GESONDE ONDERSTAMME GESONDE BELEGGING
“‘n Vrugteboer se belegging is sy bome en in enige belegging soek jy lae risiko en hoë dividende en dit is presies wat jy kry as jy in weefselkultuur belê.” Aan die woord is Hortgro se streeksverteenwoordiger in die Limpopo, Müller Oosthuizen van die plaas Ginger Gypsey naby Modimolle.
Oosthuizen het onlangs die skuif na weefselkultuur-onderstamme gemaak en kan nie uitgepraat raak oor hoe beïndruk hy met die plantkwaliteit is nie. “Die beste en veiligste belegging bly natuurlik ’n goeie onderstam. Die hoogste dividende sal jy met goeie onderstamme kry.”
Oosthuizen het 2100 Flordagaurd perske-onderstamme by die Tissue Culture Facility (TCF), Bernheim, buite Paarl, aangekoop. TCF produseer weekliks honderde onderstamme by hulle fasiliteit en verskaf aan boere en kwekers dwarsoor die land. Die Limpopo-vrugteboere is bekend vir hulle innovasie en Müller, en sy seun Gerhard, was van die eerste boere wat bestellings by TCF geplaas het.
Volgens Gerhard het hulle sover 100% “vat persentasie” gehad. “Ons was opsoek na genetiese-egtheid en eenvormigheid wat die kwekerye nie na my smaak kon verskaf nie. Weens die unieke kweekmetodes word hierdie plante se wortels ook nie aan ou en moontlik besmette grond blootgestel nie. Die gevolg is dat die plante gesond begin wanneer ons hulle plant, want alle risiko’s is gedek.”
Tot dusver is die Oosthuizens baie tevrede met die onderstamme. “Hulle groei goed en ek glo hulle sal ’n baie sterk wortelsisteem teen okkulasie-tyd hê,” sê Gerhard.
So lyk een van die klein boompies waarvan die onderstam in weefselkultuur gegroei is. (Foto’s verskaf.)