Chris Krone se landboulesse
Deur Elise-Marie Steenkamp
Sy ma het die dag voor sy geboorte onder ’n pruimedantboom gestaan en gevoel dat die baba dalk vroeër gaan kom as beplan. Die dokter het gewaarsku dat dit ’n brugbaba en moeilike bevalling gaan wees. Die volgende dag word daar inderhaas Kaapstad toe gejaag en terwyl hulle sy ma nog by die kraaminrigting instoot, toe skree hy al. Want sien, reg teen die einde maak hy ’n bollemakiesie en begroet die wêreld soos ’n nuweling moet.
Chris Krone lag lekker as hy die staaltjie vertel. Want jare later word hy ’n kampioen sierduiker. “Sommer vroeg reeds talent gehad,” spot hy. En sy ma, wat vandag in haar negentigs is, eet elke aand nog haar ag pruimedante. Sy is fiks en gesond en dra nie eens ’n bril nie!
Die sagtevrugtebedryf, spesifiek droëvrugte en ook die Internasionale Pruimedantvereniging (I.P.V.), het in Februarie afskeid geneem van die man wat vyf dekades lank diep landbouspore getrap het. Nie net in die droëvrugtebedryf nie, maar sommer wyd en suid. As mens ietsie in die sewentigs is, is dit dalk tyd om aan aftree te dink…hoewel Chris se dagboek so vol is dat dit nie klink asof afskaal op sy horison is nie.
Chris het in 1955 vir die eerste keer op ’n Vaaljapie (Massey Ferguson) geklim. Sy pa het op Waveren, buite Tulbagh, geboer en hy het die voorreg gehad om as ’n bakkieseun groot te word. “Ek het oral waarheen hy gegaan het voor in die bakkie saamgery, en só vroeg geleer hoe dinge in landbou werk.”
Chris het graad 10 aan die hoërskool op Tulbagh voltooi, waarna hy, soos baie ander Afrikaanse plattelandse plaasseuns, na ‘n Kaapse Engelse seunsskool gestuur is, om Engels te leer. Vir Chris was dit Rondebosch Boys High School. Met “Ingels” onder die knie, is hy na Stellenbosch Universiteit waar hy ’n BA-graad met handelsvakke voltooi het. Dis ook hier waar hy die liefde van sy lewe, Erna, met wie hy in 1973 trou, ontmoet het.
Desember 1971 onthou hy goed, want hy is terug plaastoe om te begin boer. “My pa was ’n leier in die vrugtebedryf, president van die destyds Bolandse Landbou-unie en hy was ook die voorsitter van die Inmaakraad in die tyd wat ons nog binne gereguleerde bedrywe gewerk het.”
Sy pa is later as ’n lid van die Nasionale Bemarkingsraad aangestel en moes na Pretoria verhuis. “Dit het gemaak dat ek op ’n vroeë leeftyd, eintlik voor ek gereed was, ’n senior bestuurder by die boerdery moes word. Hier in 1978 reeds het ons sterk gefokus op pruimedante. Iets wat my en my pa na aan die hart gelê het, was die ontwateringstonnels waarmee ons pruimedante gedroog het. Die tonnels het dag en nag geloop en omdat ek ’n fikse jong man was, kon ek in daardie tyd dag en nag werk.”
Met dié dat sy pa in Pretoria was, was daar ’n vakuum in die gemeenskap en Chris is “sommer oral op verskeie rade ingedruk”. Soveelso dat hy reeds in 1976 aangestel is op die Droëvrugteraad, voorsitter was van die Besproeiingsraad en Tulbagh Wynkelder, asook direkteur van Paarlvallei Bottelerings-maatskappy. In dié tyd het Chris ’n groot belangstelling gehad in die wynbedryf. Nie net het hy saam met ander die Tulbagh wynroete begin nie, maar ook die bekende Paddagang handelsmerk.
“Wat vir my altyd uitstaan in landbou, en een van my groot belangstellings, is mense. Reeds in 1976 stel ek die eerste senior produksiebestuurder van kleur aan op die plaas. Mense het ons kom sien, gesê wat is ons besig om te doen. My pa het my ondersteun en gesê dit is die regte ding om te doen, dit is die toekoms, mense gaan dit moet gewoond raak.”
Mense wat Chris al langjare ken sal weet een van sy beste vriende is Koos Baadjies. “Koos is ’n rolmodel in landbou. Superintelligent. Hy het bestuurder van produksie en menslike hulpbronne op Waveren-Landgoed geword. Koos was ook later lid van die Droëvrugte Tegniese Dienste se direksie.”
Chris was altyd gesteur deur die landbouwerkers se kinders wat nie dieselfde toegang tot opvoeding as boere se kinders gehad het nie. Chris en Koos het koppe bymekaargesit en oplossings probeer soek. “Ons wou probeer om van hierdie ongelykhede uit die weg te ruim.” Die gevolg was die Tulbagh Plaaswerknemers Stigting. En vandag staan D’Agen Versorgingsoord in Tulbagh as ’n baken. Waar voorskoolse kinderontwikkeling voorrang geniet, om veral vroue landbouwerkers te help om terug te keer werk toe en so huishoudelike inkomste te verhoog en die armoede-siklus te help breek.
Toe die winde van verandering in 1994 waai, kry Chris die geleentheid om saam met dr. Arno Visser, die I.P.V. se kongres in Australië by te woon. Sommer met die intrapslag is Chris verkies tot die uitvoerende bestuur, waar hy 24 jaar lank diens sou doen. Hy het drie keer die eer gehad om as president die I.P.V. te lei. “Ek kon ’n klein bydrae lewer in ’n baie groot bedryf,” sê hy beskeie. Suid-Afrika was maar ’n klein speler in die wêreldmark en het op daardie stadium twee en ’n half duisend ton pruimedante per jaar geproduseer. Dít, uit ’n wêreldproduksie van 250 000 ton.
Hoekom het ’n klein landjie soos Suid-Afrika dan so ’n groot rol gespeel en die wêreldbedryf beïnvloed?
“Ons kon dit doen, juis omdat die groot produksielande van die wêreld ons vertrou het. Ons was te klein en het nie ’n eie-agenda gehad wanneer dit by besluitneming oor groot sake gekom het nie. Ook was ons nie gedryf deur aspekte soos handelsbeperkinge, markte wat oopgaan, en protokolle nie. Suid-Afrika kon die rol van vredesregter speel en het gehelp om die wêreldliggaam bymekaar te hou.”
Onder Chris se leiding was daar ook internasionaal nouer met kwekerye saamgewerk, sodat die aanvraag na bome beter bestuur kon word. “Dit is krities as jy die wêreldvoorraad wil bestuur sonder om die pryse negatief aan te pas.” In 2019 het Chris uitgetree by die I.P.V. en die stokkie oorgegee aan Charl Herbst, wat Suid-Afrika nou verteenwoordig.
Chris se lanbouboodskappe is:
“Die bedryf is groter as die individu, die bedryf is groter as die fabriek, die bedryf is groter as die plaas. Die bedryf moet altyd eerste gestel word as ons suksesvol, volhoubaar wil besigheid doen. Die oomblik wanneer die belange van jou besigheid die bedryf oorskadu of selfs negatief raak, dan is jy op die langtermyn besig om jou eie besigheid te benadeel. Jy sal miskien op die korttermyn ’n golf ry, maar op die lange duur skiet jy jouself in die voet.”
Chris boer sedert 2003 nie meer nie en meen dat hy hierna eers werklik ’n beter bydrae tot die landbou kon lewer, omdat hy toe neutraal gedink en opgetree het. “Ek sê nie boere moet hul eie belang ondergeskik stel aan die bedryf nie, maar hul moet dit minstens parallel stel aan die bedryf. Die gedereguleerde omgewing waarin boere hul vandag bevind, maak hierdie stelling van my nog meer waar. In daardie tyd was daar groot samewerking om pryse te bepaal. Nou nie meer nie, en juis daarom moet die bedryf eerste gestel word.”
Die ander boodskap wat Chris het, is dat droëvrugte ten volle met Hortgro saamgesmelt is en dat alle rolspelers dit moet omarm. “Droëvrugte is nie saamloper of ’n Hortgro aanhangsel nie. Die samesmelting maak dat daar beter fokus is op droë boomvrugte en Hortgro het kapasiteit in bekwame bestuurspan wat ’n dinamiese bedryf dien. Droëvrugteprodusente moet van hierdie geleentheid gebruik maak,” sluit Chris af.
Kyk na ’n onderhoud met Chris Krone hier.
Onderskrif: By die bedryf se afskeidsfunksie vir Chris Krone, van links: Andre Smit, Ben Kotze, Nic Dicey, Chris, Dappie Smit en Anton Rabe.