Skip to content
Dean Plaasberge

Bielie-pruime, gebed en harde werk

Teks deur Elise-Marie Steenkamp en foto’s Colin Stephenson

2024 is die jaar wat Dean Barnard altyd sal onthou. Nie net is hy die Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar nie, maar hy pluk ook die wêreld se grootste pruim. ’n Allemintige 484 gram bielie, Autumn Treat variëteit, wat hom ’n Guiness World Record gee.

Terwyl die media toustaan vir onderhoude, stroom die uitnodigings na Landbou geleenthede in. Sy voete is egter plat op die aarde.

Dean skryf “al die seëninge” toe aan harde werk, lewenslesse van sy pa en oupa, en die Here se genade. Daar was ’n tyd in sy lewe wat dinge nie so lekker gegaan het nie. Op skool het hy uitgeblink in rugby en wou professioneel speel. Selfs gedroom van Springbok word.  “Ek was te slapgat,” sê hy pront. “Na skool het ek te veel gekuier en heeltemal uit die bus geval.”

Die plaas was sy toevlugsoord. Hy wou meer doen en het bemarking studeer. Sy redenasie was “ek kan altyd ’n tegniese ou betaal om grondmonsters te neem, maar ek moet weet hoe om my produkte te bemark en ’n besigheid te bedryf.”

Besigheid en bemarking is in sy DNA. Sy oupa, Izak Barnard, het ’n padstal op Waboomskraal, buite George, bedryf. Op kleuterskool het hy sakkies vrugte aan sy maatjies se ma’s verkoop.  Skoolvakansies, wanneer hy nie vir sy pa, Deon, op die plaas gehelp het nie, was hy by oupa se padstal.

Dit is waar hy sy “besigheidsbrein” gekry het. As kind koop hy vir homself ’n visstok en vang vakansies en oor naweke vis. Wat hy weer verkoop. Destyds toe hy op die plaas begin werk het, was sy salaris te min na sy smaak. Hy “koop ’n paar varkies”  en binne twee jaar het hy 113 varke. Tussen 15 en 20 varke word per week geslag, verpak en verkoop. Tjop-tjop.

“Ek is maar net van kleins af ’n regte wheeler en dealer, seker maar instink, maar my oupa het ook ’n groot aandeel gehad.”

Dean Familie
Die Barnards van Oppie-plaas. Mariaan, Deon, Dean, Wean, Carla en Deanca.

Familieboerdery

Dean is baie dankbaar dat sy pa vir hom die geleentheid gegee het, om saam met hom te kom boer. Hy het ’n kleintjie dood aan ouens wat die geleentheid kry en dan teen hulle pa boer. “Mens hoor mos altyd die stories van familie konflik as die seun plaas toe kom. Ek sien dit anders. Jy het ’n helse geleentheid om by jou pa te leer. Dis ’n voorreg. Niks kom jou toe in die lewe nie. Jy moet respek hê vir die dinge waar deur jou pa is.”

Dean onthou ’n tyd toe sy pa die werkers aan die einde van die week betaal het en daar nie geld vir kos was nie. “My ma moes in George gaan werk, sodat ons kon eet en sodat my pa die plaas aan die gang kon hou. Ek is dankbaar dat die Here my ouers gespaar het en vir dit wat hulle vir my en my suster geleer het.”

Hoewel hulle plaas maar klein is, glo Dean in die waarde van kleinboere, werkskepping en die stabiliteit wat dit in landelike gemeenskappe bring.

“Eintlik is ’n familie-boerdery, veral op kleinskaal, ’n komplekse en unieke besigheid. Daar is niks geld van buite nie. Jy moet alles self doen, self koop, self werk.”

Toe Dean in die plaas ingekoop het, was alles in sy pa se naam. “Ons het lang gesprekke gehad en na verskeie opsies gekyk. ’n BK is gestig, sodat die boerdery heeltemal op sy eie is. Daar is ’n trust geskep en sekere goed behoort nog aan my pa. Die maatskappy huur grond en implemente by hom. Gesonde besigheidsbeginsels verlig die finansiële druk en uiteindelik wen almal.

“Ek is baie gelukkig. Selfs nadat ek die bestuur van die boerdery oorgeneem het, is my pa steeds daar om raad en rigting te gee. Hy het soveel eienskappe wat ek bewonder. Hy is ’n go-getter en motiveer jou. As ek maar net die helfte van sy geestelike geloof en deursettingsvermoë gehad het…”

Destyds toe hulle daaraan gedink het om pruime te plant het mense gesê dat hulle die vrugte vir die bobbejane plant. Daar was twyfel. Toe, een oggend, lees sy pa in die Bybel en bid daaroor. “Hy het daardie oggend by my gekom en gesê die Here gaan ons gesaaides beskerm. Ons plant pruime.”

Vandag is daardie boord, naaste aan die koppie waar die bobbejane boer, in sy negende blad. Die boord is nog nooit deur bobbejane verinneweer nie. “Hulle maak amok in die pekanneutboord net langsaan, maar die pruimboord los hulle uit. Ek glo dit word beskerm.”

Dis iets wat hy graag vorentoe wil neem in sy eie lewe – sy pa se geloof. “Ek het regtig slegte tye in my lewe gehad…sonder die Here se genade, sou ons nie vandag hierdie gesprek gehad nie.”

Hierdie lesse wil hy ook oordra aan sy kinders, Deanca (13) en Wean (11). “Hulle moet weet sonder harde werk kom mens nêrens in die lewe nie. Dis daardie tyd wat jy insit na vyf, wanneer almal huis toe gaan en voor sewe wanneer ander begin werk, wat sukses bring.”

En Oppie-plaas word soos ’n besigheid bedryf. Buiten die hops, pruime, pekan-en amandelneute is daar ook ’n trou venue, ’n plaaswinkel en tuisnywerheid wat vars produkte aflewer. Sy ma, Mariaan, doen steeds die boeke en sy suster, Jeanine, wat ook met ’n boer getroud is, behartig die skoolkafeteria by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn.

Die trou venue het Dean veertien jaar gelede begin en dit word vandag deur sy vrou Carla bedryf. Destyds het hy soggens vroeg en saans laat “met die bruide” gepraat en e-pos geruil. Hulle het meer as 300 troues op hul kerfstok. Vir bruide is hy nie bang nie. Hy is ’n mense-mens. Die troues het hom baie oor mense vaardighede geleer en hoe om mense vinnig op te som. “Ek geniet dit regtig. Ek is persoonlik daar, knoop geselsies aan en maak seker dat mense hulself geniet en dat alles reg is.”

“Een van my slegter eienskappe is om nie maklik werk oor te gee nie. Ek soek altyd fout en foute moet reggemaak word. Ek glo as mens iets aanpak, gee jy alles. Jy hou aan tot jy sukses behaal.”

In Landbou is sukses ’n wankelrige begrip. En dis juis waar die pruim storie begin, toe dinge nie so goed met die hopsbedryf gegaan het nie. “Ons het ’n paar gewasse ondersoek en op pruime besluit. Ons het ’n baie groot kans gevat en sommer 5.6 hektaar met die intrapslag aangeplant.”

Met goeie advies van tegniese adviseur Jacques du Toit en die unieke mikroklimaat van Waboomskraal het hierdie waagstuk letterlik vrugte afgewerp. Die boorde teen die hellings, wat namiddag koue seewind kry, skep ’n mikrokosmos waarin pruime floreer.

Oor die algemeen is hulle vrugte groot, sê Dean, maar dit is Autumn Treat variëteit wat uitstaan. “Ons het soms tot 450 vrugte aan een boom. Dis te veel. Maar ek kan nie waag om dit uit te dun nie, want dan is die vrugte nog groter. Ons los die bome maar uit.”

Volgens Dean is Waboomskraal beroemd vir kwaliteit groot vrugte en groente. Dertig, veertig jaar gelede het mense van die Oos-Londen se mark reeds geweet van dié streek se uitskieter vars produkte.

Die pruimsukses noop hom om van die neutaanplantings uit te trek en nog pruime te plant. Uiteindelik wil hy 14 hektaar pruime hê.

“Sedert ek die toekenning gekry het, kyk ek anders na boerdery. Dit het my kop kwaai aan die dink gesit. Voorheen was ek bang om groter te gaan, maar die oogklappe is af. Ons is net ’n sekere tyd hier op aarde. Ons boere moet help werk skep. En pruime benodig arbeid. Voor die pruime, was daar vier permanente werkers op die plaas. Tans is daar 30 semi-permanente werkers en in seisoentyd kom nog 30 by.

Afrika se bevolking gaan teen 2050 verdubbel en ’n groot persentasie gaan jong mense wees, sê Dean. “Jong mense wat kos en werk nodig het. Daar is groot geleenthede in Afrika.”

WGR Plum On Scale Kristy Kolberg Georgeherald Resized
In die rekordboeke, ‘n bielie van 464 gram. Die pruim het 20 gram meer gewig toe hy aanvanklik gepluk is. (Foto: Kristy Kolberg/George Herald)

Raad vir nuwe toetreders

Dean meen baie ouer manne is geneig om hul kaarte teen hul bors te hou. “Vandag se jongboere deel maklik en graag. Ons jong manne moet mekaar help. Daar is so min boere in die land oor. Moenie jou buurman as kompetisie sien nie. Daar is soveel wat Landbou moeilik maak in Suid-Afrika. Deur mekaar raad te gee en te ondersteun kan almal presteer en dan wen Landbou. Veral die kleiner familie-boerderye het ’n belangrike rol om te speel in landelike stabiliteit.”

Dean se raad aan nuwe toetreder is om nie bang te wees om kanse te vat of vir harde werk nie. “Steel met jou oë en moenie bang wees om na ander boere uit te reik nie. Probeer die uitskieters in jou omgewing bevriend en vra hul raad.

“Respekteer die mense vir wie en saam met wie jy werk. Moet nooit sleg praat van die ou wat jou voed nie, want dan is jy reeds op die verkeerde pad en in die verkeerde bedryf.”

Laastens moet jy glo. Op Oppie-plaas word daar met elke aanplanting gebid. “Ons het ’n 98% vat persentasie. Dit is verskriklik hoog. Ek skryf dit toe aan gebed.”

En wat het van die bielie-pruim geword?
“Ons het hom geëet!” lag Dean. “Die pruim is al op 27 Maart geoes en so goed moontlik in ’n koelkamer bewaak. Teen die tyd wat hy amptelik deur die Guiness World-span gemeet en geweeg is, het hy reeds 20 gram vog verloor, so die rekord dui die pruim as 464 gram aan. Dit was steeds ’n knewel – knusperig en heerlik soet.”

Op Oppie-plaas is daar nie suur pruime nie.

Back To Top