Skip to content
Slider

Steenvrugte | ’n Interessante en unieke seisoen

Na ’n wankelrige begin het die afgelope steenvrugseisoen bedryfskenners aangenaam verras. Anna Mouton het met die steenvrugkenners gepraat.

Lentetoestande bepaal grootliks die verwagting vir die komende seisoen so die trietsige 2024 lente het kommer by steenvrugprodusente gewek. Buiten onsekerheid oor vrugset was daar die risiko van swak vruggrootte en -suikers as gevolg van die volgehoue relatiewe koel weer.

Vooruitsigte het egter stelselmatig verbeter soos wat die somer gevorder het. Daar was feitlik geen reën wat vrugafwerking kon benadeel nie en min van die hittegolwe wat al in die verlede vrugkwaliteit geïmpakteer het.

“Dit was ’n baie unieke en interessante seisoen,“ sê Charl Stander, tegniese raadgewer by Freshness First. “As ons na pruime kyk, sou ek sê dit was een van die beste seisoene in ’n baie lang tyd.”

Freshness First hanteer vroeë-, mid- en laatseisoen pruime en appelkose asook vroeë- tot midseisoen perskes en nektariens.

Rudolph Cronjé, tegniese steenvrugraadgewer by Dutoit Agri, beskryf ook hulle laatnektarienseisoen in die Koue Bokkeveld as interessant. “Waar ons aanvanklik gedink het hier kom ’n groot moeilikheid, was ons nektarienuitvoere ’n bietjie hoër in vergelyking met ander jare. Maar die wegtrek het dit glad nie gewys nie.”

“Ons winterkoue was oor die algemeen bietjie swakker as die vorige jaar maar ek dink dit was genoeg,” sê Karin van Rensburg, tegniese raadgewer by In2Stone. “Ek dink egter die klimaat tydens blom van die verskillende kultivars het bygedra tot ’n wisseling in die oes.”

In2Stone fokus op vroeë- tot midseisoen perskes, nektariens, en appelkose, en vroeë-, mid- en laatseisoen pruime.

Ryp tref sekere areas

“Ons het 27 Augustus lelike ryptoestande gekry,” sê Cronjé. “Dit het ons vrugset in die Koue Bokkeveld taamlik beïnvloed en ek weet daar was plek-plek plase in die Warm Bokkeveld wat groot skade gehad het.”

Volgens Van Rensburg het ’n paar nagte se ryp aan die einde van Augustus verliese van tot 30% vir party produsente veroorsaak. Die ryp het so ver as Ladismith voorgekom.

“Sekere areas, soos Clanwilliam en Robertson, was baie nadelig beïnvloed,” sê Van Rensburg. “Temperature het vir ’n hele paar ure tot benede 0 °C afgegaan, en dit was in ’n kritieke blomstadium van perskes en nektariens.”

Benewens koueskade het warm dae teen einde September vrugset van sekere laat pruimkultivars verlaag. “Die kultivar wat dit vir ons uitgewys het is veral Ruby Star,” sê Van Rensburg.

“Ruby Star het ons teleurgestel,” beaam Stander. “Die produksies was 18%–20% minder as verlede jaar.”

Té koud was egter ’n groter probleem as té warm omdat vruggroei en -ontwikkeling deur die lae temperature in die lente en vroeë somer teruggehou is. Steenvrugte was dus meestal kleiner as gewoonlik. Hoe vroeër die kultivar, hoe groter was die impak, omdat die vrugte van vroeë kultivars minder tyd as dié van later kultivars het om te groei en suikers op te bou.

“Nektariens wil graag warm weer hê vir selverdeling en selvergroting om goeie vruggrootte te kry,” verduidelik Van Rensburg. “Daarmee saam kan die boom vinnig aan die gang kom sodat die vrugte kan begin suikers ontwikkel.”

Produsente dun versigtig uit

“Met die nat, koue lente moes ons vanjaar van die medium nektariens, wat ons gewoonlik sou uitgedun het, aan die bome los om ons vruggetalle te kry,” sê Cronjé. Tesame met die effek van lae temperature, het hierdie uitdunstrategie gelei tot nektariens wat gemiddeld ’n telling kleiner as vorige jare was.

Dié uitdunstrategie het ook beteken dat daar verskillende generasies vrugte op die boom was. “Met die hittegolwe wat ons in sekere weke gekry het, was die rypwording van die vrugte bietjie ongelyk,” voeg Cronjé by.

Gevolglik was enkele nektariens uit ’n karton by aankoms in die mark soms sag terwyl die meerderheid vrugte ferm was. Nietemin was vrugkleur en -kwaliteit goed met mooi vrugafwerking.

Waar nektariens warmer toestande verkies, is pruime weer heel gelukkig met koeler weer. “Ons het oor die algemeen goeie suikers in pruime regdeur die seisoen gehad,” sê Van Rensburg, “behalwe waar produsente miskien nie betyds of genoeg uitgedun het nie, en die oes redelik swaar was.”

Sy reken sommige pruimprodusente was dalk versigtig om hard uit te dun na lae oeste verlede jaar en swak settoestande hierdie seisoen.

“Maar die oes hierdie seisoen was groter as wat ons aanvanklik gedink het,” sê sy. “Boere het op ’n stadium vir my gesê dit lyk asof die vrugte weer oornag in die bome gespring het! So daar is tye wat jy onderskat hoeveel vrugte aan die boom is.”

Goeie aankomste in die mark

“Die hele steenvruggroepering het as gevolg van die klimaat hierdie seisoen ’n interessante tendens gehad,” sê Stander. “Die vrugte het baie vinnig ryp geword. Selfs met kultivars soos Ruby Sun het jy net dae gehad om dit af te haal.”

Ten spyte hiervan was daar baie min naoesdefekte of eise. “Die aankomskwaliteit van pruime was oor die algemeen verbasend,” sê Van Rensburg.

Sy sonder ook Ruby Sun uit. “Daar was ’n tydperk wat die vrugte baie vinnig ryp geword en drukke baie vinnig geval het,” onthou sy. Mens sou dus swakker houvermoë verwag, maar die vrugte het in ’n goeie toestand die mark bereik.

Die Verenigde Koninkryk en Europese Unie was ook by tye ondervoorsien van steenvrugte, wat waarskynlik gehelp het om kliënte minder uitsoekerig te maak. “Die eerste ses weke was daar definitief meer probleme met konstante voorsiening van nektariens as gevolg van die rypskade,” sê Van Rensburg.

Stander berig dat vroeë perskes en nektariens goeie pryse behaal het, maar soos die seisoen gevorder en volumes toegeneem het, het pryse onder druk gekom.

Nietemin was die mark vir pruime, perskes en nektariens, gesien oor die hele seisoen, gunstig. “Appelkose was baie laat vanjaar, en selfs daar was die vrugte klein,” sê Van Rensburg. “Dis nie altyd ’n goeie kombinasie om later en kleiner vrugte te hê nie.”

Wanneer dit kom by veral pruime en vroeë nektariens, is sy positief oor die verdienstes. “Ek dink dit was ’n goeie seisoen onder die omstandighede,” sê Van Rensburg. “Mens begin altyd die seisoen baie optimisties, en dan is daar al meer goed wat verkeerd gaan, maar op die ou einde het dit nie te sleg uitgedraai nie.”

Cronjé is al reeds besig om te beplan vir komende seisoen. “Mens is altyd optimisties,” sê hy. “Jy werk vir daai een jaar wat alles glad verloop!”

Back To Top