
SA grootste appeluitvoerder in Suidelike Halfrond
Sedert 2023, is Suid-Afrika die grootste Suidelike Halfrond appeluitvoerder. ’n Posisie wat voorheen deur Chili beklee is.
Pieter-Steyn de Wet, Hortgro landbou-ekonoom, verduidelik hoe SA die stokkie by Chili oorgeneem het.
Suid-Afrika se appelbedryf is uitvoer-georiënteerd met gemiddeld 45% van plaaslike produksie wat uitgevoer word na 86 verskillende lande. Die bedryf het sedert 2008 ’n oplewing in investering beleef. Dit het bygedra tot groei in hektare sowel as die vervanging van marginale boorde met beter variëteite/onderstamme en verbeterde produksie-tegnologie wat hoë-digtheidsaanplantings en gebruik van nette insluit. Dit het op sy beurt gelei tot verhoogde produksie en uitvoer volumes. Totale produksie van appels die laaste ag jaar het met 30% toegeneem.
Marktoegang. Suid-Afrika het toegang tot verskeie markte, maar nuwe marktoegang is veral gefokus op die Verre Ooste en Asië. Thailand was die mees onlangse nuwe mark wat betree is met die eerste appel uitvoere na 16 jaar wat middel-Maart geland het. China, vir jare lank ’n prioriteitsmark, is nou reeds die afgelope 10 jaar oop vir SA appels.
Logistiek. Die meerderheid van Suid-Afrikaanse kernvrugte word deur die Kaapse hawe uitgevoer. Die afgelope paar jaar het die hawe talle logistieke probleme ondervind weens ondermeer verouderde toerusting wat gereeld breek, fondse wat wanbestuur is en lae produktiwiteit. Die vooruitsigte lyk egter nou meer positief met die nuwe bestuur asook nuwe toerusting wat oppad is en binnekort in werking gaan wees wat sodoende bottelnekke kan verlig in die uitvoer proses.
Klimaatsfaktore. Oor die afgelope 15 jaar het ongunstige klimaatstoestande, insluitend droogtes, Chili se appel produksie geweldig beïnvloed.
Kwaliteit. Suid-Afrikaanse appels het ‘n reputasie ontwikkel vir goeie kwaliteit en eetgehalte, wat help om vertroue te bou in die Suid-Afrikaanse appelbedryf.
Volhoubare voorsprong
In 2022 was Suid-Afrika en Chili nog nek-aan-nek, maar sedert 2023 het SA Chili verbygesteek as die grootste appeluitvoerder in die Suidelike Halfrond.
Volgens die mees onlangse verslag van WAPA (World Apple and Pear Association) waar verskeie Suidelike Halfrond en Noordelike Halfrond lande inligting uitruil, het Chili se totale appelproduksie vanaf 2016 tot geskatte volumes vir 2025, met 44% gedaal. Daarteenoor het Suid-Afrika se produksie beduidend gegroei. Chili se totale uitvoere het oor dieselfde periode met 32% gedaal, terwyl Suid-Afrika se totale uitvoere met 51% toegeneem het. Suid-Afrika is die grootste Suidelike Halfrond uitvoerder sedert 2023. Alhoewel ons nie die eerste plek gewaarborg is nie, is Suid Afrika baie optimisties oor die appelbedryf en verwag ons verdere groei in produksie en uitvoere oor die medium termyn en posisioneer ons Suid-Afrika se appelbedryf as voorkeur verskaffer van top gehalte vrugte.

Uitnemende navorsingsfasiliteite en wêreldklas datastelsels gee Suid-Afrika ’n mededingende voordeel bo Chili. Afstand na sleutelmarkte, wat die vervoertyd en risiko van bederf verminder, is ook meer gunstig vir SA aangesien ons nader aan Europa, die Midde-Ooste en Afrika is, in vergelyking met Chili. Sterk fitosanitêre stelsels het Suid-Afrika in staat gestel om toegang tot hoëwaarde markte instand te hou en uit te brei. SA se appel voorsieningsmandjie (variëteitsamestelling) is ook meer divers wat ons instaatstel om markte doeltreffend te kan bedien.
Volgens die jongste beskikbare uitvoersyfers vir die huidige seisoen tot en met ETA Week 22, het Suid-Afrika reeds ’n beduidende voorsprong op Chili in terme van totale uitvoere. Tot op hede het Suid-Afrika sowat 2,6 miljoen kartonne (16%) meer as Chili uitgevoer. Wat uitvoere na individuele markte betref teenoor Chili, het SA veral ’n sterk uitvoerposisie in die Verre Ooste en Asië, Midde-Ooste, VK, asook Rusland.
Klimaatverandering is tans een van die grootste uitdagings wat die appelbedryf wêreldwyd in die gesig staar en dit kan beide Chili en Suid Afrika van jaar tot jaar beïnvloed.




