Skip to content
Untitled

130 jaar later staan Du Toits se vierde generasie sterk

Deur Jacques Dommisse

Die sogenaamde en alombekende derdegenerasie-vloek – ’n fenomeen wêreldwyd dat sommige familiesake dan inplof – is in die 130ste bestaansjaar van die grootliks Ceres-gebaseerde en leidende Dutoit Groep-familieboerdery in die oortreffende trap en met vindingrykheid gesystap.

Hennie du Toit (wat in Junie 45 word), nog ’n familielid van die 4de generasie, is pas as die familiebesigheid se nuwe uitvoerende hoof aangestel. As seun van wyle Jan-Linde en die neef van Pieter senior en Gys senior (die seuns van wyle Gysbertus en dus ook deel van die vierde generasie), is Hennie die nuwe vaandeldraer van die formidabele 4de generasie. Maar hoewel Pieter senior amptelik uitgetree het, sal hy en sy ouer broer, die immergroen-boer Gys senior (wat in April 73 word) – steeds op ’n sterk ondersteunende basis by die besigheid betrokke bly.

Hennie sal in werklikheid ondersteun word deur “die sewe neefs” – almal prominente lede van die familie wat verskillende rolle binne die groter besigheid speel. Dit word alles in ’n milieu van spanwerk en saamwerk gedoen. Die aanduidings is dat Pieter senior ’n ondersteunende rol kan vervul rakende besigheidsbestuur – juis dit wat die groep so uitsonderlik uitgebou het die laaste paar dekades om te verseker dat ’n familieboerdery as ’n besigheid bestuur word op grond van innovasie, pragmatisme en gesonde korporatiewe beheer, terwyl Gys senior sê dat hy nog lank nie klaar is nie met sy “stokperdjie” van genetika, asook produksie.

Die voortgesette sukses van die groep word juis ook toegeskryf daaraan dat hulle ook aan die voorpunt staan van vernuwing deur middel van genetika. Die suksesvolle 130 jaar word gekenmerk aan die aanpasbaarheid by veranderde omstandighede oor die dekades, maar spesifiek rondom die jaar 2000 is besluit op grootskeepse diversifikasie buiten net produksie. Dié beginsel, wat steeds uitgebou word, berus op grootliks drie bene – diversifikasie in produklyne, diversifikasie in kultivars en stroom-af-beleggings in die waardeketting (soos verpakkings-, bemarking- en koelstoor-belange). Daar is kenners wat noem dat die Du Toits die beginsel van “saad-tot-mond” vervolmaak het.

Rakende diversifikasie word as voorbeeld genoem dat hoewel kernvrugte verlede jaar weens hael groot skade gehad het, was daar ’n rekordoes van uie.

Hennie se aanstelling as nuwe groephoof was egter nie ’n gegewe nie. Die familie besef reeds lank dat die “sewe neefs” ’n gerekende wenspan is, daarom was daar oor ’n tydperk van twee jaar informele gesprekke dat ’n familielid weer die leisels moet neem. Dié wens is ook so aan die groep se direksie – wat ook uit sterk onafhanklike sakeleiers bestaan – oorgedra. Tog is die net wyd gespan en oor ’n tydperk van nege maande is ook eksterne werwing gedoen, met die keuse wat op Hennie geval het. Nie net om te lei nie, maar ook om ’n sterk koördineringsrol te speel.

Die noue samewerking binne familieverband het vroeër reeds ’n beslissende punt bereik ten tyde van die politieke oorgang van 1994, toe ’n nuwe daeraad ook vir die Dutoit Groep aangebreek het, met die familieboerdery se vorige praktyk van afsonderlike samewerking tussen neefs, wat met die beginsel van saamboer vervang is. “Myne is myne en joune is joune” het “alles is ons s’n” geword. Familieboerderye het wêreldwyd ’n lang tradisie – waarvan vele in trane en ander soms in die howe tot ’n einde gekom het, maar waar families in Suid-Afrika saamwerk, het hul boerdery ongekende sukses-besighede geword, met die Dutoit Groep wat die hoogwatermerk aandui.

Die Dutoit Groep se kernfokus was altyd appels, maar vandag verbou hulle ’n verskeidenheid van ander gewasse, wat diversiteit meegebring het en verseker dat hulle nie van een produk-lyn afhanklik is nie. Benewens ook pere, kersies, kiwivrug, bloubessies en nektariens, woeker hulle ook met groente en ander gewasse. Dit gee hulle ook buigsaamheid met betrekking tot water. Wanneer hulle groente plant, maak hulle eers ’n berekening om vas te stel of daar genoeg water vir die vrugte is en dan skaal hulle die groente op of af om aan te pas by die beskikbare waterbron.

Dit is juis die waterbron, soos in enige boerdery, wat bepalend is of die boerdery gaan slaag of nie. So het die Du Toits oor die jare net in die Ceres- en meer onlangs in die Langkloof-omgewing tientalle damme gebou om aan die boerdery se behoeftes te voldoen. Wyle oupa Gys (Pieter senior en Gys senior se pa) en sy broer wyle Jan-Linde (Hennie se pa) was dit eens dat hul vermoë om die beskikbare water op die plaas ten volle te benut, die sleutel tot hul sukses is. Albei was van mening dat die deurbraak in die boerdery gekom het toe daar bo in die berge damme gebou is. Die Ceres-distrik lê in ’n winterreënval-gebied en hulle moes ’n plan maak om water op te gaar. In die somer het hulle die warm klimaat benut om groente aan te plant. Die groente kon hulle natlei met behulp van gravitasie-vore wat aangelê is. Hulle het planne beraam om stormwater te kanaliseer. Elke druppel tel.

Die Dutoit Groep het vennootskappe in verskeie maatskappye oor ’n wye spektrum in die varsproduktebedryf. Van die ondernemings is suksesvolle bemagtigingsondernemings. Die voordele wat die Dutoit Groep vir hierdie bemagtigingsondernemings bied, is onder meer marktoegang, tegniese ondersteuning, finansiële ondersteuning en mentorskappe.

Innovering is deel van die DNS van die Du Toits. Omdat ’n besigheid nie durf stagneer nie, is verskeie vernuwende projekte – veral in die Ceres- en Langkloof-omgewing – die laaste dekade ten bedrae van honderde miljoene rande van stapel gestuur, hetsy beleggings in verpakkings- en verwerkingsaanlegte, nuwe grond of groter belange in distribusie-netwerke. Hulle is gedurig besig om nuwe moontlikhede en produklyne te ondersoek en kyk aktief na beleggings geleenthede regdeur die waardeketting, insluitend internasionale geleenthede.

Daar is ’n revolusie met plantmateriaal op pad omdat die tydperk waarin produksoorte verbou kan word met behulp van nuwe tegnologie aansienlik verkort kan word. Die Dutoit Groep staan aan die voorpunt van die revolusie. Die wetenskap behels die verbouing van plantmateriaal wat die optimale kenmerke van ’n produk byeenbring vir spesifieke klimaatsomstandighede, maar ook voorkeure van verbruikers in ag neem, soos die kleur van ’n spesifieke vrug. So het die Dutoit Groep byvoorbeeld die regte vir ’n rooivleis-appel bekom. Omdat verbruikers deesdae na ’n verskeidenheid van faktore kyk wanneer hulle vrugte koop, sorg die Dutoit Groep dat hulle voor bly met tegnologiese ontwikkelings. Dit is juis die rede waarom Gys sê dat hy “nooit sal aftree nie, want dit is net te interessant”.

Die groep se sakefilosofie is heel eenvoudig: Hulle wil ’n produk van die hoogste kwaliteit so vinnig en effektief as moontlik by die verbruiker kry.

Hennie, die nuwe besem, is tog realisties oor die uitdagings in die landbou, soos die beskikbaarheid van elektrisiteit, onmiddellike logistieke uitdagings – soos die gebrek aan houer-verskeping vanuit die Tafelbaaise hawe – massiewe stygings in insetkoste, klimaatsverandering en die politieke kwessies rondom grond en water.

“Ons is ondanks die rooi vlae, wat konstant flink voetwerk vereis, baie positief oor die toekoms van die landbou in ons land. Almal weet die wêreldbevolking groei, met veral die middelklas in sekere wêrelddele wat meer besteebare inkomste het – dus die vraag na gesonde voedsel en vars produkte groei sterk. Ons is deel van ’n bedryf wat voortdurend ’n kernrol gaan speel in die volhoubaarheid van die samelewing. Daar is baie uitdagings in die land, maar steeds meer geleenthede as remskoene,” sê Hennie.

“Ons grootste mededingers in ander lande in die Suidelike Halfrond het in baie gevalle gunstiger handelstoestande waarbinne hulle moet opereer. In meeste gevalle het hulle beter en/of goedkoper marktoegang tot ander lande vir uitvoer en baie ander regerings verskaf subsidies aan hul boere. Ons glo en hoop dat die politici met tyd beter belyn sal raak met die landboubedryf, maar intussen noodsaak dit ons om veerkragtig en innoverend op vele terreine te wees.

“Gegewe die uitdagings moet ons konsentreer op waar ons ’n verskil kan bly maak. Soos om goeie werksverhoudinge op ’n deurlopende basis te handhaaf. ’n Goeie werkomgewing, waar individue ’n goeie verdienste ontvang, persoonlik kan groei en kan ervaar dat hulle ’n betekenisvolle impak maak, bly vir ons kernbelangrik,” sê hy.

Rakende onmiddellike uitdagings soos met kragprobleme, is en word baie kapitaal bestee aan sonpanele en batterye, terwyl logistieke uitdagings bestuur word deur alternatiewe te oorweeg deur hetsy produkte na alternatiewe markte te stuur of Gqeberha of Durban se hawens te gebruik om laat lewering te verhoed. Palette word ook op konvensionele skepe gelaai, weens die vertraging met houervrag in Kaapstad.

Boerdery onder nette het ook ’n gegewe geword weens klimaatsverandering. Die verfyning van die proses van presisie-toediening van kunsmis en bemesting, gevorderde besproeiings-tegnologie, boom-argitektuur (met verbeterde onderstamme en kultivars wat beter bestand is teen die natuur se veranderinge) en organiese kompos bly ’n voortdurende prioriteit. “Omdat ons ’n arbeidsintensiewe besigheid is, sal ons aanhou om in die regte mense te belê, met die gepaardgaande opleidingsprogramme wat sal voortgaan. Dit sluit in om voordeel te trek uit tegnologie, wat help om hande-arbeid meer produktief te maak.”

Rakende die groep se mark-voetspoor in die wêreld, word daar ook daaraan gewerk om dit te verbreed deur die groep se voetspoor  in onder meer Bangladesh, Taiwan, China, Indië en Maleisië uit te brei. Sterk verteenwoordiging deur gesonde vennootskappe in oorsese markte bly ’n prioriteit.

“Een belangrike mededingende voordeel wat ’n familiebesigheid het, is die beginsel van ‘geduldige kapitaal’, want ’n familie se doelwitte is gewoonlik baie lang termyn van aard, met meeste van ons landbou-gewasse wat juis langtermyn-beleggings (20-30 jaar) is. Ons verstaan daar is sterk winde wat ons intussen links en regs kan druk, maar ons visie vir die lang termyn, dus die vaste verwysingspunt  en ’n simboliese Noord-ster – moet altyd die fokus bly.

“Saam met die voordeel van ‘geduldige kapitaal’ moet ’n familiebesigheid ook sorg dat innovasie, waagmoed en entrepreneurskap lewendig bly, anders stagneer ’n besigheid. So, ons gevestigde konsep van ’n kultuur van toetslopies, proewe, probeer, misluk en weer probeer, is alles komponente van ’n volhoubare en groeiende besigheid.

“Ons gaan oor die volgende vyf jaar baie fokus plaas op die aanwending van nuwe tegnologie op pakhuis-vlak om sodoende ons produk-uitsette te verbeter, produktiwiteit en ons uitsette te verhoog, asook bruikbare data te genereer vir beter besluitneming,” noem Hennie, wat nie net ruimskoots die gene van ’n landbouer geërf het nie, maar ook ’n graad in bestuursrekeningkunde en ’n meestersgraad in besigheidsadministrasie verwerf het.

Hennie sê een van die grootste uitdagings post-Covid was in die tydperk 2021/22 tot middel verlede jaar toe insetkoste by die plaashek met sowat 40% toegeneem het. “Dit het geweldige druk op marges geplaas.

Tog sê Hennie dat hy baie opgewonde is om juis in die uitdagende tye die leisels van die Dutoit Groep oor te neem en dat hy terdeë bewus is van die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan. “As deel van die vierde generasie is ek geëerd om die nalatenskap van ons voorouers voort te sit en te help om die besigheid na nuwe hoogtes te neem,” sê hy.

Back To Top