Skip to content
Storm1

Sagtevrugtebedryf steier weens windstorms en vloede

This content is Copyright protected. Please see Hortgro’s Information Disclaimer.

Download an updated press release here: Hortgro_pressrelease_SevereStormDamage_15May2026

Die afgelope paar dae se oorverdowerende geruis van stortreën en rivierwater het vandag plek gemaak vir die gezoem van kettingsae.

Dit terwyl landbouers en gemeenskappe in die Wes-Kaap verslae is na die verwoesting wat binne ure en dae gesaai is. In baie gevalle is daar waar vier dae gelede nog paaie, huise en boorde was, nou net opdrifsels, modder, klip en water.

Verskeie hooftoegangsroetes in die Wes-Kaap het verspoel of is onbegaanbaar, onder andere Michellspas na Ceres, wat weens modder- en rotsstortings gesluit is.

Hortgro Pome se voorsitter, Calla du Toit, sê die kostes en die impak van die storm is veel groter as net vloedskade. “Die grootste krisis wat Ceres tans het, is ’n tekort aan elektrisiteit. Vandag is die vierde dag sonder krag. Vroeë aanduidings is dat dit drie tot vier weke gaan duur om die elektrisiteitleiding te herstel.”

Volgens Calla is al die skole in die gebied disfunksioneel. “Daar is nie water nie en ook nie elektrisiteit nie, so leerders gaan nie skool toe nie. Daarbenewens woon etlike onderwysers asook leerders in Wolseley en terwyl die Michellspas gesluit is, bly Ceres ontoeganklik.

“In Prince Alfred Hamlet is die ouetehuis al sedert Maandag sonder water en krag, en dit is tans vrek koud in Ceres,” sê Calla.

“Die impak is groot, veral op plase waar gesinne sonder elektrisiteit en water is. Dit is ’n humanitêre krisis. Indien ons so vinnig moontlik die kragtoevoer kan herstel sal baie probleme opgelos word, maar dit lyk nie op die stadium asof dit ’n vinnige proses gaan wees nie.”

Volgens Calla is bedryfskade astronomies. Ceres Fruit Growers, wat meer as ’n duisend werkers in diens het, brand duisende rande se diesel per uur om die koelkamers aan die gang te hou. Dit terwyl paklyne nie loop nie. “CFG se werkers is al sedert Maandag by die huis, want ons het nie elektrisiteit nie en dis nie veilig om in sulke omstandighede te werk nie. Mense moet ook hul gesinne aan die gang hou sonder elektrisiteit. Die omstandighede is uitdagend.”

Terwyl reddingspanne onverpoosd werk om toegang na Ceres te herstel, meen Calla dat dit nie noodwendig die bedryf gaan help nie, aangesien die pas waarskynlik vir ’n aansienlike tyd vir groot vragmotors en koeltrokke gesluit sal bly. Dit beteken dat alle swaar voertuie oor Touwsrivier na die N1 gelei word, wat alles addisionele kostes is.”

Storm2
Kettingsae werk onverpoos om paaie toeganklik te maak

Hortgro Stone voorsitter, Charl Herbst, wie se plaas buite Tulbagh lê sê hy het die afgelope paar dae baie min toegang tot die buitewêreld gehad. “Dit lyk asof die hele Wes-Kaap steier weens die stormskade. Miljoene rande se infrastruktuur is vernietig, wat tans nog moeilik is om te kwantifiseer. Die vernietiging is oral sigbaar van Tulbagh, langs die Breërivier, Wolseley tot by Bonnievale. Dit wil voorkom asof almal naby ’n rivier erge skade het.”

Veral brûe, paaie, pakstore, pomphuise, masjinerie, boorde en huise is weg. “Plaaswerkers het ook geweldige verliese gely. Party huise is verspoel en natuurlik kan baie landbouwerkers nie gaan werk nie, wat beteken daar is geweldige inkomsteverliese in landbougemeenskappe.”

Volgens Charl was die steenvrugbedryf, reeds voor die storm in ’n finansiële penarie weens swak pryse vir produkte. “Daar is ’n paar goed wat aanleiding gegee het tot die swak pryse, maar die hoofrede is die swak bestuur en onproduktiwiteit by die Kaapse-hawe die afgelope seisoen. Die hawe het die steenvrugbedryf vanjaar op sy knieë gedwing en net toe ons gedink het die steenvrugbedryf kan nie ’n erger jaar beleef nie, toe kom hierdie storm en maak alles net soveel erger. Die steenvrugbedryf kan eenvoudig nie nog ’n ramp absorbeer nie en is nou in ’n uiters benarde posisie.”

Vroeë aanduidings uit die Elgin-Grabouw-Vyeboom-Villiersdorp-streek is dat, buiten infrastruktuurskade, ongeveer 50% van die Cripps Red-appeloes verlore is, asook nette, boordinfrastruktuur, en bome wat omgewaai het.

Storm3
Weggespoelde paaie in die Tulbaghvallei

Intussen is daar begin met die bestekopname van skade in die Langkloof, wat die vorige week deurgeloop het.

Neil-Pierre Strydom, Hortgro-verteenwoordiger in die streek, het gesê dat al wat pad is, bykans weggespoel is, asook grondstortings en damme wat daarmee saamgegaan het. “Party produsente het meer as 1000 mm reën binne etlike dae gehad. Joubertina het ook sonder water gesit en die R62, die hoofroete in die Kloof, het op drie plekke ingeval. Produsente in die streek het ook nog Cripps Pink en Cripps Red aan bome gehad.”

Produsente probeer nog planne maak om by die vrugte uit te kom en dit in die pakstore te kry. Volgens Neil-Pierre is boere bereid om paaie self te herstel en probeer hulle tans by Sanral, onder wie se beheer die paaie val, toestemming daarvoor kry.

Foto’s verskaf deur Charl Herbst.

  • Inligting sal bygewerk word soos dit ontvang word.
Back To Top
error: Content is protected !!