Appels en pere moontlik duurder in 2023
Deur Elise-Marie Steenkamp
Die onlangse haelstorm in die Langkloof het ongeveer 1500 ha appel-en peerboorde geraak en infrastruktuur op verskeie plase vernietig. Die totale verlies aan uitvoervolumes is in die orde van 1,2 miljoen kartonne. Dit verteenwoordig tussen 20% tot 25% van die Langkloof se normale uitvoer oes.
Die skade aan die meerderheid van die appels en pere is so ernstig dat dit ook nie aan versappingsaanlegte gelewer kan word nie, sê Hortgro se uitvoerende direkteur Anton Rabe. “Dit is volumes wat verlore gaan. Van die vrugte wat wel gered kan word vir verwerkingsaanlegte, moet ongelukkig in ‘n ry staan omdat daar te veel vrugte is en nie genoeg verwerkingskapasiteit nie. Wat jammer is, want verwerkingspryse is goed.”
Die kernvrugseisoen se oesvolumes is in Maart vanjaar aangepas. Vir appels is die uitvoerskatting 8% minder en vir pere is dit 13% minder as in die 2022 seisoen. Beide aanpassings op appels en pere is onder andere ook beïnvloed deur erge haelstorms wat Ceres en die Langkloof aan die einde van 2022 getref het. Die onlangse haelstorm in die Langkloof het gesorg vir verdere afwaartse aanpassings.
Daar word verwag dat Forelle-pere se volumes gaan afneem en dat Suid-Afrika se hoof peerkultivar, Packham’s Triumph, met 7% gaan afneem teenoor die vorige seisoen, skryf Jacques du Preez, Hortgro se hoofbestuurder van markte en handel, in ‘n omsendbrief aan die bedryf.
Volgens Rabe verwag Hortgro dat daar weens ‘n afname in die oesvolumes, ‘n tekort aan appels en pere in die tweede helfte van die jaar op die plaaslike mark kan wees. Dieselfde tendens word in die internasionale markte verwag gegewe laer invoere ook uit ander Suidelike Halfrond lande. “Vrugtepryse moet styg, weens verhogings in insetkoste en strukturele aanpassings. Daar word verwag dat pakmateriaal met ‘n verdere 20% gaan styg, die minimum loon het met net onder 10% gestyg terwyl kunsmis en chemie kostes steeds op geweldige hoë vlakke is. Tesame met die uitdagings van beurtkrag en logistiek in ons hawens, kan produsente bloot nie verdere stygings in inset/produksiekoste absorbeer nie. Die enigste ligpunt is dat die wisselkoers redelik gunstig is, maar tyd sal leer of dit genoeg is om produsente deur die seisoen te trek,” meen Rabe.
Ramphulp
Vrugteboere wat alles verloor het weens ekstreme weersomstandighede kry geen ondersteuning van die nasionale regering nie. Tans val net lewende hawe onder die regering se rampbestuurplan, wat beteken dat net boere met lewende hawe hul kan beroep op hulp van die regering en die verklaring van ’n nasionale rampgebied. Die vrugtebedryf sou graag wou sien dat die nasionale rampbestuursraamwerk hersien word om langtermyn gewasse soos vrugtebome, wat eers teen jaar ses of sewe in vol produksie kom, in te sluit.
“Nuwe aanplantings onder nette kos ongeveer R800 000 per hektaar, en alhoewel sommige boere versekering het, is dit baie duur en bly die skade groot om self te buffer,” sê Mariette Kotzé, Hortgro se operasionele bestuurder. “Die vrugtebedryf is een van die grootste werkverskaffers in landbou met 1.25 permanente ekwivalente werksgeleenthede per hektaar. Die sagtevrugtebedryf beslaan 53 692 hektaar (2021 data).”
Die ekonomiese uitkringeffek van rampe vir die vrugtebedryf word gewoonlik die hardste gevoel deur landbouwerkers. In uiterste gevalle, soos met die onlangse droogte in die Klein-Karoo, word boere gedwing om plase te verkoop wat met werksverliese gepaardgaan, aldus Kotzé.
Onderskrif: ‘n Appelboord wat deurgeloop het tydens die onlangse haelstorm in die Langkloof. (foto verskaf)