
Produsente deel omvang van stormskade in die Wes-Kaap
Vrugteprodusente in verskeie dele van die Wes-Kaap tel steeds die koste van die onlangse swaar reën en oorstromings wat groot skade aan plase, infrastruktuur en boorde veroorsaak het.
Anthony Dicey van La Plaisant Estate sê die Breërivier en Kleinrivier het hul walle gebreek en groot dele van die plaas verwoes. Paaie, brûe, boorde en kragpale is meegesleur, terwyl werkershuise oorstroom en onbewoonbaar gelaat is. Hy sê een van hul plase is tans slegs te voet bereikbaar. Bome en opdrifsels wat die Breërivier se vloei belemmer, veroorsaak dat walle verder weggekalf word.

De Wet Lategan van Bergsig langs die Breërivier beskryf die skade as omvangryk, met sowat 100 hektaar wingerd-, peer- en amandelboorde wat geraak is. Groot erosie het paaie en rivierwalle beskadig en die ineenstorting van die Darlingbrug het toegang tot byna die helfte van die plaas afgesny. Volgens Lategan fokus hul span tans op noodrehabilitasie en die herstel van rivierwalle om verdere skade gedurende die winter te voorkom.

Jan-Pieter Redelinghuys van Verrekyker buite Wolseley sê dat meer as 400 mm reën in een week geval het. Boorde staan onder water en baie infrastruktuur en paaie is weggespoel of beskadig. Hy sê die nat toestande bemoeilik herstelwerk, wat groot koste en tyd gaan verg.
Hooffoto: Werkershuise wat oorstroom en onbewoonbaar is by De Wet Lategan en Seuns se boerdery.
Foto’s Verskaf




