SIZA HELP OPKOMENDE PRODUSENTE MARKGEREED WORD
Deur Elise-Marie Steenkamp
As jy Suid-Afrikaanse vrugte wil uitvoer, moet jy aan sekere vereistes voldoen. Of jy nou ’n mega-produsent, kleiner produsent of opkomende produsent is, die wetgewing en standaarde bly dieselfde.
Een van die hekkies in produsente se pad is etiese- en omgewings volhoubaarheidsoudits. Vir die meeste produsente is dié regulasies en vereistes ’n klippie in die skoen. Oudits verg baie tyd, kennis en insette. Soveel te meer vir opkomende produsente wat min kapasiteit en ondervinding het.
“Wetgewing is wetgewing,” verduidelik Ger-Mari Tesselaar (foto onder), volhoubaarheidsbeampte van die Sustainability Initiative of South Africa, beter bekend as SIZA.
“As jy nie aan die sosiaal-, omgewings- en voedselveiligheidsvereistes voldoen nie, kan jy nie uitvoer nie. Die doel is om die praktyk te meet teenoor die beste belang vir die omgewing, werknemer, produsent en die besigheidsrisiko’s.”
Opkomende produsente wat nog nie voorheen ’n derdeparty-etiese of omgewingsoudit gedoen het nie, kan nou hulp kry by SIZA se kapasiteitsbouprogram. Die program wat in 2016 begin is, word gelei deur SIZA se etiese en volhoubaarheidsbeamptes wat verhoudings met produsente bou en hul help op hul “nakomingsreis om oudit-en markgereed te word” deur te fokus op:
- Evaluering van bestuurstelsels.
- Hulp met die ontwikkeling en implementering van beleide.
- Die handhawing en nakoming van die SIZA-standaarde en die Suid-Afrikaanse arbeids-en omgewingswetgewing.
- Verseker dat produsente selfonderhoudend is om self voort te gaan met hul nakomingsvereistes, sodra dit bereik is.
Volgens Tesselaar, sukkel opkomende produsente dikwels met die kleiner aspekte van die ouditproses. “Hierdie program is baie nodig, want dit is dikwels die detail waarmee opkomende produsente sukkel, soos byvoorbeeld omvattende bestuurstelsels. Die wetgewing en vereistes is kompleks en dis nie altyd duidelik wat van die produsent verlang word nie. Opkomende produsente het reeds baie uitdagings en om dan boonop aan etiese vereistes te voldoen, is baie gevra. Dikwels verdwaal hulle tussen al die papierwerk.”
Daar is nie ’n kortpad nie en die volle program duur ongeveer drie jaar. Tesselaar help opkomende boere stap-vir-stap totdat hulle gereed is vir ’n SIZA oudit en selfs daarna om te verseker dat hulle die program instand hou. Oudits is ’n aanhoudende proses van groei en verbetering, en nie slegs ‘n eenmalige aktiwiteit nie, meen Tesselaar. “Dit moet deel vorm ’n besigheid se bestuurstelsel.”
Aanvanklik het die program net op sosiale oudits (etiese arbeidsvereistes) gefokus, maar mettertyd is die omgewingskomponent bygevoeg soos deur internasionale supermarkte vereis.
“Dit is ook belangrik dat die produsente eienaarskap neem van die proses en hulle kant bring. Die einddoel is dat hulle self ’n derde party oudit kan aanvra sodat hulle aan enige mark, plaaslik of internasionaal, hulle produkte kan verkoop.”
Volgens Tesselaar is die program oop vir enige produsent wat ’n nuwe toetreder tot die landbousektor is. “Daar is nie beperking op ras, geslag of gewasse nie.”
Tot hede, is meer as 50% van die opkomende produsente wat aan die program deelneem vanuit die kern-en steenvrugbedryf. Hortgro lewer verdere tegniese-, finansiële- en bestuurshulp aan opkomende produsente in die kern-en steenvrugbedrywe.