Oom Kampie Vat ‘n Blaaskans
Na 18 jaar by die Suid-Afrikaanse Steenvrugte Produsente Vereeniging (SASPA) waarvan hy vyf jaar die voorsitter was, maak Pieter de Necker hom nou reg vir sy uittrede daar in Oktober. Esté Beerwinkel het met hom gesels oor sy tyd in die vrugtebedryf en wat volgende voorlê.
Wanneer Pieter de Necker om vyf uur soggens wakker word en aansit vir sy Weetbix met net melk, maak hy homself gereed vir die dag en dié se nuwe uitdagings.
De Necker wat in Northcliff, Johannesburg grootgeword het, meen hy was nog altyd lief die natuur en landbou en die konstante evolusie daarvan. Dít is hoekom hy in 1976 na Tulbagh getrek het waar hy sy 39 jaar lange landbou-loopbaan as junior voorman begin het.
“Ek hou van die uitdaging en verandering wat plaaslewe en die landbou bied. Nie een dag lyk presies soos die ander nie. Daar is altyd iets aan die gebeur, ’n nuwe verwikkeling en dit hou my op voete.”
De Necker wat sedert 1979 op die plaas Bersig in Franschoek met hoofsaaklik pruime en sowat 10% pere boer, het ses jaar gelede die hoofbestuur van die plaas aan sy seun Jan oorgegee, maar hy sê dit beteken nie dat hy nou afgetree is nie.
“Ek probeer besig bly en hoewel ek nie meer by die dag-tot-dag bestuur van die plaas betrokke is nie, gee ek tog insae hier en daar. Ek is glad nie afgetree nie, behalwe my werk by SASPA is ek ook voorsitter van die Franschoek Vrugteverpakker en ek is betrokke by dié se filiaal, Franschoek Bemarking (F1).
Die landbou is ’n lewendige bedryf, daar is altyd iets om te doen en dit hou my aan die gang.”
Wanneer De Necker moet sê wat sy hoogepunt oor die 39 jaar was, neem hy groot sluk swart koffie en dink lank.
“Elke jaar is ’n interessante jaar, dit sluit af en begin weer. Die winters en somers was almal anders en elkeen het sy eie hoogtepunt. Dit is altyd ’n nuwe lekker as die bome begin bloeisels dra en jy vir ’n nuwe jaar begin beplan en na ’n punt toe werk.”
’n Laagtepunt, vertel De Necker terwyl hy sy gesig op ’n plooi trek, is wanneer die natuur teen jou draai.
“Die natuur was meestal goed vir ons en ek gaan nie my skade met ander s’n vergelyk nie, maar wanneer die ysreën jou tref, kan dit ’n enorme terugslag wees. ’n Groot les wat ek wel geleer het, was om nie in sak en as te gaan sit nie. Jy verwerk dit, kyk voorentoe en maak ’n hoogtepunt van wat jy het. Anders kan dit jou ondergang beteken. Die hoogtepunte bly altyd ver meer as die laagtepunte, solank jy net aanhou vooruit boer.
“In 1980, net nadat ek Bersig gekoop het, moes ons die Red Gold pruimkultivar verwyder omdat dit van die uitvoermark afgehaal is. Daarna het ons pere ingesit en dit staan nou nog. Wanneer ’n terugslag jou tref kom jy so gou moontlik oor dit en beweeg aan.”
Vir De Necker is dít ook een van die belangrikste rade wat hy aan opkomende produsente wil gee – moenie te gou tou in te gooi nie.
“Landbou is nie ’n maklike bedryf om toe te tree nie. Ek weet dit want ek het nie my plaas geërf nie, ek het skuld gemaak en hardgewerk om my plaas op die been te bring en ’n sukses daarvan te maak.
In die ou dae was daar voorligtingsbeamptes wat deur deur regering aangestel is om produsente raad te gee. Deesdae moet jy jou buurman vra, daar is nie werklik ’n ondersteuningstelsel van die regering af nie. Dié is ’n dinamiese omgewing, en enigiets kan gebeur en jy is op jou eie.”
Volgens De Necker moet opkomende produsente ook besef kennis kraai koning.
“Nuwe produsente móét opleiding en ’n agtergrond in landbou hê, en jy moet jou finansies goed kan bestuur. Jy kry net eenkeer per jaar geld, en dit moet jy die hele jaar lank bestuur. Oorbrug die eerste vyf jaar, kry die plaas op jou naam en staan sterk tot jy kop bo water kan hou.”
Maar kennis en disipline is ook nie die hoofbestandeel in De Necker se landbou-resep nie.
“Enige produsent moet ’n basiese liefde vir landbou hê. Daar gaan probleme kom, maar plaasbou is nie soos tuinmaak nie. Jy kan nie dit opmors en dan na die naaste supermark gaan en nuwe plante gaan koop nie. Jy moet die liefde daarvoor hê om aan te hou bou en boer want dit neem jou baie dae om suksesvol te word.”
De Necker wat in die bedryf geken is vir sy nederigheid en vriendelike geaardheid, word deur Anton Rabe, uitvoerende hoof van HORTGRO, beskryf as ’n legende in die bedryf.
“Pieter het nog altyd die vermoë gehad om die koring van die kaf te skei. Hy het die besondere vermoë om strategies te dink en leiding te gee om ingewikkelde bedryfskwessies in realistiese en praktiese aksieplanne te omskep.”
Rabe meen ook dit is De Necker se se liefde vir die buitelewe en afrit-padritte wat hom die naam “Oom Kampie” besorg het. Hiervoor lag De Necker.
“Baie van my mede-produsente en ook by HORTGRO, noem my almal sommer “Oom Kampie” omdat ek eenkeer by ’n bosberaad disipline wou handhaaf en “Kamp Kommandant” gedoop is. Maar dit is sulke herinnerings wat my dankbaar maak om in die bedryf te wees, want almal is lekker, plat-op-die-aarde mense. Jy bou lewenslange vriendskappe, en ek het dit werklik geniet om met almal te werk.”
André Smit sal die leisels as SASPA-voorsitter volgende jaar by Pieter de Necker oorneem wanneer De Necker sy termyn in Oktober voltooi. Smit dien tans as SASPA-ondervoorsitter en beskik oor ’n breë kennis wat die hortologie en steen- en kernvrugte-bedryf betref. Smit het hortologie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en het by van die toonaangewende vrugteproduserende maatskappye soos die Du Toit-groep, Le Roux-groep en Welgemoed sy loopbaan geslyp. Hy is welbekend in die vrugtebedryf weens sy betrokkenheid by talle forums insluitend die Sagtevrugte Produsente Trust, Frudata, SASPA, die SFJMF, POMASA en HORTGRO.