Skip to content
Andrelegrange Pruimkompos Horizontal

KAAPSE HAWE KLIP IN STEENVRUGBEDRYF SE SKOEN

Legio terugslae vir steenvrugprodusente, enkele pluspunte – Deur Elise-Marie Steenkamp

Uitdagings by die Kaapse hawe bly ‘n klip in die skoen van menige steenvrugprodusent- en uitvoerder, met verskepingsprobleme, onguur weer, onklaar toerusting en vertragings deur die logistieke ketting wat die hardste skaaf.

Daar is met groot verwagting uitgesien na hierdie seisoen om terugslae van die vorige seisoen teen te werk, sê ‘n uitvoerder wat anoniem wil bly. “Helaas, hierdie seisoen is erger en die frustrasies groter.”

Gedurende Februarie het die hawe 242 uur verloor weens hoë-spoed winde. Steenvrugpakhuise is onlangs gedwing om verpakking te staak omdat daar nie genoeg verkoelruimte en inproppunte by die Kaapse hawe beskikbaar was nie.

Die suidoos kan nie alleen skuld kry nie, meen bedryfsrolspelers wat ook nou vra vir “gedeeltelike privatisering van die Kaapse hawe, met privaatlaaiplek vir die vrugtebedryfsorganisasies, asook die invoer van kundiges om operasionele probleme by die hawe uit te stryk”. Infrastruktuurontwikkeling en die aankoop van hyskrane vorm ook deel van so ‘n plan. Tans, is verskeie bedryfsorganisasies en Transnet weekliks in konsultasie om probleme op te los, maar steenvrugprodusente meen diplomasie moet nou in daadwerklike aksies omskep word, of baie produsente gaan hulle deure sluit.

André le Grange, ‘n steenvrugprodusent buite Stellenbosch wat ook ‘n pakhuis bedryf sê Transnet se leë beloftes hang wrang in die lug. “Die realiteit is dat steenvrugte, wat ‘n sensitiewe vrug is met ‘n beperkte rakleeftyd, te lank by die hawe opgeberg word voordat dit na Europa verskeep word. Vertragings by die Kaapse hawe het ‘n direkte impak op die rakleeftyd en kwaliteit van vrugte.” Hy wys na ‘n verslag oor Flavour King pruime wat onlangs in Europa aangekom het, en nie aan kwaliteitstandaarde voldoen het nie. “Hierdie vrugte was meer as dertig dae oud toe dit in Europa aangekom het. Die vrugte is oorryp en het interne verbruining. Die invoerder moet vrugte herverpak. Wie dra uiteindelik die addisionele koste wat hoofsaaklik weens swak dienslewering van die hawe is? Die produsent. Buiten kliënte wat ontevrede is, ly die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf reputasieskade,” sê hy.

Andrelegrange Uitvoerpruime Horizontal
André le Grange met uitvoerpruime waarvoor die Europese mark honger is. 

Volgens Le Grange kry sy werkers dit reg om binne 48 uur vrugte te oes, te verpak en te verkoel. “In seisoentyd werk ons werkers ontsettend hard en haal elke mylpaal. Die vrugte verlaat ons perseel in goeder trou na die hawe, net om daar letterlik in ‘n lang tou vas te steek. Die plaaswerkers is moeg om te hoor dat hulle harde werk op niks uitloop nie. Hulle moet die spit afbyt. Ons kan net die minimum loon betaal. Daar is nie geld vir bonusse nie.” Le Grange sê dit is die tweede jaar in ‘n ry wat steenvrugprodusente uitgelewer is aan operasionele probleme by die hawe wat volgens hom die voortbestaan van die vrugtebedryf bedreig. “Die bedryf is reg deur die kosteketting aan’t stagneer en krimp. Dit beteken nuwe boorde word nie aangeplant nie, werk word nie geskep nie, en in erge gevalle moet produsente hul plase verkoop. Ons ekonomie bloei. Ons doen ‘n ernstige beroep op Transnet om oplossings te vind anders gaan produsente onder gaan.”

Le Grange meen daar is byspelers in hierdie drama wat nie beheer kan word nie, soos die impak van COVID-19, die oorlog in Europa en gepaardgaande verhoogde insetkoste. “Maar daar is heelwat wat wel binne ons beheer is en ons kan nie toelaat om dit te laat glip nie. Hierdie rolspelers is verantwoordbaar. Ons land het ‘n baie goeie grondwet wat almal se regte beskerm. Ek doen ‘n beroep op produsente en onderskeie bedryfsorganisasies om saam te werk, uit te vind wat ons grondwetlike regte is, sodat ons oor ons toekoms beheer kan kry.” Hy sê voorts voorstelle dat produsente vroeër die seisoen van grootmaat verskeping (bulk reefers) gebruik moes maak, is nie moontlik nie omdat produsente skaars verlede seisoen kon gelykbreek. “Hulle het eenvoudig nie die geld om duur verskepingsopsies te gebruik nie.”

Le Grange plant geen verdere pruime aan nie en fokus tans op produkte wat hy op die plaaslike mark kan verkoop soos botterskorsies en avokadopere. Hy is gereed om met vragte vrot vrugte by die Kaapse hawe te gaan protes aanteken “want dit is tyd dat verbruikers hier en oorsee kennis neem van die ware stand van sake”.

Andrelegrange Butternuts In Boord
Le Grange plant nou botterskorsies en avokadopere.

Thomas Babl, bekende steenvrugprodusent van Simondium, buite Paarl, verwag dat probleme by die Kaapse hawe as ‘n Eskom-scenario kan uitspeel. “Nuwe kragstasies het Eskom ook nie gehelp nie, omdat swak bestuur en onbevoegdheid die voordele geneutraliseer het. Groeiende produksie volumes en die wind, gaan oor die mediumtermyn soms vertragings veroorsaak. Die frustrasie is dat ons as produsente geen verskil kan maak nie, maar ons moet die finansiële impak daarvan dra.” Volgens Babl betaal uitvoerders die vervoer en omdat volumes ná deregulering tussen hulle verdeel is, het hulle nie ‘n hefboom op verskepingsmaatskappye, wat hulle eie skedules het nie. “Daar moet ‘n plan B wees, wat moontlik Coega insluit,” meen Babl. “Ons moet planne maak om logistiek beter te bestuur, wat samewerking met hawens en verskepingsmaatskappye insluit, om te verseker dat daar ‘n direkte skip na Rotterdam is. Data behoort ons te help om tien dae vooruit te beplan om so ‘n plan te aktiveer. Samewerking is van uiterste belang, maar ek is bevrees dat dit gaan sukkel weens die groot aantal rolspelers wat moet saamwerk.”

Babl meen al wat hy as produsent kan doen is om met kultivars te woeker. Kultivars wat vir ses tot ag weke onder enkel temperatuur kan opberg. “Die laaste twee seisoene sal wys watter kultivars dit is.” Hy sê voorts dat produksievolume oor die volgende paar jaar gaan inkrimp wat gevolge vir winsgewendheid van pakhuise en diensverskaffers gaan hê. “Steenvrugte is my hoofproduk, ek moet dit maak werk.”

Ironies genoeg, is daar tans ruimte vir steenvruguitvoere na die Europese mark, sê Hortgro se hoofbestuurder van markte en handel, Jacques du Preez. “Dit is nie net Suid-Afrikaanse vrugte wat sukkel met uitvoere nie. Steenvruguitvoere van Chili is aansienlik laer en daarom is die steenvrugmark in Europa eintlik baie goed, indien jy jou vrugte daar kan kry.” Asof die hawe nie erg genoeg is nie, moet produsente ook nog stoei met kragonderbrekings. Volgens Du Preez is pruime effe kleiner die seisoen en is dit ‘n ope vraag of kragonderbrekings hiervoor verantwoordelik is. “Produsente het weens kragonderbrekings gesukkel om by besproeiingskedules te hou, veral met drupbesproeiing. Gelukkig het die Wes-Kaap ‘n ongewone hoeveelheid somerreënval gehad, wat die besproeiingslas effe verlig het.” Die pruimseisoen nader die einde met ‘n voldoende hoeveelheid kwaliteit vrugte wat nog verpak moet word, sê hy.

Hortgro kyk tans indringend na die hawe-kwessie en wat verander kan word om voortgesette probleme met ‘n nuwe benadering aan te spreek. Daar word weekliks met rolspelers geskakel. Probleme is egter kompleks en nie vinnig oplosbaar nie. Die Kaapse hawe is ‘n hoë prioriteit vir Hortgro en kry tans gefokusde aandag .

Hooffoto: André le Grange by sy kompospit. Hy is gereed om vrot pruime by die Kaapse hawe te gaan gooi in protes teen swak dienslewering.

Kort blik op die Kaapse hawe:

Die Kaapse hawe het die afgelope paar jaar gebuk gegaan onder verskeie uitdagings wat insluit: produkopeenhopings, verskepingsvertragings, arbeidsonrus, en sekuriteitsprobleme.

  • In Oktober 2022 was Transnet gewikkel in ‘n loonarbeidsdispuut met vakbonde wat operasionele werking vertraag het. In 2020, was daar gewelddadige protesaksie en arbeidsonrus wat die hawe ontwrig het.
  • Die COVID-19 pandemie het ook ‘n beduidende impak op die hawe se werking gehad, met vertragings en agterstande wat weens minder personeel en sosiale distansiëringsprotokolle veroorsaak is. Daar was ook wêreldwyd ‘n tekort aan vraghouers.
  • Die hawe het ook die afgelope paar jaar gesukkel met sekuriteit en was die slagoffer van diefstal en vandalisme wat die veiligheid van vrag en werkers geaffekteer het.

Die hawe het ook etlike positiewe ontwikkelings beleef, waaronder nuwe infrastruktuur en weeklikse logistiekvergaderings met bedryfsorganisasies. Lees ook: Industry statement_Ports_Logistics_12Sept2022(FINAL)

 

Back To Top