Skip to content
167a1819

AGRI’S GOT TALENT: VRUGTE- EN WYNBEDRYWE SE LANDBOUWERKERS VIER SANGTALENT MET MUSIEKSKOUSPEL

Tien jaar gelede was Anton Rabe, Hortgro se uitvoerende direkteur, op pad erens heen, toe die gedagte hom skielik tref…daar is Idols, America’s Got Talent…hoekom nie ook Agri’s Got Talent nie?

“Ons landbouwerkers het soveel meer om te gee as net om te werk op die plaas of pakhuis. Hulle is ontsettende talentvolle mense.”

Terug by die kantoor het Rabe die gedagte met destydse kollega, Retha Louw, gedeel. “Sy het die projek begin. Aanvanklik klein, maar binne ’n paar jaar het AGT, soos dit vandag bekend staan, gegroei tot die opwindendste projek in Landbou,” vertel Rabe.

Saterdagaand 18 November is tien jaar van AGT by die Taalmonument se amfiteater in die Paarl gevier. Vorige jare se top-tien-deelnemers asook van die wenners, het saamgekom vir ’n landbou musiekfees soos selde gesien.

Bykans ’n duisend mense het die skouspel, wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Hortgro, die Sitruskwekersvereniging, die Suid-Afrikaanse Tafeldruifvereniging (SATI) en SA Wine geborg word, bygewoon.

Die musiekafrigting vir die kompetisie en die konsert word die afgelope tien jaar deur die bekende kunstenaar, Frieda van den Heever, waargeneem.

AGT is meer as net ’n sangkompetisie. Daar word ook sterk gefokus op lewensvaardighede ontwikkeling.

Met die jare het top-tien-deelnemers verstommende mylpale bereik. Ayabonga Mboho, die eerste wenner van AGT, was aanvanklik ’n seisoenale werker. Sedert hy AGT gewen het, is hy al drie keer genooi om oorsee te sing en gee hy vandag musiek by ’n skool in die Paarl. Victor Fredericks, wat in 2018 in die top-tien was, het vandag ’n senior pos op La Plaisante, Wolseley, en het al twee boeke gepubliseer. Jason Baartman, ’n rymkletser het in 2017 tweede plek behaal. Aanvanklik was hy ’n algemene werker, vandag is ’n produksiebestuurder op die bekende plaas Laastedrif, Ceres, wat soveel as 50 werkers in die kwekery en in oestyd sowat 10 plukspanne onder hom het. Baartman is ook deel van die ATKV-Crescendo projek en het al by die Woordfees opgetree.

Buiten persoonlike mylpale, gee AGT-deelnemers terug aan hul gemeenskappe. Nuutgevonde selfvertroue, vaardighede en kennis word met families, kollegas en die gemeenskap gedeel. Hulle word ambassadeurs vir landbou. Hierdie uitkringeffek kan nie ’n geld gemeet word nie, maar bou broodnodige verhoudinge wat landelike stabiliteit bevorder en landbou ’n trotse werkplek maak.

AGT sal in 2024 weer die formaat van ’n sangkompetisie aanneem.

Back To Top