Skip to content
Mindset Concept ,silhouette Man Jumping Over Impossible And Poss

Inmaakvrugtebedryf fokus op positiewe toekoms

Deur Elise-Marie Steenkamp

“Produsente het dikwels nie beheer oor wat buite hul plase gebeur nie. Daarom moet hulle ’n positiewe ingesteldheid oor die toekoms hê, want as daardie boompie in die grond gesit word weet ons dit is nog vyf of tien jaar voordat ons die spreekwoordelike vrugte pluk.” Met die woorde het Anthony Dicey, voorsitter van die Inmaakvrugte Produsente Vereniging (I.P.V.) Donderdag die jaarvergadering geopen.

Die tema vir die dag het gedraai oor positiewe denke en optimisme ten spyte daarvan dat die Langeberg en Ashton voedselaanleg se toekoms steeds duister is. Jacques Jordaan, uitvoerende hoof van die I.P.V. het gesê dat dat daar altyd probleme in Landbou is. “Daar is nooit net maklike tye nie. Ons het baie uitdagings en die bedryf trek swaar, maar ons sal hierdeur kom.”

Jordaan het daarop gewys dat Suid-Afrika unieke kwaliteit produkte het met besonderse kleur en smaak soos die taaipitperske.  “Hoewel ons ’n klein speler met hierdie produk op die wêreldmark is, net 7% produksie, is dit ’n nismark waarop gebou moet word.”

Jordaan het voorts gesê die bedryf moet fokus op:

  • Kwaliteit – hoër kwaliteit produk verhoog markaandeel en uiteindelik prys.
  • Produkte moet belyn word deur die aanbod en die markaanvraag te konsolideer.
  • Produsente moet streef na winsgewendheid, deur insetkoste vs inkomste te bestuur.
  • Volhoubaarheid as deel van ’n diverse boerdery.

Verskeie streeksverteenwoordigers het gerapporteer dat die Junie/Julie reënvalsyfers etlike dekades se rekords oortref het en dat produsente uitsien na die komende seisoen. “Dit was die natste Junie in 25 jaar in die Koue-Bokkeveld. En ons koue-eenhede was tot op hede uitstekend,” het Theunis Hanekom gesê.

Johann Kriel het gesê dat damvlakke in die droogtegeteisterde Klein-Karoo ook vir die eerste keer in jare by 100% trek. “Ons bome is egter nog besig om te herstel. Die impak van die droogte het grondverbrakking meegebring wat nog nie herstel het nie. Ons word verder uitgedaag deur vrugtevlieg en valskodlingmot.”

Ander tendense is dat swak produserende bome steeds uitgekap word, dat min bestellings by kwekerye geplaas word, plaasdamme vol is, stygende produksiekoste oral knyp en dat bome plek-plek sewe dae vroeër gebot het.

Die bekende ekonoom, dr. Roelof Botha, het gesê verskeie positiewe tekens wys dat Suid-Afrika se ekonomie op die regte pad is. Volgens Botha is die nommer een rede hoekom Suid-Afrika sukkel met inflasie die globale skeepsvraghouer-koersindeks. “Tydens Covid het die skeepsvraghouers rekordpryse behaal weens tekorte, dit is besig om te herstel en die indeks is amper waar dit voor Covid was. Wêreldwyd is ekonomieë besig om van Covid te herstel en hoewel die rand tans swak en wisselvallig is, bly dit ’n belangrike geldeenheid wat op die buitelandse valutamark beter presteer as die geldeenhede van Brasilië, Turkye, Chili en Rusland. Die rand herstel altyd.”

Botha het voorts gesê dat makro-ekonomiese groei positief is en dat veral die vervaardigingsbedryf die afgelope drie maande in ’n ry, rekord volumes behaal het. Ook toerisme is op die herstelpad. Van die beste nuus is die afwaartse tendens van die produsenteprysindeks (PPI) en die verbruikersprysindeks (CPI). Ons totale uitvoere het rekords in 2022 laat spat. Ook in 2022 is 1.4m nuwe werksgeleenthede geskep, met ’n kwartmiljoen nuwe werksgeleenthede in die eerste kwartaal van 2023.”

Botha het afgesluit met: “Die herstelproses na staatskaping en Covid is op dreef. Skouer aan die wiel en met genade van bo was nog altyd ’n wenresep vir hierdie land.”

Prof. Marius Ungerer, van die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool, het produsente aangemoedig om hul eie sukses te ontwerp deur geleenthede aan te gryp en vrese te oorkom. “Landbouers is doeners, maar suksesvolle besigheidsmense weet dat hulle ook tyd moet maak om te wees (being), te reflekteer.”

“Verhoudings is alles. As daar nie goeie verhoudings is nie, dan is daar nie hoë potensiaal vir uitstaande sukses nie.” Hy het landbouers aangemoedig om tyd en energie in verhoudings te investeer en mense op te hef, want deur samewerking en met goeie spanwerk behaal mens sukses.

Ungerer het afgesluit deur te sê mens word gebombardeer deur denke oor skaarsheid wat vrese aanwakker. “Tog lewe ons in ’n tyd van oorvloed. Die geleenthede is daar, fokus op die positiewe, verander jou houding, skiet hoog, want die wêreld daarbuite is vol moontlikhede wat ontsluit kan word.”

Inspirational quotes:

Piet Karsten from the Karsten Group, a mega commercial farming business in South Africa, says: “Excellence is the result of caring more than others think is wise, risking more than others think is safe, dreaming more than others think is practical, and expecting more than others think is possible.”

Whitey Basson, South African business giant: “I want to share my life with ordinary people and enthusiastic people and not with those who always see the negative side. The success of a company does not depend on a single person. Excellent companies are run by excellent people in excellent teams. Success goes to so many people’s heads to the extent that they forget the small things and the value of being human as well as remaining humble. The world does not put up with that which is mediocre. It insists on the very best. Set your sights high and aim for the highest standards.”

 

Back To Top