Jong bedryfsleier — Debbie Schreuder
Debbie Schreuder het in Prins Alfred Hamlet grootgeword en reeds tydens haar skoolvakansies ervaring in vrugtepakhuise opgebou. Sy het ’n B.Com. in logistiek aan Universiteit Stellenbosch voltooi en haar loopbaan by ’n vervoermaatskappy begin. In 2009 het sy na Delecta Fruit in Ceres geskuif waar sy ’n belangstelling in vrugtebemarking ontwikkel het.
In 2017 het sy by die De Keur Groep aangesluit. Sy is verantwoordelik vir bemarking van hoofsaaklik appels en pere in onder andere Afrika, die Verenigde Koninkryk, Europa en Kanada.
Q. Wat het jou oorspronklik na die vrugtebedryf getrek
A. Ek moes in my tweede jaar van my B.Com. ’n rigting kies. Toe het ek met ’n paar mense in die vrugtebedryf gepraat en iemand het my vertel hoe die vrugte van die Kaap af Rotterdam toe vaar. En as mens op die kaart gaan kyk dan lyk dit so lekker – dit is waar dit begin het. Ek is nogal bly oor die besluit wat ek geneem het.
Die vrugtebedryf en die produsent is my passie. Alles gaan vir my daaroor om vir die produsent die beste inkomste te lewer – om die krat te maksimeer. Ek onderhandel ook altyd met kliënte sodat ons die krat optimaal kan benut.
Dis vir my lekker om die moeilike goed te verkoop want daar’s so bietjie van ’n uitdaging daarin. Dis nie ’n program wat jy vasmaak in Februarie en dan loop dit tot September toe nie
Q. Wat is van die tendense in die verskillende markte?
A. Hierdie jaar is natuurlik ’n buitengewone goeie jaar vir appels en pere. Daar is minder vrugte in die mark as gevolg van die hael so vrugte verkoop baie makliker. Maar wat my bekommerd maak is die kostes – vanaf produksiekoste regdeur die ketting tot by die eindkliënt.
Ek weet nie waar dit gaan stop nie so my dryf op die oomblik is om slimmer te dink oor hoe ons op die plaas dinge meer koste-effektief kan doen of hoe mens verpakking anders kan doen.
Ek dink daar is baie potensiaal in Afrika as gevolg van populasiegroei en investering deur ander lande. En die Afrika-mark is op ons agterstoep – ons is die naaste verskaffer so ons moet dit benut. Ek dink net ons moet nog die kopers leer dat dit goed is om vrugte te eet.
Wat betref die Verenigde Koninkryk en Europa kan ek sien hulle kry finansieel swaarder as vorige jare. Brexit het dit ook moeiliker gemaak want hulle kan nie meer net oor-en-weer vrugte na mekaar toe stuur nie. Aan die ander kant het Covid gemaak dat daar meer vrugte verkoop word. Mense is oor die algemeen meer gesondheidsbewus.
In veral Eerstewêreldmarkte is herwinbaarheid belangrik so ons mag sekere plastiekverpakking nie meer in kartonne sit nie. Ek probeer kyk na idees om liewers meer in grootmaat uit te voer sodat die afval wat jy saamry minder kan wees.
Met die leierskapprogram het ons ook ’n gedeelde gevoel gehad dat ons die res van die wêreld moet leer dat appels nie altyd die mooiste en rooiste hoef te wees nie. Daar is ’n groot hoeveelheid vermorsing want die verbruiker is gekondisioneer om ’n sekere produk te verwag. Die mooiste en rooiste appels is ’n klein persentasie van die totaal en dié wat nie dieselfde lyk nie smaak dieselfde
Q. Hoe impakteer huidige Suid-Afrikaanse uitdagings ons vrugtebedryf?
A. Ek dink die hawens is ons grootste bekommernis. Hierdie jaar was definitief beter as laasjaar maar dis dalk omdat die vrugte minder was. En daar was nog steeds probleme.
Benewens die hawens kos die beurtkrag ons industrie miljoene rande en dit is nie net omdat mense kragopwekkers moet hardloop nie. Dit strek nou al tot versekering wat nie meer verkoeling dek nie omdat hulle risiko net te hoog is. En besproeiing werk met krag so ons kom in ’n situasie waar jy moet kies watter boord jy gaan water gee.
In die langtermyn dink ek ons industrie gaan voor wees teenoor die res van die wêreld wat groen energieverbruik betref. So ons word geforseer in ’n rigting waarin ons nie nou wil beweeg nie maar ek dink dit gaan vir ons in die toekoms baie positief wees.
Ek dink ons sit in ’n baie unieke land waar ons produsente en uitvoerders leer om op ons eie reg te kom want ons het nie hulp van buite af nie. Die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf is seker van die mees aanpasbare industrieë want daar word so baie uitdagings na ons toe gegooi en hier is ons nog steeds – ons moet eintlik trots wees hierop.