
Ontmoet die nuwe generasie bedryfsleiers
Alexander Gibson van Doornkraal Agri is een van die eerste groep jong mense wat Hortgro se bedryfleierskapprogram voltooi het. Deur Anna Mouton.
Hortgro het die program in 2022 geloods om jong mense in die sagtevrugtebedryf as toekomstige bedryfsleiers te help toerus deur hulle aan bedryfstrukture en -programme bloot te stel. Deelnemers het ook die geleentheid gehad om hulle netwerke uit te brei.
Leierskap in sigself is niks nuuts vir Alexander Gibson van Doornkraal Agri nie. Hy het reeds in 2021 die Agri Wes-Kaap en Santam Landbou se Jong Boer van die Jaar toekenning ontvang. Gibson is ’n derde-generasie vrugteprodusent in die Witzenbergvallei. Hy bestuur sedert 2009 Doornkraal Agri saam met sy pa, George Gibson.
George Gibson het Doornkraal en Hartebeesvallei in 1990 geërf. Sedertdien het ander plase bygekom en tans beslaan Doornkraal Agri ongeveer 420 hektaar appels en pere in die Witzenbergvallei sowel as 180 hektaar steen- en kernvrugte in die Koue Bokkeveld. Daarby het hulle 50 hektaar uie en vee in die Koue Bokkeveld en 4 500 hektaar weiding in die Ceres Karoo.
Doornkraal Agri het hulle eie verkoelings- en verpakkingsfasiliteite asook aandele in die bemarkingsmaatskappy Good Hope Fruit.
Alexander het met Hortgro gesels oor sy siening van die sagtevrugtebedryf en sy ervaring van die Hortgro bedryfleierskapprogram.
Q. Wat het jy geleer uit die Hortgro bedryfleierskapprogram?
Daar is baie aspekte rondom boerdery waarvan ons as boere nie altyd bewus is nie omdat ons so gefokus is op ons eie domein. ’n Mens besef nie die omvang van Hortgro se ondersteuning en die netwerke waarby hulle betrokke is nie. Dis goed om te sien waarheen ons maandelikse heffing gaan en waar hulle vir ons veg.
Dit was ’n goeie ervaring om in ’n gesprek te wees met 20 ander bedryfsleiers wat elkeen hul eie toekomsvisie het. Tydens die verskeie twee-dag leierskapsaanbiedinge het ons oornag, wat ’n briljante idee is, want ons kon oor meer as net landbou gesels en hoor met watter interessante projekte almal besig is.
Q. Leierskap is nie vir jou nuut nie. Wat is jou benadering?
Ek hou daarvan om vir mense eienaarskap te gee en te sê, leef jouself uit, verbeter dinge binne jou afdeling en geniet dit wat jy doen. Hoe meer verantwoordelikheid en vryheid jy vir ander mense gee, hoe meer presteer hulle.
Ons is ’n baie jong groep by Doornkraal Agri. Ek glo ons sal as ’n span nog baie struikelblokke ervaar en oorkom maar ons het ’n goeie toekomsvisie en saam sal ons ons doelwitte bereik.
Q. Julle besigheid is vanaf kwekerybome tot bemarking geïntegreer. Wat is die voordele hiervan?
Doornkraal was nie altyd so geïntegreer nie. Tien jaar gelede was ons nie ’n aandeelhouer by ’n bemarkingsmaatskappy of CFP [Ceres Fruit Processors] nie en ons het geen direkte verbintenis met ’n kwekery gehad nie, daarom was daar baie risiko op die tafel.
In 2013 het ons 90% haelskade gehad en ons was nie ’n aandeelhouer by CFP nie. Gelukkig het ons ons eie verkoelingsfasiliteite gehad en kon alles vol sapvrugte pak om geleidelik aan die sapaanleg te lewer. Intussen het ons aandele bekom en kon na hierdie seisoen se swaar haelskade sapvrugte sonder probleme lewer.
My pa het in 1998 die verpakkingsaanleg begin en ek is baie bly oor daardie besluit wat hy geneem het. Dit beteken vir ons baie in moeilike jare soos verlede jaar met die haelskade. Ons oorhoofse koste is baie laag en dit beteken op die ou einde dat Doornkraal se pakhuis baie waarde tot die plase en produk toevoeg.
Ek wil ook nie my vrugte vir ’n ander maatskappy gee en dan is dit uit my hande uit nie. Ek wil nie koelkamers oopmaak en vrugte sap toe ry as gevolg van ’n bestuursfout nie. Ons doen definitief nie altyd alles 100% reg nie. Ons maak ook foute maar ons kan die oorsaak vind en dit regstel.
Ons het nog altyd deur Good Hope Fruit bemark en het sedert 2018 aandele. Dit beteken dat ons baie nader aan ons markte is – ons sien die kopers – en ons het beheer oor waarheen ons vrugte gaan. Ons kan die vrugte vir die spesifieke markte kweek.
Q. Vertel ons meer oor julle verhouding met Cape Sweet Nursery.
Na my besoek na die EU in 2016 het ek besluit om hoë-digtheid boorde op dwergende onderstamme te plant maar daarvoor is die regte kwekerybome nodig. Ons het dus ’n strategiese besigheidsverhouding met Cape Sweet Nursery aangegaan, aangesien hulle dieselfde visie het.
Om die regte tipe kwekeryboom te bekom is ’n baie groot uitdaging in Suid-Afrika. Die EU se sukses lê in hul uitstekende kwekerybome en hulle plant tweejaaroue geveerde bome. Ek wil dieselfde doen by ons volgende aanplantings. Ek wil weefselkultuurbome in sakkies in die herfs plant – nie in die lente soos wat dit altyd voorheen gedoen is nie.
Ons is by die Hortgro bedryfleierskapprogram aan weefselkultuurbome en Hugh [Campbell] se werk rondom plantverbetering blootgestel. Nou is die vraag of die bedryf ekstra gaan betaal vir ’n gesertifiseerde boom – ek dink hulle moet daarvoor betaal.
Die boom is die belangrikste aspek. Ek is tevrede om ’n premie te betaal by Cape Sweet Nursery vir ’n uitstekende boom wat nie gaan vrek nie. Ek oes die voordele.
Q. Wat geniet jy omtrent jou loopbaan in landbou?
Boerdery is ’n uitdaging en dis vir my lekker. Niks bly ooit dieselfde nie – die bome bot en blom nooit dieselfde nie. Die boerdery opset is so divers dat ek elke enkele dag iets anders doen – ek is betrokke by al die fasette van die waardeketting.
As gevolg van die struktuur van ons besigheid spandeer ek ongelukkig minder tyd in die boorde maar die bestuur van die besigheid bied baie ander uitdagings en ek geniet dit vreeslik baie.
Ek geniet die bemarking waar ’n mens moet bewus wees wat in al die verskillende markte aangaan. Die boerdery en die ongelooflike tegniese aspekte van chemikalieë of die ingewikkeldheid van die bome prikkel my baie. En dan kom die koelkamers en die pakhuis ook nog by.
Q. Jy het drie kinders. Dink jy landbou sou vir hulle ’n goeie loopbaankeuse wees?
Ek dink dis ’n goeie loopbaan veral in Suid-Afrika as ons net stabiliteit kan kry. Ek dink daar’s baie geleenthede en diversiteit in die landbou. Die vrugte bly verseker die belangrikste want die produk moet reg wees maar landbou gaan lankal nie meer net oor boerdery nie.
Ek sal nogal daarvan hou as my kinders betrokke raak by landbou maar ek sal hulle nooit forseer nie. My oudste dogtertjie is nou vyf, en as ek sien hoe sy ons huishouding bedryf, glo ek sy sal ’n goeie besturende direkteur van ’n landboumaatskappy kan word!