Skip to content
5

Koos Lötter – een van ‘n soort

Deur Elise-Marie Steenkamp

Die legendariese landboukundige en skrywer Koos Lötter (92) is onlangs deur die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf vir sy bydrae tot dié bedryf  en spesifiek ook vir die ontwikkeling van die alternatiewe gewasse, vereer.

’n Oorkonde is aan die deurwinterde pomoloog oorhandig deur Hortgro se uitvoerende direkteur, Anton Rabe, en dr. Ilse Trautmann, navorsingshoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, “vir ‘n  leeftyd se onbaatsugtige en voortreflike diens”.

Lötter, oud-dosent van die Departement Hortologie aan die Universiteit van Stellenbosch (US), is deur die jare geken as Koos Kiwi, of sommer soos die meeste studente hom later genoem het, “Oom Koos”.

Lötter se navorsing oor die pluk van vrugte  was ‘n deurslaggewende stuk werk vir die sagtevrugtebedryf en het die grondslag gevorm van hoe vrugte vandag nog gepluk word. Daarbenewens is hy die skrywer van verskeie boeke, waarvan “Die vy in Suid-Afrika”, sy mees onlangse pennevrug is.

Lötter het tydens die funksie gesê dat hy nie woorde het om te beskryf hoe hy voel nie. “Alles, in die lewe, selfs die landbou, gaan oor mense. Sonder mense kan iets nie regkom nie. Om te skryf was van jongs af een van my passies en ek het nog altyd geweldige genot daaruit geput. Selfs in my voorbereiding vir lesings het ek dit geniet om notas te maak.

“Wanneer mens ouer raak moet jy jouself afvra of jy nog die moeite werd is, en my antwoord is dit hang van jouself af. Ek is nog baie besig. Daar is soveel goeie boeke om te lees.  Ek kan myself nie sien niks doen nie.”

Lötter wat beskryf word as ‘n natuurlike avonturier is op 9 Desember 1926 op die plaas ‘Waterval’ naby Villiersdorp gebore, en het op die plaas ‘Lankgewag’ groot geword. Hy was een van drie kinders wat aan die Hoërskool De Villiers Graaff op Villierdorp skool gegaan het. As sestienjarige in matriek is sy pa oorlede en moes hy sy ma op die plaas gaan bystaan. Lötter was ook bekend weens sy betrokkenheid in die Suid-Afrikaanse Weermag. As agttienjarige het hy eers in Egipte en later in Italië as ‘n lugmagbombardier in die Tweede Wêreldoorlog geveg.

Hy het in 1951 sy BSc Agric-graad aan die US verwerf – waar hy van jongs af berug was weens sy Harley Davidson-motorfiets met ‘n syspaan wat hy vir 35 pond met sy “soldaatgeld” gekoop het.

Lötter glo fyn tydsbeplanning is die sleutel tot sukses en produktiwiteit. “Mens moet elke dag jou tyd beplan en voorberei vir die volgende dag.” Hy beplan selfs om binnekort nog ’n boek uit te gee.

Dappie Smit van Hortgro het gesê dat Lötter se passie vir die landbou aansteeklik was. “Oom Koos het top landbouers help kweek en daardeur menige se lewens diep geraak. Hy het ‘n fenomenale voorbeeld vir elke student wat hy help bearbei het, gestel en het altyd tyd vir almal gehad.”

Smit onthou hoe Lötter se huis nooit gesluit was nie en dat die studente gereeld sy kombuis geplunder het. Rabe het gesê dat hy Lötter as student leer ken het as Koos Kiwi. “Hy was daardie tyd (dalk nog steeds) ‘n wêreldkundige op kiwi’s en het ‘n hortologie-les of twee oor die alternatiewe gewasse gegee. Koejawels, vye, kiwi’s, selfs lukwarte en kwepers.”

Rabe onthou goedig hoe hy saam met ander finale jaar studente een aand vir ‘n braai na Oom Koos se huis is. “Ons het onder andere sy kiwi-likeurs wat hy met groot moeite van orals in die wêreld versamel het, van ‘n kant af leeg gemaak. Hy wou nog keer toe is dit te laat.”

Dr. Ilse Trautmann het gesê dat boedels dikwels aan monetêre waarde gemeet word, maar dat mens eintlik na die impak wat iemand gemaak het, moet kyk. “Oom Koos se voetspoor in die landbou, en sy landbouboedel is groot.”

Trautmann het vertel hoe hulle paaie gekruis en dit gekom het dat Elsenburg sy boeke uitgee. “Sy werk was altyd van uitstaande gehalte. Niks was halfgebak nie. So bel ek hom om te vra oor redigering of vertalings, dan is sy  antwoord altyd, ‘klaar gedoen’. Sy produktiwiteit is verstommend en ek sien daarna uit om nog saam met hom te werk.”

Foto onderskrif: Oom Koos Lötter ontvang die oorkonde van Anton Rabe, Hortgro se uitvoerende direkteur, en dr. Ilse Trautmann, die Wes-Kaapse department van landbou se hoof van navorsing en tegnologie.

Back To Top