
Jong bedryfsleier: Dr. Gideon van Zyl – gewasbeskermingspesialis
Jong bedryfsleier praat oor spuitaanwending in Suid-Afrikaanse boorde en sy ervaring van die Hortgro bedryfleierskapprogram. Deur Anna Mouton.
As mens luister na sy geskiedenis voel dit asof dr. Gideon van Zyl vir sy huidige posisie as gewasbeskermingspesialis by ProCrop bestem was. Hy het in Rawsonville grootgeword en sy pa was ’n gewasbeskermingverteenwoordiger by Bayer en later Nexus. Van Zyl junior se tipiese vakansiewerk was onkruiddodertoedienings en saai van slakpille of graansaad – dis waar hy leer kalibreer het.
Hy het nie goeie herinneringe van die ure wat hy op ’n trekker heen-en-weer gery het nie. Sy plan was om na skool medies te studeer en nooit weer iets met landbou te doen te hê nie. Gelukkig vir die sagtevrugtebedryf het Van Zyl nie keuring vir medies by Universiteit Stellenbosch gekry nie. Hy het gevolglik op die laaste oomblik vir ’n BScAgric met gewasbeskerming ingeskryf.
In sy vierde jaar het Van Zyl ’n belangstelling in plantpatologie ontdek en ook deeltyds as ’n navorsingtegnikus vir dr. Paul Fourie in die Departement Plantpatologie by Universiteit Stellenbosch begin werk. Dit het gelei tot ’n MSc en later ’n PhD op spuitaanwendings vir bruinvleksiekte in sitrus – Fourie het besef hoe skaars nagraadse studente met praktiese toedieningservaring is!
Van Zyl het in 2016 by landboukonsultasiefirma ProCrop aangesluit waar hy saam met Bekker Wessels en Philip Rebel onafhanklike gewasbeskermingsadvies verskaf. Hy is ’n gereelde spreker by Hortgro geleenthede en was een van die eerste groep deelnemers aan die Hortgro bedryfleierskapprogram.
V. Hoe was jou ervaring van die Hortgro bedryfleierskapprogram?
Ek het vooraf reeds ’n baie goeie idee van die struktuur en invloed van Hortgro gehad maar deur die program verstaan ek nou beter hoe belangrik Hortgro se rol is. En hoe belangrik dit is dat elkeen van ons wat die leierskapprogram bygewoon het – asook ander rolspelers – deel van Hortgro moet wees.
Ons moet op die tegniese adviesrade sit en insette lewer. Dit is belangrik dat ons deelneem. Dit is hoe ons bedryf gevorm is. Ek is op die gewasbeskerming, IPM [geïntegreerde plaagbestuur] en presisieboerdery werkgroepe en ek wil meer betrokke raak by marktoegang en MRLe [maksimum residuvlakke].
Oorsee werk heeltemal anders as ons. Daarso is navorsing staatsgedrewe waar ons produsentgedrewe is. Ons betaal vir ons eie navorsing.
Dit is verstommend wat ons deur Hortgro en bedryfsorganisasies regkry met die hoeveelheid navorsingsbefondsing wat ons het. Byvoorbeeld, China se befondsing vir UAV [hommeltuie] navorsing in landbou vanaf 2016 tot 2024 is EUR 12.38 miljoen. En in Europa het ek projekte gesien waarop vier PhD-studente werk. In Suid-Afrika werk een PhD-student op sy eie projek en dan help hy nog drie ander MSc-studente ook.
V. Vertel ons van jou besoek aan SuproFruit 2023.
SuproFruit is ’n werkswinkel oor presisie toediening in driedimensionele gewasse soos vrugtebome. Dit sluit presisie tegnologie, gewaswaarneming, deposisie, spuittoediening, spuitdrifsel en operateurveiligheid in. Dit word elke twee jaar deur die topmense in die toedieningsveld bygewoon.
Vir my oorsese besoek as deel van die bedryfleierskapprogram het Hortgro ingestem dat ek my Hortgro-befondsde navorsing oor toedienings onder drapeernette by SuproFruit 2023 in Frankryk kon aanbied.
Iets wat baie sterk by SuproFruit deurgekom het, is 2030 en die EU Green Deal. Europa het dieselfde uitdagings as ons – hulle is eintlik harder geslaan as ons – in terme van hoe hulle minder kan bespuit. Vermindering van spuitdrifsel is ook ’n groot fokus.
Tydens die besoek kon ek ook na nette gaan kyk wat Drosophila suzukii uitsluit om myself daarvan te begin vergewis. Dis baie duur en gaan moeilik wees om by ons te implementeer.
V. Is dit moeilik om produsente te oorreed om minder te bespuit?
Glad nie. Ek dink die produsente wat na ProCrop toe kom wil beter besluite neem en meer betrokke wees by geïntegreerde plaagbestuur.
Kostes van spuitaanwendings kan ’n faktor wees – dis nie altyd die koste van die aktief nie maar die koste van die diesel en arbeid. Maar dit gaan nie vir my oor besparing nie. Dit gaan oor sinvolle besluite om gewasbeskerming te verseker en dit wat nie ’n sinvolle plek het nie uit die spuitprogram uit te haal.
Onthou daai spuite wat ons nie opsit nie verlaag ook die risiko vir weerstandbiedendheid. Ons moet ons aktiewes minder blootstel want beskikbaarheid van aktiewes raak al hoe meer ’n uitdaging veral as jy na die EU gaan met jou vrugte.
Dit gaan ook daaroor om monitering te gebruik om te besluit wanneer doen ons wat. Tydsberekening is krities belangrik.
V. Dink jy die meerderheid van produsente moniteer genoeg?
Definitief nie. Monitering is ook dikwels nie statisties sinvol nie. Produsente sit byvoorbeeld lokvalle uit maar die hoeveelheid per hektaar en die posisionering daarvan is nie sinvol nie. En dit is soms moeilik om produsente te oorreed om ’n permanente monitor aan te stel.
Maar my indruk is dat dit baie areagebonde is. Ons is baie bevoorreg om in die Koue Bokkeveld te werk wat gevorderd in terme van monitering is.
Die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum speel moontlik ’n rol. Dit bied geweldige waarde vir die gemeenskap – dis nie net monitering wat daar aangebied word nie. Daar is byvoorbeeld lewensoriëntering en finansiële geletterdheid vir die algemene werker.
Die Koue Bokkeveld het ook ’n baie hoë vlak van geleerdheid in byvoorbeeld hul skole. Die bedrag wat die sagtevrugtebedryf oor die afgelope 40–50 jaar in die vallei terug belê het, is massief.
V. Waaraan moet produsente dink as dit kom by spuitaanwending?
Sinvolle toedieningsmetodologie kan wêrelde se verskil op plaasvlak maak in terme van tydbestuur en logistiek. Dit, tesame met meer effektiewe gewasbeskerming, is die grootste voordele wat jy daaruit trek.
Die ander groot voordeel van loweraangepaste bespuiting is die positiewe effek op die omgewing van verminderde spuitdrifsel. Spuitdrifsel het negatiewe impakte op die omgewing indien dit met natuurlike veld en predatore in kontak kom. Die wetenskap hieroor is nog onduidelik maar negatiewe effekte van sommige aktiewes is al in die laboratorium bewys.
Met beter toedieningsmetodologie stel jy jouself ook in staat om gereed te wees wanneer beleid rondom vermindering van spuitdrifsel eendag in Suid-Afrika geïmplementeer of deur ons markte vereis word.
Produsente moet na beter stelsels beweeg wat pas by hulle bome. Ons boomargitektuur het begin verander – 20 jaar terug het ons met oopkelkstelsels gesit waarvoor ’n laeprofielspuit ’n beter keuse was. Nuwe hoёdigtheidsaanplantings vereis hoёprofielspuite en laer lugvolumes.
Ek weet jy stap nie net uit en koop ’n nuwe stelsel nie, maar die regte boodskap moet by die produsent uitkom oor wat om aan te skaf. In Duitsland het hulle byvoorbeeld ’n lys van goedgekeurde spuite waarvoor die spuitdrifselpotensiaal bepaal is.
My droom is om eendag ’n Suid-Afrikaanse spuitlaboratorium op te sit. Ek is ’n plantpatoloog en my groot passie is maar nog steeds toediening. Ek sal baie graag in die toekoms ’n spuitlaboratorium wil hê om produsente te help stelsels beter opstel, om ons bedryf voor te berei vir spuitdrifselvermindering, en om stelsels te evalueer sodat produsente beter keuses kan maak wanneer stelsels aangeskaf word.