Kersieproduksie in Suid-Afrika
Die area onder kersieboorde het vanaf 2016 na 2021 meer as verdubbel. Wat is die vooruitsigte vir hierdie gewas? Deur Anna Mouton.
Volgens die Hortgro boomsensus was daar 549 hektaar kersieboorde in Suid-Afrika in 2021 waarvan byna twee-derdes jonger as ses jaar was. Kersie-uitvoere het meer as verdubbel vanaf 216 ton in 2019–2020 na 445 ton in 2020–2021.
“Ek dink daar is ruimte vir groei in die Suid-Afrikaanse kersiebedryf,” sê Alwyn van Jaarsveld, internasionale kommersiële kersiebestuurder by IFG. IFG is ’n internasionale maatskappy wat spesialiseer in die ontwikkeling van nuwe tafeldruif- en kersiekultivars.
“As mens na byvoorbeeld Europa kyk, is daar ’n gaping in die beskikbaarheid van kersies vanaf die laaste week van September tot in Oktober,” verduidelik Van Jaarsveld. “Daardie gaping is perfek vir Suid-Afrikaanse uitvoere.”
Arno Marais is ’n Landgoedbestuurder by Dutoit Agri en voorsitter van HortgroCherriesZA. HortgroCherriesZA bevorder die gesamentlike belange van plaaslike kersieprodusente en spreek kwessies aan wat relevant is tot die kersiebedryf. Volgens hom is nuwe aanplantings gemik is op uitvoere.
“Daar is geen twyfel dat daar ’n geleentheid vir vroeë kersies is nie – maar daar is ’n rede hoekom daar in Oktober wêreldwyd nêrens kersies is nie,” sê Marais. “Die plekke waar mens in Suid-Afrika vroeë kersies kan produseer is baie beperk.”
Marais is ook bekommerd dat buitelandse markte later in die seisoen oorvol begin raak, onder andere as gevolg van geweldige uitbreiding in Chili, asook meer aanplantings in China. “Suid-Afrika gaan nog baie groei in die volgende 2–3 jaar, want hier’s ’n klomp boorde wat nog in drag moet kom, maar ons gaan moet reg boer om ons produk verkoop te kry.”
Lae kouebehoefte kultivars
Kersies het van nature ’n baie hoë kouebehoefte – 1 000 ure onder 7.2 °C vir ouer kultivars. Deesdae word die meeste nuwe aanplantings in Suid Afrika gedoen met kultivars wat ’n laer kouebehoefte het. Hierdie kultivars word meestal in Kalifornië geteel wat aansienlik warmer as die tradisionele kersieareas is.
Volgens Van Jaarsveld het sommige van IFG se lae kouebehoefte kultivars so min as 300 koue-ure nodig. Hy sien lae kouebehoefte kersies as deel van ’n strategie om uiteindelik kersies vir 12 maande van die jaar aan verbruikers te bied. “Jy wil konstant kersies in die supermark hê anders kom mense nie in die gewoonte om kersies te koop nie.
Een manier om kersies langer beskikbaar te hê is met kultivars wat vroeër geoes word. Lae kouebehoefte kultivars is dikwels vroeër omdat die bome se kouebehoefte vroeër opgehef word.
“Ons was tradisioneel gewoond aan ’n drie-week oesperiode,” sê Marais. “Nuwe genetika het ons in staat gestel om die oesweke amper te verdubbel, en ons doelwit is om nog 1–3 weke by te sit.”
Dieselfde kultivar kan op verskillende tye ’n oes lewer afhangende van die area waarin dit geplant is. Daar is byvoorbeeld bome in Rustenburg wat teen einde September geoes word, terwyl dieselfde kultivar in die Koue Bokkeveld dan eers begin set.
“Die lae kouebehoefte kultivars het fantastiese geleenthede gebring om in warmer maar ook kouer streke kersies te produseer,” sê Marais.
Uitdagings met vrugset
Een van die grootste uitdagings met kersies is om voldoende vrugte te kry. “Ons het oor die jare geleer hoe om die bome vrugbaar te kry – hoe om blomme aan die bome te kry. Maar om die blomme bevrug te kry is die Vader se werk.”
Die venster waarin individuele kersiebloeisels suksesvol bestuif en bevrug kan word is baie klein. Sommige ouer kultivars kan effektiewe bestuiwingsperiodes van so min as ses ure hê, en selfs by nuwer kultivars kan ongunstige weerstoestande die effektiewe bestuiwingsperiode aansienlik verkort.
Om die beste moontlike kans vir bestuiwing te hê word tot tien byekorwe per hektaar in die kersieboorde geplaas.
“Die plekke waar die klimaat en die omgewing reg is in die periode wat bestuiwing en bevrugting plaasvind, sodat vrugset kan gebeur, is uitsoekplekke in Suid-Afrika,” sê Marais. “Daar is min plekke wat genoeg koue-eenhede in die winter, gunstige toestande gedurende die blomtyd, en daarna genoeg hitte-eenhede vir groei het.”
Daarby is kersies vatbaar vir die sogenaamde hartseerval, wanneer die bome die vrugte ongeveer 40 dae na volblom afgooi.
Marais noem ook dat langdurige hoë somertemperature die risiko vir dubbelvrugte in die volgende seisoen verhoog. Sulke vrugte kan nie verkoop word nie, so ’n warm somer kan vir ’n produsent sy volgende oes kos.
Hantering rondom en na oes
Kersies is berug daarvoor dat hulle gevoelig word vir bars na pitverharding wanneer die vrugte begin strooikleurig raak. “Hoe nader aan oestyd, hoe groter die gevaar,” waarsku Marais. “Die oomblik wat dit reën, neem die vrugte water deur die skil op, en swel totdat die vrug letterlik ontplof.”
Van die nuwer kultivars is geteel om meer tolerant vir reën en minder geneig tot bars te wees. Geen kultivar is egter heeltemal weerstandbiedend nie. Daar is ook produkte beskikbaar wat op die vrugte gespuit kan word om die skil effens meer elasties te maak, en besproeiing voor reëns kan ook help deur wateropname deur die vrugskil tydens reën te verminder.
Wanneer laat kouefronte deurkom, kan die waaiers op spuitpompe gebruik word om soveel moontlik water van die bome af te blaas. “En dan die oomblik wat die son skyn bring ons helikopters in,” vertel Marais. “Die helikopters laai vrag, sodat hulle met ’n taamlike afwaartse krag moet vlieg, en dan vlieg hulle laag oor die boorde en blaas die bome droog.”
Die langtermyn-oplossing is om die boorde met reëndigte materiaal te bedek. Proewe het egter gewys dat kersies se fermheid vinnig afneem onder sulke bedekkings, so dit moet vinnig kan oop- en toemaak, wat natuurlik koste-implikasies het.
Kersies oes het sy eie uitdagings. Die ryp vrugte moet in ’n kort tydjie gepluk word, en die proses verg baie arbeid. “As die kersies vanoggend 10h00 gepluk moet word, dan is môreoggend 10h00 te laat, so jy moet kapasiteit hê om hulle nou te kan pluk,” sê Marais.
Na oes moet die vrugte so gou as moontlik afgekoel word. Die behoud van die koueketting vir kersies is onontbeerlik. Enige koueketting breuke kan lei tot progressiewe defekte soos stippeling.
’n Tegniese gewas vir ’n tegniese produsent
“Om nou ’n hektaar kersies onder nette te plant kos so R1.3 miljoen,” sê Marais. “Deesdae plant ons al ons kersies onder nette, en ons doen alles op hoë tegnologie, om een rede – ons moet die produk kan uitvoer.”
Die tendens tans is om kersies teen 4 x 1.75 meter te plant op MaxMa onderstamme. MaxMa 60 het soortgelyke groeikrag aan Mahaleb terwyl MaxMa 14 effens dwergend en soortgelyk aan Gisela 12 en 13 is. Spesialisspanne word gebruik om kersies te snoei omdat dié bome soveel verskil van byvoorbeeld appels.
Daar word ook rusbreekmiddels gebruik, maar Marais kan darem getuig dat kersies in een opsig makliker as meeste ander vrugsoorte is. “Ons gebruik baie min chemie. Ons spuit hoofsaaklik vir bolwurms tydens blomtyd.”
Behalwe vir hulle weer- en klimaatsensitiwiteit, het kersies ook ’n uitsonderlike kort periode van rondom 65–75 dae tussen volblom en oes. Dit gee min tyd vir insette soos voeding.
Na oes is daar nog steeds baie bestuur rondom onder andere besproeiing en voeding wat reg moet wees vir die bome om die volgende seisoen te blom en te dra.
“Mens moet bereid wees om die wetenskap te verstaan en te volg,” sê Marais. “Kersies is ’n detail-gewas.”
Van Jaarsveld stem saam. “Kersies is ’n tegniese gewas vir ’n tegniese produsent. Die produsent moet ’n passie daarvoor hê, want as iets vandag gedoen moet word, kan dit nie wag vir môre nie. Maar mense wat daardie tipe ingesteldheid het, sal sukses behaal.”