Skip to content
My Project 2

Grondwater Riglyne | Die bestuur van `n onsigbare hulpbron

[Download English and Afrikaans guides below]

Deur Julian Conrad, Geohidroloog by GEOSS

Van alle varswater op aarde is 12% grondwater, 1% riviere en mere terwyl die res varswater in die pole is. Hierdie syfers dui op die noodsaaklikheid van verantwoordelike grondwater bestuur. Tans bly daar 2 biljoen mense in lande waar die beskikbaarheid van water onder druk is. 50% van die wêreld se bevolking wat onveilige water gebruik, word in Afrika gevind. Hiermee saam word dit beraam dat Afrika se bevolking teen 2030 met ongeveer 40% gaan vermeerder. Die groot vraag bly dus tot watter mate die kontinent voldoende voedsel sal kan produseer, saam met die voorsiening van suiwer drinkwater, en waar die addisionele water hiervoor vandaan sal kom.

Daar is ’n groot behoefte aan verhoogde landbouproduksie, alhoewel die beskikbare hoeveelhede water vir besproeide gewasse beperk is. Die water wat vir landboudoeleindes gebruik word, sal dus baie meer doeltreffend aangewend moet word, en grondwaterontginning sal met ’n sterk fokus op volhoubare voorrade moet plaasvind. Om hierdie rede het Hortgro GEOSS South Africa (Edms) Bpk. aangestel om ’n geohidrologiese studie in hul hoof kern- en steenvrugproduksiegebiede uit te voer, asook om aanbevelings te maak wat volhoubare grondwatergebruik bevorder. Hierdie riglyne is saamgestel om die kern- en steenvrugbedryf te help om hierdie onsigbare hulpbron doeltreffend te bestuur.

Die idee om hierdie riglyne saam te stel het ontstaan uit die besef dat groot onkunde bestaan oor grondwater, met spesifieke verwysing na hoe dit voorkom, die verspreiding daarvan in Suid Afrika asook die proses van grondwater ontwikkeling. Laasgenoemde sluit in die totale boorproses, die toets vir volhoubare lewering, monitering van die boorgat se produksie en die wettiging van die gebruik van grondwater.

Die Nasionale Regering van Suid Afrika is die kurator van alle waterbronne en toestemming om hierdie bron te gebruik, word al sedert 1998 vereis. Die hoofdoel van hierdie riglyne is om die goed gegronde wetenskaplike kennis oor grondwater te beklemtoon (eksplorasie, ontwikkeling, monitering en bestuur). ‘n Verdere doelwit is om die gebruikers van grondwater daadwerklik aan te moedig om effektiewe bestuur van hierdie bron toe te pas, onder andere deur middel van die monitering van watervlakke, asook vloei en reënvalsyfers. Hierdie riglyn sal in sy doel slaag indien daar ‘n toename in bewustheid van monitering volg.

Daar is baie literatuur beskikbaar oor grondwater, en vele webtuistes wat die onderwerp aanspreek. Gebruik gerus hierdie riglyne en beskikbare inligting om te verseker dat  grondwater verantwoordelik en volhoubaar deur u gebruik word, veral gesien in die lig van die belangrike rol wat landbou in Suid Afrika en Afrika speel, en om te verseker dat water genoegsaam beskikbaar sal wees vir die volgende geslagte.

Laai u grondwater-gebruik riglyne hier af: Grondwaterbestuur riglyne_Mei2025

Download your groundwater management guide: Groundwater Management_English_May2025.

Back To Top