Onmiddellike gevolge van die wateroordrag hofsaak
WATEROORDRAGTE SAAK – WAT IS DIE ONMIDDELLIKE IMPLIKASIES VAN DIE UITSPRAAK VAN DIE APPéLHOF?
Deur: Janse Rabie, Agri SA Hoof: Natuurlike Hulpbronne.
Die appélle tot die Hoogste Hof van Appél in Bloemfontein in die Lötter, Wiid en SAAFWUA-sake wat te make het met die vermoë om water van een eiendom na ‘n ander en van een persoon na ‘n ander te mag oordra is op 8 November 2021 deur die appélhof met koste gehandhaaf. Agri SA befonds die Lötter en Wiid-sake deur sy Vrywillige Waterfonds.
Dit beteken dat die sake suksesvol ten gunste van appéllante beslis is, en dat die Departement van Water en Sanitasie beveel is om die appéllante se regskoste te dra.
Op die spel was die vermoë van boere om watergebruiksregte (of ‘n gedeelte daarvan) te verkoop en te verhandel en dan sodanige regte oor te dra vanaf een plaas na ‘n ander en/of van een persoon na ‘n ander (in samewerking met die Departement van Water en Sanitasie of die waterbestuursinstelling met die nodige gedelegeerde magte) ingevolge artikel 25 van die Nasionale Waterwet.
In 2018, het die Departement van Water en Sanitasie al sy streekskantore opdrag gegee om alle aansoeke vir oordrag van waterregte ingevolge artikel 25 van die Nasionale Waterwet af te keur. Die departement was van mening dat die proses misbruik word deur gevestigde kommersiële boere om water onder mekaar te koop en te verkoop en sodoende opkomende boere uit te sluit (d.w.s privatisering van water in die hande van wit kommersiële boere).
Menige boere/landboubesighede het Agri SA genader om hierdie kwessie te bevraagteken. Verskeie voorgestelde ontwikkelings (insluitend transformasieprojekte) wat staatgemaak het op die vermoë om watergebruiksregte ingevolge artikel 25 van die Nasionale Waterwet te bekom kan moontlik nadelig hierdeur beïnvloed word.
‘n Volbank van die Pretoriase Hoë Hof het die drie sake in Oktober 2019 aangehoor. In daardie sake is die hof gevra om ‘n verklarende bevel te gee rondom die korrekte interpretering van artikel 25 van die Waterwet.
Die uitspraak van die Pretoriase Hoë Hof is in Junie 2020 (bykans 8 maande nadat die saak aangehoor is) gelewer. Die hof het nie ‘ n verklarende bevel gegee soos wat versoek is nie en het teen die beslis dat die aansoekers in wese die bepalings van die Waterwet misbruik het vir eie gewin deur water tot uitsluiting van ander onder mekaar te probeer koop en verkoop. Die Pretoriase Hoë Hof het dus ten gunste van die Departement van Water en Sanitasie beslis, en die partye beveel om die regering se regskoste te betaal.
Die saak is daarna op appél geneem en op 20 Augustus 2021 geargumenteer. Op 8 November 2021 het die meerderheid van die appélhof ten gunste van die appéllante beslis. Die hof het in sy verklarende bevel presies uitgestip hoe artikel 25 van die Waterwet interpreteer moet word. Dit het ook bevestig dat onderliggende transaksies ten opsigte van die verhandeling en oordrag van die watergebruiksregte nie onwettig is nie en ook nie verbied word nie.
In sy minderheidsuitspraak, het Regter Tati Makgoka egter verskil van sy mede-regters en bevind dat ooreenkomste ten opsigte van die oordrag en verhandeling van watergebruiksregte wel teenstrydig is met die bedoeling en strekking van die Waterwet (met ander woorde dat die Pretoriase Hoë Hof korrek was in sy vroeëre bevinding).
Die minderheidsuitspraak van Regter Makgoka het die deur op ‘n skrefie oopgelaat vir die Departement van Water en Sanitasie om die appélhofuitspraak na die Grondwetlike Hof te neem. Die Departement besin tans oor of hy dit sal doen of nie.
Dit is nie heeltemal duidelik wat die grondwetlike gronde sal wees wat die Departement sal aanvoer sou hy die saak deur die Grondwetlike Hof wil laat beslis nie. Die meerderheid van die regters in die Appélhof was dit eens dat die korrekte vertolking en implementering van artikel 25 van die Waterwet geensins diskriminerend van aard is nie.
‘n Vraag bestaan omtrent die geldigheid van die omsendskrywe van die Departement van Januarie 2018 wat die oorsaak van die hofsake was. Alhoewel die omsendskrywe aanvanklik intern en vertroulik was, was dit bindend op beamptes van die Departement toepaslik en het die hulle diskresionêre mag om aansoeke om oordragte in gevolge 25 van die Waterwet van die hand te wys. Vermoedelik moet die omsendskrywe nou eers terug-getrek word (welke terugtrekking waarskynlik ook afhanklik sal wees van of die Departement homself na die Grondwetlike Hof sal wend, al dan nie).
Die regsadviseurs in die Lotter en Wiid sake het reeds die Departement genader in dié verband, veral met die versoek om die aansoeke in die Lotter en Wiid gevalle om die waterregte waarom dit gaan goed te keur.
Vir eers sal daar egter eers gewag moet word op die Departement se besluit om homself te probeer beroep op die Grondewetlike Hof of nie.
Additional reading: Victory in water rights case: https://agrisa.co.za/media/victory-in-water-rights-case