Skip to content
Elke Crouch

Nuwe leierskap by Departement Hortologie

Dr. Elke Crouch neem vanaf 1 Februarie 2023 oor by dr. Esmé Louw, wat na ’n drie-jaar termyn terugstaan om op haar sagtevrugtenavorsing te fokus.

Dr. Elke Crouch het in 1999 haar BScAgric vanaf die Universiteit van Pretoria behaal. Daarna is sy na Universiteit Stellenbosch gelok deur hulle naoesnavorsing op vrugte. Sy het haar MSc op melerigheid in Forelle-pere onder leiding van dr. Deirdre Holcroft voltooi en is in 2002 as junior lektor in die Departement Hortologie aangestel.

Crouch se PhD-navorsing onder leiding van prof. Marius Huysamer het selwandkomposisie bestudeer met die doel om melerigheid in Forelle beter te verstaan. Haar doktorsgraad is in 2011 toegeken. Benewens haar baanbrekerswerk op melerigheid in Forelle is sy ook bekend vir haar navorsing op interne verbruining in Cripps Pink- en Fuji-appels, oppervlakkige brandvlek in Granny Smith-appels, en sagte brandvlek in SciFresh-appels.

Sedert 2003 word Crouch se pos deur die Molteno- en Lombarditrusts befonds. In 2021 is Crouch aangewys as die Navorsingsleerstoel in Naoesfisiologie van Sagtevrugte, wat deur beide trusts sowel as Hortgro befonds word. Crouch het met Hortgro gesels oor haar nuwe rol as departementshoof en waarom die departement uniek is.

Q. Wat maak die Departement Hortologie aan Stellenbosch so spesiaal?

A. Ons is die enigste hortologie departement in Suid-Afrika. Daar is nog mense wat hortologie doen in groter eenhede maar al die ander onafhanklike hortologie departemente bestaan nie meer nie. Dis hoekom ons so hard baklei het om ons naam en identiteit te behou toe Karen [Theron] nog departementshoof was – sodat ons nie ons fokus op hortologie verwater nie. Ons is baie gelukkig dat ons fakulteit tot nou toe baie ondersteunend was.

Ons het ook ’n baie unieke verhouding met die vrugtebedryf. Selfs wêreldwyd sê baie van ons kollegas hulle het nie dieselfde bedryf-universiteit interaksie wat ons het nie – ons is baie gelukkig om dit te hê. Die bedryf hou ons op ons tone en ons gee weer vir hulle antwoorde so daar’s heen-en-weer interaksie.

Q. Watter uitdagings sien jy vir die sagtevrugtebedryf?

A. Ek dink klimaat en water gaan altyd groot wees. Mens gaan saam na beter maniere moet kyk om boorde aan te pas en produksie volhoubaar te maak. Met die druk op pryse en markte op die oomblik moet mens baie fyner werk. Dis eintlik ’n goeie ding want ons natuurlike hulpbronne is nie net gratis nie. Mens moet dit baie nou en fyn bestuur.

Ons is in ’n era waar data die groot woord is – dit help ons om beter besluite te neem. Ek dink aan Tara [Southey] se praatjie by die Internasionale Peersimposium oor datagedrewe besluitneming in peerboorde. Ek dink datagedrewe bestuur gaan baie groot raak – ons het tot nou toe op die makroskaal bestuur maar dit raak baie meer gedetailleer.

Nog ’n uitdaging is nuwe kultivars – daar is so baie. Hoe verstaan ons verbruining en hoe om hulle op te berg? Kan ons hulle klassifiseer eerder as om al die resepte uit te toets vir elke liewe een? Daar moet beter maniere wees om nuwe kultivars te evalueer.

Ons kan kyk na vrugdigtheid, skildikte, en rypwording, en ook waar kultivars geteel is, sodat ons beter voorspellings kan maak. Die boom se drag en stres speel ook ’n groot rol, sowel as genetika en hantering. Mens kan meer navorsing hieroor doen, want daar is nou so baie kultivars dat produsente nie weet wat om te kies nie.

Q. Wat is jou planne vir die Departement Hortologie?

A. Ek sou baie graag wil hê dat ons studente meer blootstelling kry. Hulle kry wel binne die Departement die geleentheid om aan te bied en hulle doen fantasties. Stellenbosch studente het by die onlangse Internasionale Peersimposium met ISHS [International Society for Horticultural Science] Young Minds toekennings weggestap. Ek is baie trots op Liza-Mari Dippenaar van die Departement Hortologie en Martin John Richards van die Departement Plant-Patologie.

Dit is nogals ’n pluimpie vir Universiteit Stellenbosch aangesien hulle teen PhD studente van baie bekende universiteite meegeding het. In ons nagraadse program leer die studente om hul bevindinge aan te bied en te verdedig maar ek wil hulle meer geleenthede gee om ook oorsee hulle werk aan te bied. Dit gee hulle perspektief oor ons bedryf en die kans om te verder te ontwikkel.

Iets wat by die simposium uitgekom het is dat mens multidissiplinêr moet saamwerk – dit is tipies hoe baie van my programme werk. Ek doen beplanning van naoesprojekte saam met voor-oesnavorsers. As departementshoof wil ek graag meer bande na buite toe bou, en kyk na hoe ons departement beter met ons fakulteitsfamilie kan skakel. Ons wil ook sterker bande bou met privaat navorsingsmaatskappye om ons fokus areas as deel van groter groepe met ’n groter stel van vaardighede aan te spreek.

Ek wil ook graag meer internasionale brûe bou. Ek dink die Internasionale Peersimposium en die studieverlof wat internasionale navorsers by ons daarna bestee het, is een stap. Daar’s baie mense wat ons gekontak het wat hiernatoe wil kom vir studieverlof noudat hulle sien dat Luca [Corelli Grappadelli] en Bart [Nicolaï] hier was.

Ek dink baie mense het persepsies van Suid-Afrika en weet nie regtig wat om te verwag nie. Nou dat hulle hier was tydens die simposium en sien hoe baie ons het om te bied, wil hulle graag saamwerk. Veral in terme van ons navorsing oor die effek van ’n suboptimale klimaat op vrugteverbouing.

Onderskrif: Dr. Elke Crouch (derde van regs) by die Internasionale Peersimposium wat onlangs in Stellenbosch gehou is. Hier staan sy by twee Suid-Afrikaaanse navorsers wat ‘n prys gewen het, Liza-Mari Dippenaar (tweede van regs) en Francois Lourens. Luca Grappadelli is heel links.

Back To Top