Skip to content
Foto MJ

Hortologie ’n wonderlike reis

Deur Elise-Marie Steenkamp

Dr. Mariana Jooste is die nuwe naoes-programbestuurder by Hortgro Science. Jooste, word veral geag as ’n naoes-navorsingsekspert op die gebied van steenvrugte en was voorheen by Hortgro Science betrokke.

Dié boorling van Somerset-Wes vertel haar enigste vroeë ervarings met Landbou was op haar ouma-hulle se skaapplaas in die Karoo. Redelik verwyder van die komplekse wêreld van plantpatologie en steenvrughanteringsprotokolle wat haar studiefokus was.

As eerstejaarstudent het sy begin met ’n B.Sc in Botanie en Plantpatologie, maar het in haar tweede jaar na die Landbou-fakulteit met Hortologie en Plantpatologie as hoofvakke, oorgeskuif. “Hortologie was ’n wetenskap wat ek glad nie geken het nie. Prof. Gerhard Jacobs het ons, tot my groot ontnugtering, reeds vroeg in die kursus vir ’n snoei-prakties Welgevallen-proefplaas toe geneem,” onthou Jooste.

Gewapen met ’n splinternuwe snoeiskêr het Jooste saam die ander studente aangetree en is met ’n ry appelboompies gekonfronteer. “Ons is aangesê om te begin snoei. Ek het nie ’n idee gehad wat ek moes doen nie en het die boompie verskriklik jammer gekry.”

Een van haar mede-studente, Dirkie Mouton, het tot haar redding gekom en in ’n neutedop verduidelik die boom is soos ’n fabriek. “As jy nie snoei nie, gaan jy nie goeie kwaliteit vrugte kry nie. Snoei.” Jooste het weggetrek en begin snoei. “Ek dink hulle moes daarna al die boompies uittrek, hulle was so verniel.”

Vir haar was Hortologie die begin van ’n wonderlike reis. “Dit was soos die ontdekking van ’n nuwe wêreld. Eers om ’n boom se fisiologie te leer ken en dan om te verstaan hoe om dit optimaal te bestuur. Dit was soos legkaartstukkies wat inmekaar pas.” Een van haar dosente, prof. Marius Huysamer, het haar geïnspireer om verder in naoes-fisiologie te studeer. Onder sy wakende oog het sy haar meestersgraad op die ontwikkeling van rooikleur in appels en pere voltooi.

Jooste het hierna vir sewe jaar onder Martin Taylor by ExperiCo gewerk, saam met ander “uitstekende mentors soos Arrie de Kock, drs. Johan Fourie en Ian Crouch ”. Hierna het sy ’n draai by Capespan gemaak as die fitomark-koördineerder en meer geleer oor die fitosanitêre aard van die vrugtebesigheid.

’n Oproep van Huysamer het haar loopbaanpad in ’n ander rigting gestuur. “Hy het gevra of ek nie vir Hortgro Science op steenvrugte wou kom navorsing doen nie. Ek sou na die universiteit gesekondeer word en moes met ’n projekvoorstel vir verdere studie kom.”

Destyds, toe sy nog by ExperiCo was, wou sy al koue-skade op pruime in meer diepte ondersoek, maar weens die aard van haar werk kon sy nie die projek regverdig nie. Dit was nogals ’n reis, onthou sy. “Ek moes baie metodieke ontwikkel wat nie beskikbaar was nie en het in die proses baie geleer.”

Na afloop van haar doktorsgraad het sy besluit om vir ’n paar jaar “kinders groot te maak” en nou het Hortgro Science weer haar pad gekruis.

Tans help Jooste vir dr. Elke Crouch, die Departement Hortologie se hoof by die Universiteit van Stellenbosch met die bestuur van haar nagraadse studenteprogram. Crouch is tans ook in die posisie as die leerstoel van naoes-fisiologie navorsing van sagtevrute. In 2023 was daar ag nagraadse studente waarvan drie hul studies voltooi het. “Die studente is almal besig met navorsing op kernvrugte, ’n veld waarin ek as steenvrugspesialis, nie baie ervaring het nie. Die navorsing is gedeeltelik baie anders, maar daar is ook heelwat raakvlakke en ek leer baie.” In haar nuwe posisie as Hortgro Science naoesprogrambestuurder sal sy darem weer op steenvrugte ook werk.

Jooste sien uit na die nuwe uitdaging omdat sy heelwat wyer gaan werk as net navorsing. “Ek besef die vrugte wêreld raak al hoe meer kompleks. Daar is ’n hele mandjie van ondermeer hanteringsprotokolle, fitosanitêre standaarde, logistiek, kragonderbrekings, pakhuisbestuur, optimale verpakking en vele meer. Al hierdie uitdagings moet oorbrug word om hoë kwaliteit produkte vir die mark te verseker. Daarbenewens word ons gekonfronteer met klimaatsverandering, nuwe insekte en chemiese produkte wat wegval, asook die uitdaging om vrugte peste en plae op natuurlike maniere te bestuur.”

Jooste is opgewonde oor hierdie nuwe leerkurwe en sien daarna uit om saam met ’n span kundiges hierdie uitdagings aan te pak. Sy begin op 1 April 2024.

Prof. Wiehann Steyn, Hortgro Science algemene bestuuder, is baie opgewonde oor dr. Jooste se aanstelling.  “Ek het tot op hede die naoes navorsingsprogram bestuur bo-en-behalwe my ander take en toenemende werkdruk. Terwyl dit van waarde was om die konneksie tussen vooroes en naoes te kon maak, kan die program net baat by die fokus van ‘n toegewyde bestuurder.  Ek is dankbaar dat ons nou in ’n posisie is om ’n ervare naoes ekspert soos dr. Jooste te betrek.”

 

Back To Top