besigheidsadviseur, Stephen Hobson, is gekontrakteer om hierdie inisiatief te ondersteun en addisionele operasionele kapasiteit te verleen.
Lees meer oor ander projekte van die VWOT hier:
FRUIT WORKERS’ DEVELOPMENT TRUST TAKES ACTION AGAINST GENDER-BASED VIOLENCE
Onderskrif: Werkers van die plaas Matjiesfontein glimlag breed na die werkswinkel. (Foto: PROCARE).




