Nuwe aanstellings versterk Hortgro Science adviesraad
Prof. Karen Theron en dr. Ilse Trautmann is bekendes in die sagtevrugtebedryf. Trautmann en Theron het vroeër vanjaar by die Hortgro Science adviesraad aangesluit. Maar beide se loopbane het hulle amper in ander rigtings geneem. Deur Anna Mouton.
Prof. Karen Theron het haar PhD in 1993 aan Universiteit Stellenbosch voltooi. Haar navorsing het die fenologie van nerinas ontrafel. Nerinas is bolplante wat spoggerige pink of rooi blomme dra. “Snyblomme was my eerste liefde,” vertel Theron. “Ek het ook klas gegee oor snyblomme. Ek het vroeër jare baie op fynbos gewerk. Ons het onder andere gekyk na die snoei van proteas om blomtye te skuif.”
Na haar PhD het Theron as senior dosent en later professor by die Universiteit aangebly. Alhoewel die sagtevrugtebedryf Theron ken vir haar werk op plantgroeireguleerders, sê sy dat haar eerste nagraadse studente nie steen- of kernvrugnavorsing gedoen het nie. “My heel eerste student het ’n voedingsprojek op komkommers in tonnels gedoen.”
Theron het haar fokus na plantgroeireguleerders verskuif omdat daar toevallig reeds ’n snyblomnavorser in die hortologie departement was. Snyblomme se verlies was sagtevrugte se wins. Theron se werk het beter programme vir vrugset en vruguitdunning moontlik gemaak. Die beheer van vrugset en vruguitdunning is noodsaaklik vir die winsgewendheid van boorde.
“Ek het gewerk in ’n toegepaste navorsingsveld,” sê Theron. Haar klem op toegepaste navorsing het haar gehelp om sterk bande met verskeie vrugtebedrywe te smee, wat weer gelei het tot befondsing van poste en projekte, en die bou van kapasiteit binne die departement.
Theron was vanaf 2002–2014 die voorsitter van die hortologie departement. Sy het in daardie tydperk vir een jaar waargeneem as dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe. Vanaf 2014–2021 het sy die Hortgro Leerstoel in Toegepaste Vooroes Sagtevrugtenavorsing beklee.
“Navorsing in sigself is natuurlik belangrik,” sê Theron, “maar die proses van opleiding van nagraadse studente in die proses is vir my die belangriker gedeelte.” Theron het oor die jare rondom 100 nagraadse studente opgelei waarvan baie vandag in die sagtevrugtebedryf werksaam is.
Sy het amptelik afgetree in 2021, maar gee steeds klas aan hortologie studente, en bly betrokke by konsultasie en navorsing.
’n Wetenskaplike met ’n bestuursliefde
Dr. Ilse Trautmann is adjunk-direkteur-generaal van landbounavorsing en regulatiewe dienste in die Wes-Kaapse departement landbou. Maar sy wou eintlik oorspronklik argitektuur gaan studeer. Gelukkig vir die landbousektor het die vereiste vir geskiedenis haar van dié plan laat afsien.
Trautmann het gevolglik ’n onderwysbeurs bekom en ingeskryf vir ’n BSc met die doel om ’n biologie juffrou te word. Haar dosente het haar oorreed om aan te bly vir ’n MSc in plantfisiologie. “Toe sê my prof vir my, jy weet mos jy wil nie gaan skoolgee nie, doen eerder ’n PhD,” onthou sy. Sy het haar onderwysbeurs terugbetaal en haar PhD, ook in plantfisiologie, in 1990 aan Universiteit Stellenbosch voltooi.
Die weefselkultuurnavorsing wat Trautmann vir haar PhD gedoen het, het haar die ideale persoon gemaak om die nuwe weefselkultuurlaboratorium vir tafeldruifnavorsing by die LNR-Nietvoorbij te vestig. Sy het van 1991–1998 dié laboratorium bestuur. In 1998 is sy bevorder na assistentdirekteur van plantbeskerming by die LNR-Nietvoorbij wat later na samesmelting met die LNR-Infruitec die LNR-Infruitec-Nietvoorbij geword het.
Alhoewel Trautmann navorsing geniet het, sê sy dat haar eintlike liefde navorsingbestuur is. Sy het in 2003 die pos van adjunkdirekteur in navorsing by die Wes-Kaapse departement landbou aanvaar. Sy is na hoofdirekteur bevorder in 2011 en het hierdie posisie beklee totdat sy in 2021 na haar huidige pos bevorder is. Haar portefeulje sluit navorsing- en tegnologieontwikkeling, landbou-ekonomie, en veeartsenykundige dienste in.
“My rol as senior bestuurder in die departement is om vir navorsers, tegniese spesialiste en veeartse die omgewing te skep waarin hulle uitstekende navorsing en ander kliënt- en probleem gefokusde werk kan doen om oplossings te vind en die landbousektor te ondersteun,” sê Trautmann. Sy glo dat die geheim van suksesvolle bestuur is om die beste moontlike mense aan te stel. “Stel mense aan wat beter as jy is.”
Volgens Trautmann is dit ook belangrik om mense vanuit diverse agtergronde in te bring. “Die suiwer navorsing moet deur tegniese spesialiste gedoen word, maar wanneer dit kom by innovasie dan bring jy mense van ander dissiplines ook in wat waarde kan toevoeg en bietjie die nuwe hoed op ons navorsing kan sit.”
Die regte navorsing vir die regte redes
“Die adviesraad verskaf basies die strategiese rigting vir die navorsingafdeling van Hortgro, in lyn met die mandaat wat ons vanaf die Hortgro raad kry,” verduidelik Stephen Rabe, voorsitter van die Hortgro Science adviesraad. “Die adviesraad moet op hoogte wees van die behoeftes van produsente, asook na-oes behoeftes.”
“Wat belangrik is in terme van navorsing, is dat jy die regte navorsing reg doen, vir die regte redes en die regte mense,” sê Prof. Wiehann Steyn, algemene bestuurder van Hortgro Science.
Steyn glo dat mense met ervaring van navorsing en die navorsingsomgewing onontbeerlik is vir die adviesraad. “Byvoorbeeld word meer as 60% van ons navorsing deur Universiteit Stellenbosch gedoen. Hulle is ons grootste diensverskaffer. Karen was vir 40 jaar lank direk aan die universiteit verbonde, en sy ken hulle prosesse en verstaan daardie omgewing.”
Theron beaam dat dit belangrik is om die navorsingsomgewing te verstaan sodat verwagtinge realisties bly. Produsente is dikwels só gefokus op oplossings vir hulle probleme dat hulle die ander funksies van die Universiteit uit die oog verloor. “Daar is byvoorbeeld die aspek van mense oplei,” sê Theron. “Dit is ’n addisionele voordeel van navorsing. Mens kan die perspektief neem dat die geld wat gegee word vir navorsing wyer as net vir probleemoplossing gebruik word.”
Beide Theron en Trautmann identifiseer ’n gebrek aan kapasiteit as een van die groot uitdagings in die landbounavorsingsektor. “Ek is tog bekommerd dat ’n groot groep van die huidige navorsingkapasiteit besig is om hier na 50 toe te beweeg en dat ’n groep selfs naby aftrede is,” sê Trautmann. Sy sien opleiding en mentorskap as kritiek vir die toekoms van die landbousektor.
Die ander noodsaaklike aspek, volgens Trautmann, is om doodseker te maak dat projekte nie net vir studente kwalifikasies gee nie. “Projekte moet vir ons daardie inligtingsmyle gee – navorsinggeld moet omgesit word in inligting wat deur die plaashek beweeg om produksie op plaasvlak te verhoog en ook meer volhoubaar te maak.”
Trautmann bring wye ervaring van die landbounavorsingsektor, insluitende aspekte soos tegnologie oordrag, befondsing, en skakeling met nasionale en provinsiale rolspelers, na die Hortgro Science adviesraad. Steyn sien haar deelname as ’n ideale geleentheid om bande tussen Hortgro Science en die Wes-Kaapse departement van landbou te versterk.
“Die dae is verby wat mense passief op rade sit. Gekose raadslede moet waarde toevoeg,” beklemtoon Rabe. “Karen en Ilse se ervaring en kundigheid bring gravitas na die Hortgro Science adviesraad. Ek dink dit is baie positief dat ons mense van hulle kaliber kan werf.”