
Bernheim herposisioneer as bedryfshub vir die toekoms
Belangrike skuiwe is op pad vir Bernheim, met die fokus om bestaande infrastruktuur, kundigheid en bedryfsbates meer doelgerig vir die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf te benut.
Na verskeie pogings om ’n kommersiële vennoot vir die Weefselkultuurfasiliteit (Tissue Culture Facility – TCF) op Bernheim te vind, het die bedryf besluit om die fasiliteit se rol binne die konteks van die SAPO-virusreinigingsprogram te herstruktureer.
Die nuwe benadering bied die geleentheid om die belegging, infrastruktuur en spesialiskennis wat oor die afgelope vyf jaar opgebou is, steeds optimaal aan te wend.
Die besluit is geneem in die lig van die uitrol van die Plant Improvement Plan (PIP), waar virusreiniging ’n toenemend belangrike rol speel. Weefselkultuur bly ’n kernkomponent van hierdie proses, en die bedryf beoog om die noodsaaklike kundigheid en kapasiteit te behou om hierdie funksie te ondersteun.
As deel van die herstrukturering sal sekere toerusting, asook die kwarantyninfrastruktuur, na SAPO oorgedra en na Fleurbaix verskuif word. Die vermoë om sleutelonderstamme vir kern- en steenvrugte te produseer, sal egter oor tyd behoue bly. Intussen sal die tonnels en nethuise op Bernheim optimaal benut word, met die moontlikheid van interim-verhuring wat ook oorweeg word.
Nog ’n belangrike ontwikkeling is dat die Phyla-laboratorium nou na Bernheim verskuif gaan word. Die oorspronklike plan om die laboratorium by die Universiteit Stellenbosch se Welgevallenproefplaas te hervestig, het te duur geword. Deur dit na Bernheim te skuif, word die bate direk binne die bedryf gevestig en behou.
Die TCF-herstrukturering het ook ’n groter gesprek oor die toekoms van Bernheim aan die gang gesit. Die visie is om oor tyd ’n gesentraliseerde bedryfsfunksies- en dienstehub op Bernheim te ontwikkel, waar gedeelde infrastruktuur en bates benut kan word om waarde vir die hele bedryf te ontsluit. Die bestaande bates sal gebruik word om die ontwikkeling van hierdie projek te help finansier.
’n Taakspan is reeds saamgestel om konsepvoorstelle binne ’n gefaseerde raamwerk teen die einde van Augustus aan die onderskeie direksies voor te lê. Die proses sal onder andere ’n moontlike hersonering van die perseel insluit ter ondersteuning van die langtermynvisie vir Bernheim as ’n strategiese bedryfshub.
Die skuiwe dui op ’n nuwe fase vir Bernheim – een waarin bestaande kundigheid, infrastruktuur en bedryfsamewerking saamgesnoer word om die bedryf se toekomstige behoeftes beter te ondersteun.




