Skip to content
Spuitpomp Web

Veertig jaar se veranderinge in bespuitingstegnologie

Deur Anna Mouton

Marius Ras is vir die afgelope vier dekades betrokke in die navorsing en ontwikkeling van tegnologie vir bespuiting. Hy het as jong meganiese ingenieur sy loopbaan by die Departement Landbou in Stellenbosch begin. Sy werk daar het uiteindelik bygedra tot die ontwikkeling van die boom-ry-volume-model, waarvoor Ras, saam met John Levings en Frikkie van Schalkwyk, in 1990 ’n toekenning van die Kaapse Pomologiese Assosiasie ontvang het.

Vanaf 1995 tot 2020 was Ras bemarkingsdirekteur by Rovic Leers. Hy het verlede jaar uit daardie pos afgetree, maar konsulteer nou privaat, en bly betrokke by navorsing. Daarby het Ras onderneem om sy kennis oor bespuiting saam te vat in ’n handleiding. Hortgro het by hom gaan hoor hoe vorder die handleiding, en hy het ook sy insigte gedeel oor veranderinge in bespuitingstegnologie, en wat die toekoms inhou.

Marius Ras
Marius Ras

Waar was ons met bespuitingstegnologie toe jy die bedryf betree het?

Die toerusting was soortgelyk aan wat jy vandag sien – ’n pomp, ’n tenk, ’n waaier, en spuitpunte – maar die tegnologie en aanwending daarvan was baie basies en baie kru. Vandag beskik ons oor die vermoë om die proses beter te verstaan omdat ons beter ontledings kan doen en gevolgtrekkings kan maak.

Daai tyd was die standaard dat iemand sy duim gesuig het om te sê watter toediening ’n groot óf ’n medium óf ’n klein boom nodig het. Die versoek wat ons, in Departement Landbou, spesifiek rondom steen- en kernvrugte gehad het, was om intensief te gaan kyk hoe om toedieningstegnieke te verbeter, en sodoende die effektiwiteit van die toediening en ook die sagtheid op die omgewing te verbeter.

Ons het begin deur evaluasies te doen op watersensitiewe kaartjies, in die tagtigs, met ’n rekenaar wat ons self ontwikkel het – tafelrekenaars was nie algemeen in my eerste jare van navorsing nie. Die analises was baie stadig. En die kaartjies is nie die blaar nie, so dit is nie die oppervlakte waarop jy werk nie, en dit verteenwoordig water, nie die aktiewe bestanddeel nie. Ons het geweet daar is ’n klomp gate, maar dis die enigste wat ons kon doen daai jare.

Nou gaan ons binnekort tegnologie bekendstel wat deposisie op natuurlike oppervlaktes binne sekondes evalueer met behulp van ’n selfoon – dis wat tegnologie ons nou gebring het.

Hoe het die boom-ry-volume model ontwikkel?

Die eerste vraag wat ons probeer antwoord het, was hoeveel water het ons nodig? Die oomblik toe ons dié vraag begin navors, toe besef ons dit is nie net die watervolume wat belangrik is nie, dit is hoe dit geatomiseer word, hoe die druppels na die teiken oorgedra word, en hoe lyk die boomstruktuur wat die druppels moet ontvang?

Die een vraag wat vir ons op daardie stadium onmoontlik was om te antwoord, was hoe moet die lugmomentum en lugsnelheidsprofiele lyk? Daai woorde is in daardie jare nog nie eers gebruik nie. Die masjien het wind geblaas en dis dit. Ek het dus my nagraadse ingenieursstudies op die onderwerp gaan doen, sodat ons die prosesse en interaksies beter kon begryp.

Ons het daarop gefokus om die hoof veranderlikes te identifiseer wat ons kan beheer, en gekyk hoe ons dit kan optimaliseer. Ons het uitgevind dat ons met die helfte van die volume water dubbel so goed kan doen mits die druppelgrootte reg is, en as die lugsnelheidsprofiel en lugmomentum by die boom dimensies en vorm aangepas is. So is die boom-ry-volume-model dus nie net as ’n watervolume-model nie, maar as ’n totale model, ontwikkel.

Hoe verskil steen- en kernvrugte van ander gewasse as dit kom by bespuiting?

In die eerste plek, dis ’n bladwisselende gewas. Dit gee vir ons ’n geleentheid om sekere regstellings te kan doen wanneer daar baie min obstruksie is. So beheermaatreëls teen byvoorbeeld witluis, op ’n vroeë stadium, is baie makliker in ’n bladwisselende omgewing.

Tweedens, die manier waarop kern- en steenvrugbome bestuur word – ek praat van boomvorms spesifiek – het dramaties verander in die afgelope veertig jaar. Die groot voordeel wat ons hieruit gekry het, is dat ons as gevolg van hierdie baie goed-bestuurde boomvorms en uitstekende lighuishouding, boomstrukture het wat selfs in die voldrag stadium relatief ontvanklik is om goeie tegnologie tot sy uiting te laat kom.

So ons het op hierdie stadium, in die hoë-digtheid – 3–4 meter rywydte – boorde die lugmomentum en lugsnelheidsprofiele gebalanseerd gekry op grondsnelhede van tot agt en nege kilometer per uur, met uitstekende deposisie resultate. Waar in die verre verlede, vier kilometer per uur al klaar vir ons ’n bietjie vinnig was.

Dit maak enorme verskille in terme van veld-effektiwiteit, en herwinning van chemie op die teiken. Maar ons kan dit ook net regkry as ons die regte lugmomentums en die regte lugsnelheidsprofiele het.

Die teendeel is dat in die huidige moderne boorde, as jy die ou-tegnologie toerusting gebruik, het jy die swakste resultaat denkbaar. Al is die boom spuitvriendelik, as jou tegnologie nie aangepas is by wat die boom vereis nie – en die tegnologie van gister is nie aangepas by vandag se bome nie – dan is jou resultaat uiters swak. Jy herwin nie ’n derde van die chemie op die teiken van wat jy herwin wanneer jy dit reg het nie.

Is hoër trekkerspoed realisties in ons boorde?

Uit die aard van die saak, teen agt en nege kilometer per uur bly jy nie op ’n trekker as jou boordvloeroppervlakte nie reg bestuur word nie. Dis ’n potensiële probleem. En natuurlik draaispasie. Om teen agt en nege kilometer per uur uit ’n ry uit te ry, en te moet draai – jy gooi die trekker en die spuitkar om.

Gelukkig is daar ook tegnologie ontwikkel waar ons veranderlike spuitspoedtoediening doen. Ons het nou veranderlike lugmomentumbestuur op die spuittoerusting. So as jy in ’n ry is waar die boordvloer nie goed genoeg is vir daai spoed nie, ry jy doodeenvoudig teen die spoed waar jy veilig voel, en die lugmomentum aanpassings word outomaties op die toerusting gedoen.

Wat sien jy as die volgende belangrike ontwikkeling in bespuitingstegnologie?

Daar’s baie plekke waar foute nog kan plaasvind, maar wat is die grootste probleem om toedienings konsekwent reg te kry? Die probleem is dat jy met ’n stuk toerusting in die veld werk, met enigiets kan verkeerd kan gaan en niemand weet daarvan nie.

So die volgende stap is volledige beheer, nie by die operateur se posisie by die toerusting nie, maar sentraal. Sodat ons naspeurbaarheid het, en intyds kan sien wat gebeur, en enige foute wat plaasvind onmiddellik kan optel en regstel.

Volledige beheer sal nie meer daar ter plaatse op die grond wees nie, dit sal deur stelsels wees wat sentraal beheer word en sentraal aangepas word – outomaties of met insette van spesialiste. Al die parameters wat nodig is vir interaksie word gemeet en word op ’n afstand beheer.

Daarmee saam word die blaardigthede en boomdigthede intyds gemeet – dis waarmee ons nou besig is – en aanpassings word outomaties gedoen. Dis nog so ’n jaar of wat weg, maar daar is al prototipes wat loop. Nie in Suid-Afrika nie, maar wel elders.

Wat is in jou handleiding, en waar kan mense dit kry?

Ek wou graag alles wat ek weet rondom toediening van plaag- en siektebeheermiddels, en onkruidmiddels, op skrif sit. En waar ek iets nie weet nie, wou ek die navorsing doen om dit by te sit.

Daar is ses modules van die handleiding – steen- en kernvrugte, sitrus, wingerd, groente, akkerbou, en neute – en ek werk ook aan ’n module oor subtropiese vrugte. Elke module het ’n soortgelyke generiese inleiding wat basiese inligting deel. Vandaar vertak dit in die spesialis velde.

Vir ’n begin sal die handleiding direk by my beskikbaar wees, in elektroniese formaat. Mense kan my kontak by mariusras49@gmail.com.

Back To Top