Skip to content
Consumer Quality

Prokon en plaaslike markinspeksiefooie

Deur Anton Rabe

Teenstrydige interpretasies van die regsgeldigheid van fooie wat tot met ‘n onlangse appelhof uitspraak (14 Julie 2021) deur Prokon vir gelewerde inspeksiedienste verhaal is, terugbetaalbaar sou wees wees al dan nie, skep tans verwarring.

Die hofuitspraak handel oor ‘n gebrekkige proses wat voorheen met die bepaling van fooie gevolg is, en nie oor die betaling al dan nie van die fooie self nie.  Dit is Hortgro se interpretasie dat fooie wat tot en met 14 Julie 2021 vir gelewerde dienste gevra en betaal is, nie terugbetaalbaar is nie.

‘n Diens is gelewer en die fooie is geldig soos gefaktureer. Enige fooie vir inspeksiedienste wat gelewer is vir die periode daarna (m.a.w. vanaf 15 Julie 2021), moet wel eksplisiet deur verdere onderhandelinge tussen Prokon en belangegroepe ooreengekom word.

Wysigings met betrekking tot die prosesse wat in die toekoms gevolg moet word, word tans tussen Prokon en die Departement van Landbou (DALRRD) oorweeg.

Prokon het ook reeds met onder andere Hortgro hieroor in gesprek getree—gegewe die kollektiewe ooreenkoms met Prokon vir die inspeksie van steenvrugte (sedert 1 Oktober 2020) en op kernvrugte (sedert 1 April 2021).

Hierdeur word produsente/pakhuise nie belas met fakture vir inspeksies op die plaaslike markte nie. Hortgro Pome en Hortgro Stone betaal derhalwe namens die bedryf vir die inspeksie. Hierdie ooreenkoms is geldig tot 30 September 2021.

Dit was nog altyd Hortgro se standpunt dat gegewe die bederfbaarheid van ons produkte, inspeksie in die handel nie noodwendig sleg is nie en in beginsel ondersteun word, mits sodanige inspeksies koste-effektief, risiko gebaseerd en op ‘n basis van ‘spot checks’ eerder as uitgediende eindpuntinspeksies gedoen word.

Dit is dan ook die kern van die ooreenkoms met Prokon. Die moontlike hernuwing van die ooreenkoms word tans in lyn met die jaarlikse kern-/steenbegrotingsproses heroorweeg en sal met die twee produsenterade gedurende die komende vergaderings in September finaal oor besluit word.

Back To Top