Bedryf verloor groot navorser André de Klerk
Een van Suid Afrika se bekende vrugte- en wingerdplae navorsers, dr. André de Klerk, is op Donderdag 12 Januarie 2023 op 81-jarige ouderdom oorlede.
De Klerk begin sy loopbaan as navorsingstegnikus by Nietvoorbij en konsentreer op twee belangrike ondergrondse plae vir M.Sc en doktorsgraad studies naamlik filloksera en margarodes. Met die taksonomie gedeelte van laasgenoemde studie is die bekende Suid-Afrikaanse margarodes spesies volledig herbeskryf, twee nuwe spesies is ontdek en beskryf, en die resultate is in nege wetenskaplike publikasies gepubliseer.
Gedurende sy navorsingsloopbaan konsentreer hy op kennisoordraging deur die aanbieding van 76 wetenskaplike en populêre publikasies en talle referate by plaaslike en internasionale kongresse vir produsente. Hy verkry ook internasionale erkenning deur uitgenooi te word as spreker by die eerste filloksera kongres in Australië, asook ‘n uitnodiging deur die Wingerdbou-Instituut van Brasilië om vir twee weke daar leiding te gee met hul margarodes navorsing. Die besoek het gelei tot ‘n gesamentlike publikasie tussen Suid-Afrika, Brasilië en Frankryk. Hy het referate by verskeie internasionale kongresse gelewer in Chili, Frankryk, Engeland, Switserland, Griekeland, Duitsland, Argentinië asook Rusland.
Behalwe navorsing was hy ook as Adjunk-Direkteur en hoof van plantbeskerming. Hy het op feitlik alle bestuurskomitees van Nietvoorbij gedien en ook op minstens 15 eksterne komitees as lid of voorsitter ‘n bedryfsbydrae gelewer. Hy was die stigter en voorsitter van verskeie komitees wat alle verbandhoudende navorsing tussen verskeie organisasies en Nietvoorbij gekoördineer het. Die belangrikste hiervan was die virus-navorsingsgroep ( in 1985 gestig) en wat vandag steeds ‘n bydrae lewer om veral oorvleueling van navorsing uit te skakel. Hy het ook gedien op komitees van die Wyn- en Spiritusraad, die Wyndruifverbeteringsvereniging en die Sagtevrugteplantverbeteringsvereniging. Na sy aftrede het hy op versoek van die onderskeie bedrywe as ‘n onafhanklike privaatkonsultant steeds navorsing gedoen.
André de Klerk het sag heengegaan in die Medi-Clinic op Stellenbosch weens ‘n beroerte. Hy laat sy vrou Annette, seuns Chris en Pierre, dogters Anriëtte en Adéle, skoondogters Amanda en Julie, skoonseun Norman, kleinseuns Chris-André, Jean, Louis en Tristan, kleindogter Charlize en broer Anton agter. Die familie hou ‘n privaat begrafnis.
Verdere navrae: Chris de Klerk, E-pos: chris@cadek.co.za