
Johan Strydom – Logistieke Steunpilaar
Deur Elise-Marie Steenkamp
Johan Strydom is dalk klein van postuur, maar hy laat reuse spore in die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf na. Vir meer as vyf dekades was hy aan die voorpunt van logistieke innovasie, verpakking en koelkettingontwikkeling. Sy nalatenskap lê nie net in tegnologie en stelsels nie, maar in die wyse waarop hy mense laat saamwerk het – altyd met die mantra: “Daar móét ’n beter manier wees om iets te doen.”
Van die Karoo tot die uitvoerwêreld
Johan se storie begin op ’n skaapplaas in die Karoo, waar hy gebore is voordat sy familie Malmesbury toe verhuis het. In die Swartland het hy uithou- en deursettingsvermoë gekweek. “Ek was altyd die jongste en die kleinste in die klas…met ’n bril – die perfekte teiken vir boelies. Ek het gou geleer om beter te wees in sport én in skoolwerk, het gemaak dat hulle my uitlos.” Na matriek het hy aan die Universiteit van Stellenbosch wiskunde en chemie studeer, en nog later sy honneurs in besigheidsadministrasie cum laude voltooi.
Van houtkissies tot koelvragskepe
Johan se loopbaan het ‘n hele paar draaie gemaak, van navorsing op metale vir mynwese tot plofstofskeikundige, voordat hy in 1974 by die Sagtevrugteraad aangesluit het. Dié uitvoerbedryf was nog in sy “hout-en-wol”-era. Vrugte is hoofsaaklik in houtkissies met houtwol verpak, per spoor na die Kaapse hawe vervoer, en daar vir die eerste keer geïnspekteer, vertel Johan.
Dit is eers hierna verkoel en die houtkissies is individueel per hand in die dek van die skip gestapel. Sowat 15% van die oes is destyds op posbote soos die Southampton en Good Hope Castle na Europa gestuur. Die res is op koelvragskepe verskeep.
“Vir byna vyf jaar het die stelsel redelik goed gewerk,” onthou hy. “Maar toe die eerste houerskepe hul verskyning maak, moes ons alles herbedink.”
Die nuwe ses meter patryspoorthouers (port-hole containers) kon groot volumes vrugte hanteer, maar het nuwe uitdagings geskep. Hoe keur mens vrugte goed wat reeds in ’n houer gelaai is? En hoe hou jy dit koud al die pad see toe? Die oplossing was baanbrekend: binnelandse-inspeksies en geforseerde lugverkoeling (forced-air cooling) by pakhuise, wat verseker het dat vrugte in optimale toestand by die hawe aankom. Hierdie skuif was die eerste groot stap in die modernisering van die vrugtebedryf se koelketting.
Die oorgang van spoor na pad: ’n Logistieke revolusie
Teen die vroeë tagtigs het padvervoer begin om spoorvervoer te vervang — ’n skuif wat volgens Johan “een van die grootste operasies in die geskiedenis van die uitvoerbedryf” was. Sonder selfone en met slegs radioverbinding moes laai- en verskepingskedules tot op die minuut beplan word.
“As daar wind by die hawe was, moes die binneland se laai onmiddellik stop. Dit was ’n oefening in presisie, samewerking en vertroue, want die koue vrugte moes sonder vertraging direk in die koelvragskepe gelaai word,” vertel hy.
Padvervoer het die bedryf getransformeer: vrugte is minder hanteer, die koueketting het verbeter en beduidende kostes is bespaar. Binne een jaar is alle vervoer van vrugte van die spoor na die pad geskuif. Suksesvol. Vir dié prestasie is Johan en sy span met die Logistics Achiever Award bekroon — ’n nasionale erkenning vir uitstaande produktiwiteit en innovasie.
Fruitnet: Die begin van digitale koelkettingbeheer
Teen die middel van die tagtigs het Johan een van Suid-Afrika se eerste digitale platforms vir logistieke monitoring ontwikkel en geïmplementeer — Fruitnet. Data is aanvanklik per telefoon oorgedra, soms deur plattelandse sentrales wat snags oopgehou moes word sodat die inligting kon vloei. “Dis amper ondenkbaar vandag,” sê hy met ’n glimlag. “Met Fruitnet was voorraadsyfers reeds agt uur soggens beskikbaar wat ons vyf ekstra ure gegee het om vir die volgende dag te beplan.
Die volgende groot sprong was Paltrack met Johan as projekleier. Elke palet is deur ’n unieke strepieskode geïdentifiseer — ’n deurbraak wat datavloei deur die hele logistieke ketting moontlik gemaak het.
“Ons kon nou elke palet volg – van die paklyn tot oorsee,” verduidelik Johan. “Dit het beteken beter beplanning, minder verliese en die vermoë om die uitvoerseisoen strategies te verleng.”
Met beter data kon uitvoerders vrugte plaaslik langer stoor en later uitvoer, wat markstabiliteit en kostebesparing bevorder het — ’n praktyk wat vandag nog deel van die bedryf se suksesformule is en ‘n sleutelrol in die hanteringsketting speel.
Beheerde atmosfeer
Met die koms van beheerde atmosfeer (BA) koelkamers (CA storage) het Suid-Afrika ’n wêreldleier in naoesbestuur geword. Johan en sy kollegas was weer aan die spits van hierdie tegnologie. “Die bedryf het vinnig en groot belê en die tegnologie in alle produksiegebiede uitgerol, terwyl ander lande soos Chili nog gesloer het,” sê hy trots.
BA-stelsels het dit moontlik gemaak om die seisoen nog verder te verleng, vraggeld te bespaar en vrugte van beter gehalte oor langer periodes te lewer. Hierdie ontwikkeling het ook ’n golf van infrastruktuurverbetering in die binneland ontketen – nuwe koelkamers met geforseerde lugverkoelingsfasiliteite, gordynvragmotors en laaigeriewe wat die moderne koueketting help vorm het.
Van patryspoorthouers tot verkoelingshouers
Nog ’n belangrike hoofstuk in Johan se loopbaan was die oorgang van patryspoorthouers na moderne 12m verkoelingshouers in 2005. Die nuwe stelsel het meer kapasiteit, beter temperatuurbeheer en groter doeltreffendheid gebring. “Ons kon uiteindelik vrugte in die binneland in houers laai, verskeep, en eers oorsee weer hanteer,” verduidelik hy.
Met nuwe houers het nuwe vrae ontstaan: Hoe vloei lug binne die houers? Hoe moet kartonne ontwerp word vir optimale verkoeling? Onder Johan se leiding is navorsing oor lugvloei, laaipatrone en kartongrootte intensief aangepak — kennis wat vandag nog die bedryf se praktyke rig.
Verpakking is ’n kuns
Johan se passie vir verbetering het nie by logistiek gestop nie — verpakking was vir hom net so belangrik. Hy het die oorgang van houtkissies na kartonne, en houtwol na plastiek, van naby beleef.
“Appels was die eerste wat na karton oorgeskakel het, toe pere, en hierna die ander vrugte. Elke skuif het sy eie uitdagings gebring,” vertel hy.
In 1993 word Johan na die pos van Hoofbestuurder Administrasie gesekondeer. Een van sy pligte was die voorsiening van pakmateriaal aan die hele sagtevrugte-uitvoerbedryf. “Daar was aanvanklik groot bakleiery tussen die spul. Die probleem was altyd kommunikasie,”onthou hy. Hy het die Packaging Forum gestig waar karton- en papiervervaardigers saam gebring is om voorsieningsprobleme uit te sorteer. “Toe ons begin saamwerk, het die oplossings gekom soos die invoer van toetsbesendings papier waarmee beter kartonne teen laer koste vervaardig is.”
Druk van Europa het gelei tot die staking van die gebruik van saamgestelde kartonne vir druiwe- en steenvrugte. (Hierdie kartonne het uit papier, plastiek en hout bestaan.) Daar moes dringend ‘n plaasvervanger gevind word. Onder leiding van Johan is ‘n werkgroep van kundiges van Unifruco, verkoelingsingenieurs en tegniese bedryfsbeamptes saamgestel. “n Standaard karton met verbeterde lugvloei en laer koste was die resultaat en is ‘n konsep wat vandag nog gebruik word,” vertel hy.
Van Unifruco tot GoReefers
Met deregulering en die einde van die enkelkanaalstelsel in 1997 het Johan weer voor ’n golf van verandering gestaan. Hy het as privaatkonsultant gewerk vir onder andere Capespan, en in 2001 saam met Delena Engelbrecht die maatskappy GoReefers gestig. Vandag is die onderneming ’n volwaardige logistiese diensverskaffer aan die vrugtebedrywe met meer as 250 werknemers en kantore wêreldwyd — van Rotterdam tot Kaapstad.
Selfs ná aftrede bly Johan aktief as konsultant vir onder andere Hortgro, waar hy etlike dekades reeds by die Packhouse Action Group betrokke is en aan naoesprotokolle en koue-sterilasieprosesse werk.
Leierskapstyl
Vir Johan was logistiek nooit net roetes en houers nie — dit was ’n mensewetenskap, waar spanwerk en vertroue die ware brandstof is. Sy filosofie bly eenvoudig: “As jy jou produk ken en jou mense vertrou, sal die res volg.” Hy glo nie in bevele gee nie. “Ek vra altyd en glo as jy mense die regte inligting en ruimte gee, sal hulle self die beste besluite neem.”
’n Nalatingskap van vooruitgang
Vandag dra feitlik elke uitvoerder, pakhuis en logistieke operateur in Suid-Afrika — en verder — iets van Johan Strydom se invloed. Van Fruitnet tot Paltrack, van geforseerde verkoeling tot beheerde atmosfeer, van houtkissies tot hoëtegnologie-kartonne — sy hand lê oor dit alles. Belangrike deurbrake is sonder bravado as standaard praktyke geïmplementeer. Meer as vyftig jaar se volgehoue innovasie het die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf nie net wêreldmededingend gehou nie, maar ook rigtinggewend gemaak.
“Die geheim,” sê Johan, “is om nooit te aanvaar dat iets goed genoeg is nie. Daar is áltyd ’n beter manier.”
- Johan is in 1971 met Rina getroud en saam het hulle drie seuns grootgemaak: Reinhardt, Gerhard en Teo.




