Skip to content
167a9733

Hortgro Voorsitterstoekenning 2025 | Louis van Zyl

Dit is met groot waardering, dankbaarheid en respek dat ons die Hortgro Voorsitterstoekenning aan Louis van Zyl gee. Louis se loopbaan in die Suid-Afrikaanse kern- en steenvrugtebedryf strek oor meer as ’n kwarteeu en word gekenmerk deur visie, rentmeesterskap en ’n onwrikbare toewyding tot die groter bedryfsbelang.

Louis was na deregulering ‘n belangrike rolspeler van die nuwe bedryfsbedeling, ’n tydperk waarin die vrugtebedryf voor ongekende uitdagings gestaan het. Hy het nie net gehelp om strukture te vestig wat die bedryf op die lang termyn volhoubaar sou maak nie, maar ook die vermoë gehad om hierdie raamwerke dinamies aan te pas namate omstandighede verander het. Hierdie vooruitdenkende leierskap het verseker dat die bedryf veerkragtig en mededingend kon bly in ’n uitdagende wêreldmark.

As Hortgro bestuurder, het Louis oor 26 jaar ’n onuitwisbare stempel afgedruk. Sy kollegas beskryf hom as ’n “groot gees” en ’n “legende in eie reg”. Hy het altyd die spreekwoordelike ekstra myl geloop en sy eie gemak opsy geskuif om die belange van produsente en die breër bedryf eerste te stel.

Louis se bydrae was nie net strategies nie, maar ook persoonlik. As “Spanner O’Tool, Le Voux Von Klêr von Schlap en Kwartoermeester” het hy die rol van vriend en klankbord vir talle kollegas en rolspelers vervul. Met sy kenmerkende humor en warmte het hy nie net strukture gebou nie, maar ook mense verbind. Selfs buite die formele werkverband, of dit nou in die konteks van ’n braai, bosberaad of reis was, het hy ’n kultuur van samehorigheid en kameraadskap gevestig.

Sy aftrede uit Hortgro beteken nie dat sy invloed verdwyn nie. Inteendeel, sy erfenis lê in die sterk bedryfsorganisasie wat hy gehelp vorm het, asook in die waardes van diens, rentmeesterskap en integriteit wat hy geleef het. Louis het oor die jare gewys dat ware leierskap nie daarin lê om populêre besluite te neem nie, derhalwe was nie ‘n “roomysverkoper nie”. Leierskap is om moeilike besluite te neem, waarvan ander soms nie gehou het nie, maar wat vir die groter vrugtebedryf ten doel was.

Om hierdie redes verdien Louis van Zyl een van die hoogste erkennings van die bedryf – nie net vir wat hy gedoen het nie, maar vir wie hy is: iemand met integriteit,  ’n bouer, rentmeester en draer van die groter bedryfsbelang.

 

Back To Top