PRODUSENTE GEMAAN OOR BOORDSANITASIE
FruitFly Africa (FFA) het onlangs aangedui dat boordsanitasie in sommige vrugte- en wynproduksiegebiede, aandag kort. Die gebiede sluit in: Hexriviervallei, Olifantsriviervallei, Benede-Oranjerivier, Elgin/Grabouw, Langkloof, Ceres, Wolseley en Tulbagh.
FFA het begrip vir die legio uitdagings en ekonomiese druk wat tans in die vrugtebedryf ervaar word, maar die bedryf het ‘n mandaat en verpligting om alle pes- en pesverwante risiko’s te identifiseer en aan te spreek.
Uit weeklikse vrugtevlieg vangsdata is waargeneem dat vangste vanjaar hoër is in vergelyking met dieselfde periode in 2022 (sien grafiek hiernaas).
FFA het die volgende vrugtevlieg-bekampingsaksies geloods:
- Loslating van steriele Medvlieë (in sekere gebiede)
- Koördinering van lugspatte (van GF120)
- Uithang van lok-en-dood stasies (bv. M3’s en/of Magnet Meds)
Hierdie aksies moet egter aangevul word met goeie boordsanitasie en gereelde grondspatte. Boorde wat nie skoon gepluk word nie bied ’n ideale tuiste vir vrugtevlieë om te vestig en te broei.
FFA doen ’n ernstige beroep op produsente om saam te werk en boordsanitasie toe te pas, sodat daar nie groot vrugtevliegbevolkings in die volgende seisoen is nie. “Ons wil graag hierdie uitdaging pro-aktief bestuur en benodig julle samewerking en insette,” sê Ghian du Toit, FFA se bestuurder.
Riglyne vir goeie boordsanitasie
Verwyder en vernietig alle vrugtevlieg geïnfesteerde vrugte en vrugte wat afgeval het deur dit te verpulp, of plaas dit in toegebinde sakke in direkte sonlig vir ‘n week, of begrawe dit ten minste een meter diep.
Gee spesifieke aandag aan vrugtebome in huistuine en verwyder alternatiewe gasheer plante/bome.
Om ‘n lys van alternatiewe gasheer plante/bome te bekom, besoek gerus ons webwerf by:
www.fruitfly.co.za/sanitation-and-host-plants/
Bron: Tegniese handleiding vir die geïntegreerde bestuur van Medvlieg (dr. Brian Barnes)
Vir enige navrae, skakel gerus u naaste gebiedskoördineerder of besoek die FFA webwerf: Home – Fruit Fly Africa