Skip to content

Nasionale Minimum Loon Aangekondig

Na twee jaar se onderhandelinge tussen die partye in Nedlac (met die uitsondering van Cosatu) het adjunk-president Cyril Ramaphosa op 8 Februarie 2017 aangekondig dat daar ooreengekom is op ‘n nasionale minimum loon.

Ofskoon die debat oor die wenslikheid, aldan nie, van ’n nasionale minimum loon, sowel as die bedrag ter sprake, nog lank sal voortduur, en die wetgewing in hierdie verband nog geskryf moet word (en hopelik van die vele onsekerhede  wat bestaan sal opklaar) is daar reeds sekere beginsels bepaal waarvan werkgewers kennis moet neem. Die voorgeskrewe loon is afdwingbaar vanaf 1 Mei 2018.

Bedrag

  • Om voorsiening te maak vir wisselende werksure is besluit om ’n uurloon vas te stel en wel R20 per uur.
  • Dit beteken sowat R3 500 per maand vir ’n 40 uur werksweek en omtrent R3 900 vir ’n 45 uur werksweek.

Infasering

Landbou sal in die eerste twee jaar 90% moet betaal, dit wil sê R18 per uur (huishulpe 75%, d.w.s. R15 per uur). Vanaf 1 Mei 2020 sal die volle minimum loon, soos op daardie stadium geld,  betaal moet word.

Algemeen

  • Besighede wat nie hierdie loon kan betaal nie, en in staat is om dit te motiveer, mag aansoek doen om vrystelling, maar hierdie vrystelling sal slegs vir een jaar geld, waarna die volle minimum loon betaalbaar sal wees.
  • Die minimum loon vir landbou verhoog dus na R15.39 per uur op 1 Maart 2017, en op 1 Maart 2018 na die R15.39 plus die VPI + 1%, waarna die nasionale minimum loon van R18 per uur op 1 Mei 2018 in werking tree. (Indien die inflasie ses weke voor 1 Maart 2018 6% sou beloop, en die 1% daarby getel word, sal die sprong daarvandaan (R16.47 na R18.00) ongeveer 9.3% beloop.)
  • ’n Nasionale loonkommissie sal op gronde van onder andere inflasie, produktiwiteit en die bruto binnelandse produk, besluit op verhogings. Hierdie kommissie sal uit drie verteenwoordigers elk uit besigheid, arbeid en gemeenskapsorganisasies, sowel as vier spesialiste saamgestel word.
  • Om te voorkom dat besighede hulle werksure verkort om die effek van die verhoging teen te werk, sal daar ’n beperking hierop wees. Verder is dit belangrik om daarop te let dat diensvoorwaardes, waaronder werksure, nie eensydig aangepas mag word nie.
  • Verder word sekere vergunnings vir besighede in die vooruitsig gestel, maar die aard hiervan is op die stadium onseker. Dit kan moontlik die vorm aanneem van die huidige jeugsubsidies.
  • Laastens kan verwys word na die mees onlangse landbou-salaris en loonopname wat toon dat werkgewers in die Wes Kaap nie net die minimum loon betaal nie, maar dat die werklike verdienste, op die laagste posvlakke, dit oorskry. Soos bv. was seisoenswerkers (2 966 posbekleërs) se bruto inkomste R3 187 (byvoordele en stukwerk ingesluit) teenoor die minimum loon van R2 778.83.

Ten slotte

Ons vertrou dat die wetgewing oor die nasionale minimum loon binnekort gefinaliseer sal word en die onsekerhede, wat nog bestaan, sal opklaar.

Die goeie nuus is egter dat, tesame met hierdie aankondiging van ons adjunk-president, hy ook aangekondig het dat die partye ooreengekom het op maatreëls om arbeidsgeskille meer effektief op te los en daardeur geweld, intimidasie en beskadiging van eiendom te voorkom, iets wat lank reeds nodig was.

DOWNLOAD PDF

Back To Top