Ceres Fruit Growers herdenk honderdjarige bestaan
Die visie van Ceres-produsente het ’n blywende erfenis aan die hedendaagse vrugtebedryf en Ceres-gemeenskap gelaat. Deur Anna Mouton.
In 1922–23 het Suid-Afrikaanse vrugte-uitvoere vir die eerste maal 1 miljoen houtkissies in ’n enkele seisoen oorskry. Vrugteprodusente het die noodsaaklikheid van samewerking binne die bedryf besef en gevolglik het 21 vrugteprodusente van die Ceres-distrik op 2 September 1922 byeengekom om die Ceres Fruit Growers Co-operative Association Ltd – CFG – te stig.
Die aanvanklike doelwitte was om die belange van die uitvoervrugteprodusente van Ceres te bevorder. Daar is klem gelê op aspekte soos die aankoop van verpakkingsmateriaal en inskakeling by die nuutgestigte Vrugtekwekers Koöperatiewe Beurs van Suid-Afrika.
Die Assosiasie is op 13 Januarie 1923 amptelik geregistreer. In die vroeë jare is direksievergaderings op die eerste Saterdagmiddag van elke maand gehou en volgens die notules was alle direkteure nie altyd betyds nie! Daarby kon direkteure vanweë taalverskille mekaar dikwels nie so lekker verstaan nie.
Alhoewel besprekings rondom die oprig van ’n koöperatiewe pakhuis reeds so vroeg as 1929 genotuleer is, het CFG eers in 1949 hierop begin fokus. Intussen is verkoelingsgeriewe wel binne ’n aparte maatskappy – Ceres Cold Storage Cooperation – in 1931 op ’n vorige gedeelte van die plaas De Bosch geopen.
CFG het in 1949 aangrensende grond gekoop en in 1950 ’n verpakkingsaanleg opgerig. Verpakking het in 1951 met aanvanklike voorsiening vir 5 000 kiste vrugte per dag begin.
Teen 1997 – die jaar van deregulasie – het CFG reeds vier pakhuise gehad en verpakking van Bon Chrétien-pere alleen het meer as ’n miljoen kartonne beloop. Die jaar daarop is besluit om Ceres Fruit Growers Co-operative Association Ltd te omskep na Ceres Fruit Growers (Edms) Bpk.
Hedendaagse CFG beslaan ongeveer 60 hektaar, hanteer gemiddeld 8 miljoen kartonne appels en pere per jaar, en bemark in bykans 105 lande.
Waarde vanaf plaashek tot winkelrak
CFG se doelwit is om produsente se uitbetalings te maksimaliseer deur die waardeketting vanaf die plaashek tot by die verbruiker te bestuur. Selfs ’n eeu gelede was CFG weens die kompleksiteit van die vrugtewaardeketting by meer as net verpakking betrokke.
Aanvanklik het produsente op hulle eie plase verpak maar hulle het die belangrikheid van temperatuurbeheer tydens vervoer en voor verskeping terdeë besef. CFG en individuele produsente het eers aandele in Ceres Cold Storage Cooperation opgeneem maar in 1958 het CFG besluit om self koelkamerkapasiteit te skep. Die eerste eenheid is in 1959 in gebruik geneem.
Teen 1970 het CFG genoegsame koelkamers gehad dat aandeelhouding in Ceres Cold Storage Cooperation verkoop is.
Die sagtevrugtebedryf het vanaf 1978 opnuut na beheerde-atmosfeerberging van veral appels begin kyk en CFG het reeds in 1982 beheerde-atmosfeerkoelkamers opgerig. Hiermee kon vrugte langer gestoor en die lewering van produk aan die mark beter bestuur word. Beheerde-atmosfeerkoelkamerkapasiteit by CFG het teen 1991 al 40 000 grootmaathouers beslaan.
Nadat vrugte gestoor en gepak is moet dit verkoop word en CFG is ook betrokke in bemarking as gesamentlike aandeelhouer – saam met Two-A-Day – in die bemarkingsmaatskappy Tru-Cape. Daarby het CFG, Tru- Cape en ander rolspelers in 2010 Link Supply Chain Management gestig om beter logistieke beheer uit te oefen.
Nieteenstaande die klem op uitvoere het CFG ook aandag aan verwerking gegee. Die realiteit is dat nie alle vrugte vars verkoop kan word nie en verwerking ontsluit waarde uit vrugte wat andersins vermors sou word. Versapping is ’n goeie voorbeeld hiervan.
CFG het aanvanklik laer graad vrugte aan Appletiser gelewer maar vanaf 1970 self konsentraat geproduseer. Vervaardiging van suiwer vrugtesappe – sogenaamde enkelsterktesap – het in 1978 begin en CFG het die bestaande handelsnaam Ceres Fruit Juices rondom 1984 oorgekoop.
Ceres vrugtesappe is vandag steeds algemeen bekend maar CFG is nie meer by enkelsterktesap betrokke nie – aandeelhouding in Ceres Fruit Juices is in 2003 aan Pioneer Foods verkoop. CFG behou steeds die meerderheid aandele in hulle konsentraataanleg, wat deel vorm van die hedendaagse Ceres Fruit Processors (Edms) Bpk.
Tegnologiese vooruitgang in die pakhuis
Gradering van vrugte volgens grootte en kwaliteit is ’n onontbeerlike komponent van verpakking en outomatisering hiervan het reeds vroeg in die geskiedenis van vrugte-uitvoere begin.
Die eerste CFG pakhuis is met ’n Kanadese Bartlett- en twee Amerikaanse Cutler-gradeerders toegerus. Die Cutler-gradeerders is teen ’n koste van R5 824.00 geïnstalleer. Hulle het vrugte volgens gewig sorteer met behulp van ’n balansmeganisme wat elke vrug met ’n verwysingsvrug vergelyk het.
CFG het in 1956 ’n tweede pakhuis opgerig en aanvanklik met ’n gradeerder vanaf die eerste pakhuis toegerus. In 1959 is nog twee appelgradeerders geïnstalleer. Teen 1960 het CFG-personeel soveel vernuf met gradeerders ontwikkel dat die maatskappy die hoofagentskap vir Bartlett in Suid-Afrika was.
Verdere pakhuise het in 1962, 1993 en 2012 gevolg terwyl die oorspronklike gebou in ’n pakmateriaalstoor omskep is. Gradeerdertegnologie het voortdurend ontwikkel. In 1983 is die eerste elektroniese gewigs-gebaseerde gradeerder, die Durand-Wayland paklyn, geïnstalleer.
In 2007 het CFG ’n Aweta gradeerder vanaf Nederland ingevoer. Die nuwe paklyn was só uitsonderlik lank dat die pakhuispersoneel dit na die N1 vernoem het. Die N2 het in 2021 in die vorm van ’n Greefa-paklyn aan die ander kant van die gebou verskyn. Natuurlik het die pakhuispersoneel toe die loopvlak tussen die twee paklyne die R300 gedoop.
Vandag maak CFG van moderne graderingstegnologie gebruik wat vrugte volgens veel meer as net gewig kan sorteer. Vrugte word op die paklyn deur rekenaars bekyk om eksterne defekte en kleur te bepaal terwyl infrarooi skandering selfs interne vrugkwaliteit kan evalueer.
Oor die jare het standaarde al strenger en verbruikers al meer kieskeurig geraak. CFG se ontwikkeling het dus deurgaans gemik om vrugkwaliteit te bevorder. Byvoorbeeld het die nuwe bedryfskantore wat in 1983 in gebruik geneem is voorsiening gemaak vir ’n laboratorium om rypheidsontledings te doen. Sodoende kan produsente ingeligte besluite neem oor die beste tyd om hulle vrugte te oes.
CFG het ook baanbrekerswerk op vrugteverpakking gedoen. In die vroeë jare van die bedryf is vrugte in houtkissies uitgevoer. CFG het reeds in die sewentigs proewe met kartonverpakking gedoen en uiteindelik hierna oorgeskakel.
Die koste van verpakkingsmateriaal het CFG gemotiveer om in 1988 ’n riffelkartonfabriek saam met Two-A-Day, Kromco en Goede Hoop Sitrus te stig. Die nuwe maatskappy is APL genoem – kort vir appels, pere en lemoene. CFG is vandag steeds ’n aandeelhouer in APL.
Mense maak alles moontlik
In 1925 het CFG vir die eerste maal ’n besoldigde werknemer aangestel wat £5.00 per maand betaal is. Vandag het CFG 270 permanente werknemers en verskaf ook werk aan ongeveer 1 700 seisoenale personeel.
CFG het reeds in 1967 begin om behuising vir seisoenale werkers te bou. Behuising vir personeel is ook later in samewerking met die munisipaliteit in Bella Vista gebou. In 1990 het CFG saam met Ceres Fruit Juices ’n projek geloods om personeel die geleentheid te bied om hulle eie huise te besit.
Die Rietvallei-behuisingsprojek het amptelik in 1992 geopen. Ander rolspelers het ABSA, die munisipaliteit, en die Wes-Kaapse regering ingesluit. Werknemers kon finansiering teen baie gunstige terme bekom en bykans 100 gesinne het uiteindelik titel van hulle eie huise gekry.
Alhoewel die woonbuurt amptelik Rietvallei heet, het die inwoners dit Egoli gedoop.
Nog ’n CFG inisiatief was die aanstelling van ’n geregistreerde verpleegster in die tagtigs, gevolg deur die opening van ’n kliniek in 1991. Die kliniek bied primêre en beroepsgesondheidsdienste, reik kroniese medikasie uit, en bedryf ’n welstandsprogram wat onder andere geestesgesondheid ondersteun.
Die geskiedenis van CFG sluit van die groot geeste van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf in – soos Danie Joubert, Pieter Malan Cillié, Jan Abraham Fernhout – maar die huidige besturende direkteur, Francois Malan, het in ’n onlangse toespraak daarop gewys dat daar in 100 jaar baie mense nodig is om ’n instansie soos CFG te laat floreer. Daar is nooit net een mens wat die storie skryf nie.
Dit is ongetwyfeld dat die visie van die 21 vrugteprodusente wat in 1922 saamgekom het om CFG te stig verrykende gevolge vir die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf gehad het. Maar dit is ook seker dat die bydraes van duisende mense intussen daardie visie werklikheid gemaak het. Dit gaan opwindend wees om te sien wat CFG en sy mense in die volgende eeu gaan bereik.