Cape Flora maak ‘n verskil

Deur Glenneis Kriel

Deur hulle nie vas te staar aan die grootte van besighede nie, gebruik Cape Flora innoverende maniere om die drome van kleinskaalse fynbos entrepreneurs te help bewaarheid. “Ons fondse is taamlik beperk, so ons strategie is om die potensiaal van entrepreneurs te ontsluit deur hulle te bemagtig met inligting en sterk netwerke,” sê Jacky Goliath, Cape Flora SA se direkteur wat verantwoordelik is vir hul transformasie portefeulje.

Met die doel, het Cape Flora verlede Maart ’n inligtingsessie aangebied wat deur bykans twintig potensiële kleinskaalse fynbos entrepreneurs bygewoon was. Bywoners het tydens die eerste dag ’n fynbosplaas, kwekery en pakhuis naby die lughawe besoek om die werking en geleenthede regoor die waardeketting te beskou. Bedryfskundiges het tydens die tweede dag tegniese informasie gedeel oor die kweek, produksie, plaag- en siektebeheer sowel as markgeleenthede in die bedryf.

’n Groot behoefte vir besigheidsopleiding was tydens die sessie geïdentifiseer, wat Cape Flora aangespreek het met ‘n opleidingsessie wat in September verlede jaar deur die besigheidsguru Basil Myners aangebied was.

“Aangesien ek self ’n entrepreneur is, besef ek dat ons ingrypings net vrugte sal werp as die besighede waarin ons belê op gesonde besigheidsbeginsels gebou is – van die beplanningsfase en kontantvloeibeheer tot volhoubare besigheidspraktyke, wetlike produksie verpligtinge en die bestuur van personeel,” sê Jacky.

Aspirant produsente

Cape Flora se intervensies is besig om ’n verskil te maak. Theo Adams, wat naby Harold boer, het net die eerste inligtingsessie bygewoon, maar dit was genoeg vir hom om ‘n mark vir sy toekomstige produksie te vestig. Cape Flora het ook na die sessie, Theo gehelp om sy eie plantasies the vestig deur konsultasies met die bedryfskundige, Dr. Gerhard Malan, te befonds.

Theo-hulle se plaas was onder hops toe hulle dit gekoop het, wat hulle met inheemse gewasse soos heuningbos en fynbos wil vervang om saam te smelt en in te pas by die natuurskoon van Harold. “Met Gerhard se leiding het ons twee hektaar fynbos in September geplant en beplan ons om nog vier hektaar vanjaar te plant,” sê Theo.

Die inligtingsessie het Elizabeth Hartzenberg, bekend as Libbie aan haar vriende, geïnspireer om haar besigheid na die volgende vlak te vat: “Ek het in 2015 ’n plaas naby Hopefield gekoop en aanvanklik my kostes gedek deur varke op kleinskaal groot te maak. My belangstelling in fynbos het begin toe my paaie die van ’n fynbos entrepreneur gekruis het. Bywoning van Cape Flora se inligtingsessie en blootstelling aan die waardeketting het my laat besef dat ek ’n sukses uit dié besigheid kon maak.”

Elizabeth het daarna die fynbos, wat oorvloedig natuurlik op haar land groei, begin pluk en aan ’n handelaar verskaf, asook Cape Flora genader om hulp met die vestiging van haar eie plantasies. Cape Flora het grond en water ontleding befonds om die geskiktheid daarvan te bepaal vir fynbos produksie en ook die beste variëteite te identifiseer wat by haar produksie toestande sou pas. Konsultasies met Dr. Gerhard is ook befonds om te verseker dat sy op die regte pad is van die begin van haar produksie loopbaan.

“Ek is reg om vyf hektaar te plant, maar sal ’n omgewingsimpakstudie moet laat doen as ek meer wil plant. My droom is om in die uitvoermark in te breek en sodoende werk te skep in Hopefield sodat die plaas ’n veilige hawe kan raak vir veral vir vrouens,” sê sy.

Elizabeth het ook groot voordeel getrek uit die besigheidsopleiding: “Ek was werklik nie bewus van al die hulpmiddels wat beskikbaar is om klein besighede te help om hul potensiaal te ontsluit en die verskeie maniere waarop besighede hulle bemarking kan verbeter nie.”

Plukspanleiers

Die besigheidsopleiding het vir Loretta Afrikaner van TJ Agulhas Flowers, weereens die belangrikheid van volhoubare pluk praktyke op die lewensvatbaarheid van ’n pluk besigheid beklemtoon.

“Een van die eerste goed wat ek gedoen het toe ek terug by die huis kom, was om die fynbos bedryf se riglyne vir volhoubare ontginning van wilde fynbos met my personeel deur te werk om te verseker dat ons almal op dieselfde bladsy is. Fynbos is ons enigste inkomstebron. Sonder blomme om te pluk sal ons sonder werk sit,” sê sy.

Om haar besigheid ’n hupstoot te gee, het Cape Flora haar voorsien van R25 000 se snoeiskêre en uniforms vir haar span.

Loretta het haar eie pluk besigheid in 2016 begin, nadat Flower Valley Conservation Trust iemand gesoek het om ’n onafhanklike span plukkers te bestuur wat fynbos by Flower Valley naby Gansbaai pluk. Haar plan vir nou is om ’n nuwe bakkie te koop, sodat sy die pluk span, wat tans uit twaalf werkers bestaan, kan uitbrei en meer blomme aan handelaars kan verskaf.

“Ek moes ontslae raak van een van my twee bakkies in 2016. Dit het uitmekaargeval en was te duur om reg te maak nadat die enjin gebreek het.”

Wat vir Leslie-Ann Pieters van Pieters Flowers uitgestaan het van die besigheidsopleiding, was die belangrikheid daarvan om doelwitte op papier neer te skryf en om ‘n goeie besigheidsplan op te stel, veral as jy toegang tot befondsing wil kry. Sy het ook waardevolle netwerke tydens die sessie opgebou.

Cape Flora het na die opleidingsessie verskeie Whatsapp groepies gestig om entrepreneurs toe te laat om idees uit te ruil, uitdagings te bespreek en maniere te vind om by mekaar baat te vind. “Dit is fantasties. As jy te veel van ’n produk het, kan iemand, byvoorbeeld, dit by jou koop om waarde toe te voeg tot hulle bestaande produkte. So kan ons mekaar help om te groei,” sê Leslie-Ann.

Cape Flora het haar ook gehelp met R27 000 se skêre asook masjiene wat help met die bind en etikettering van die blomme. “In die verlede moes ek elke etiket met die hand tik en uitdruk en dit dan met kleeflint aan die verpakking van die blomme plak. Die self-plak etikette is baie vinniger en laat my blomme baie meer professioneel en gesofistikeerd lyk,” sê sy.

Leslie-Ann het Pieters’ Flowers saam met haar man in Julie 2018 begin, nadat sy gevoel het dat sy ’n plafon bereid het by ’n fynbos besigheid waar sy vir meer as tien jaar gewerk het. Sy het toe ’n pluk permit gekry om fynbos in Elim te pluk, wat sy aan plaaslike handelaars verskaf het, wat begin het by die blommeverkopers in Adderley straat in Kaapstad.

Lelie-Ann het in November ’n Chinese uitvoerder via Cape Flora ontmoet, deur wie sy nou blomme in China verkoop. “Die fynbos is goed ontvang in China en die uitvoerder het vir my foto’s gestuur sodat ek die vraag in die mark beter kan verstaan. Waar die Europeërs blomme wat natuurlik lyk verkies, hou die Chinese van helder kleure,” vertel sy.

Leslie-Ann het groot drome vir die besigheid: “Daar is Engelse gesegde: “Go big or go home”. Wel, ek wil nie huis toe gaan nie, ek wil groot gaan. Ek werk hard om my netwerke te bou en by die regte mense uit te kom sodat ek eendag my eie grond kan koop en fynbos kan plant om werk te skep en ’n verskil aan Elim se ekonomie te maak.”

Groep

Onderskrif: Cape Flora SA se groep kleinboere wat  ’n entrepreneur ontwikkelingsessie in die Paarl op 26 September 2018 bygewoon het. Die groep vindingryke kleinboere is van Gouda, Elim, Stanford en George.

Recent Posts

Leave a Comment

Contact Us

Get in touch!

Not readable? Change text. captcha txt
ArgusPicture 2