Kaap Nampo: Sagtevrugtebedryf bespreek struikelblokke
‘n Hortgro-span het onlangs Kaap Nampo besoek, waar infrastruktuur, logistiek, insetkostes en die stompkopkewer as uitdagings vir die sagtevrugtebedryf, bespreek is. Vanjaar was die eerste keer sedert Covid die wêreld in 2020 ontwrig het, dat Kaap Nampo aangebied is en ’n rekordgetal van meer as 32 000 besoekers het Bredasdorppark, te Bredasdorp, oor vier dae besoek. Mariette Kotzé, Hortgro se groepsoperasionele bestuurder, het deelgeneem aan ‘n paneelbespreking by Nasie in Gesprek, was gas by Agri Xtra en het die bedryf by die “Wes-Kaapse kabinet ontmoet landbou” verteenwoordig.
Teks en foto’s deur Elise-Marie Steenkamp
Suid-Afrikaanse sagtevrugteboere se produksiepraktyke is van die beste in die wêreld, maar produsente word telkens deur bedryfskwessies wat grootliks buite hul beheer is, gepootjie. Derhalwe hou die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf die situasie by die land se hawens met arendsoë dop, want die bedryf kan nie nog ’n jaar met soveel uitvoerprobleme bekostig soos vanjaar nie. Die kern-en steenvrugbedrywe het die afgelope twee seisoene bo-gemiddelde uitvoervolumes gelewer, maar weens infrastruktuur, logistieke-, elektrisiteits- en handelsprobleme kon boere nie die winste verdien wat hul toekom nie.
Dit was die kernboodskap van Mariette Kotzé tydens die paneelbespreking oor infrastruktuur by Nasie in Gesprek. Ironies genoeg tydens fase vier beurtkrag wat die uitsending kortliks ontwrig het.
Om logistieke en infrastruktuur probleme by die Kaapstad-hawe aan te spreek, glo dié bedryf dat die regte mense om die tafel is en daar word weekliks vergaderings gehou, het Kotzé gesê. “Ons glo die wil is daar om dinge te verander. Ons weet ook dat die verskillende regeringsamptenare, Transnet en ander belanghebbendes bewus is van die risiko’s van stelsels wat nie werk nie. En dat ons as bedryf nie ’n herhaling van die vorige seisoen kan bekostig nie. Maar of ons by ’n keerpunt is, is ’n ope vraag. Hierdie tipe kwessies kan grootliks net deur die regering opgelos word en ons almal weet vanaf die tyd wat ’n besluit geneem word, totdat dit toegepas word, neem ongeveer twee jaar. Dit is eenvoudig te lank.”
Kotzé het voorts gesê dat die bedryf inligtingsessies vir produsente hou, om hulle te bemagtig. Produsente was voorheen sterk produksie gefokus, en word nou aangemoedig om eerder die fokus na wat die mark wil hê, te verskuif.
“Produsente moet nie in volumes dink nie, maar eerder dat hulle die regte produk vir verbruikers op die rakke kry en só voorkom dat afwaartse prysdruk plaasvind.”
Glen Steyn, van die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het gesê dat die uitvoer van sagtevrugte, wyn en sitrus die volgende vyf jaar met 26% gaan toeneem. “Ons grootste uitdagings is om toe te sien dat die logistieke ketting gereed is vir die volume groei, want as dit nie gebeur nie, gaan dit ekonomiese ontwikkeling belemmer.”
Heinie du Toit, sagtevrugteprodusent en vise-president van Agri Wes-Kaap het gesê volgens markinligting is die Wes-Kaap verantwoordelik vir 55% van Suid-Afrika se landbou-uitvoere. Du Toit het gesê landbou en boere is die ruggraat van die land en dat Suid-Afrika nie swakplekke in sy ruggraat kan bekostig nie. “Ons almal weet wat met ’n ruggraat gebeur wat swak plekke het, die lyf verlam.”
Kotzé het tydens ’n spesiale ontmoeting met Wes-Kaapse kabinet, weer infrastruktuur/logistiek en hoë produksie insetkoste, asook die ernstige gevaar wat die stompkopkewer vir die bedryf inhou, as struikelblokke uitgewys.
“Tans is daar geen beheermaatreëls vir die stompkopkewer beskikbaar nie. Bome moet eenvoudig afgekap en verbrand word.” Hortgro het sedert 2019 navorsingsprojekte oor die stompkopkewer geloods. Uit voorlopige resultate blyk dit dat kern- en steenvrugbome nie teen die kewer bestand is nie.
“’n Plaag van hierdie kaliber kan nooit net die bedryf se probleem wees nie, veral aangesien huistuine ’n poort vir hierdie plaag na produksiegebiede is. Ons doen ’n ernstige beroep op die regering om hulpbronne beskikbaar te stel, om saam met ons te werk en ons te help om ons gewasse en bedryf te beskerm.”
Volgens Kotzé ondersteun Hortgro die regering se nasionale landbou en landbouverwerkings meesterplan (AAMP) en werk hard om transformasie deur die waardeketting moontlik te maak. Sy het ’n beroep op die regering gedoen om privaatsektor-deelname (private sector participation/PSP’s) te oorweeg om bedryfshindernisse uit die weg te ruim. “PSP’s is ’n manier om die beste kenmerke van die openbare en private sektore bymekaar te bring. Die privaatsektor se voordele is kreatiewe finansiering, groter bedryfsdoeltreffendheid, laer verspreidingskoste, vinniger besluitneming, bestuursbuigsaamheid en innovasie. Dit is wat Suid-Afrikaanse landbou nodig het om infrastruktuurontwikkeling en logisitiek op wêreldklas-standaarde te bring en te verseker dat die sagtevrugtebedryf ’n kompeterende internasionale speler bly.”
Onderskrif: Hortgro Stone voorsitter, André Smit, Mariette Kotzé, Wes-Kaapse Premier, Alan Winde, and Hortgro Pome voorsitter, Nicholas Dicey, by die “Cabinet meets Agriculture” geleentheid, by Kaap Nampo.
- Kyk die Nasie in Gesprek opname hier: https://www.youtube.com/watch?v=zROdzP8CRxU
- Read an English summary here: https://www.nationinconversation.co.za/en-ZA/News/Article/View/infrastructure-opportunities-amid-the-obstacles